Ek twyfel aan my geloof

Ek twyfel aan my geloof

Niemand hou daarvan om te twyfel nie. Twyfel destabiliseer ons en ons doen alles in ons vermoë om dit te vermy. Dit geld veral vir geloofsake. Twyfel en geloof kan nie saam bestaan nie – dit is of die een of die ander. As jy twyfel moet jy daarvan ontslae raak. Ons weet tog dat twyfel lei tot onaanvaarbare optrede soos depressie, geïrriteerdheid en stres.

Dit is duidelik dat God wil hê dat ons van alle twyfel ontslae moet raak. Reg? Verkeerd.

 

Daar is voordele in twyfel. Twyfel is ‘n gawe van God, want dit beteken dat ons nie meer op onsself vertrou nie, maar op Hom. Twyfel dwing ons om weer vas te stel wat ons van God glo. Dit kan nogal ontstellend wees. Dan sien ons dat ons God na ons eie beeld gevorm het – nie andersom soos dit hoort nie. Twyfel lei ons na ‘n nouer verhouding met God waar Hy en nie ek in beheer is.

As jy twyfel vra vir God wat Hy besig is om jou te leer – van Hom en van jouself. As jy die Bybel lees – Psalms, die Prediker, Job en ander – sal jy sien dat jy nie die enigste een is wat twyfel nie. Hier sien ons hoe hierdie proses van destabilisering lyk. Om deur hierdie twyfel-tye te gaan – nie om hulle nie –  lei dikwels tot geestelike diepgang.

Die Christen se lewe is ‘n reis. Soms kom daar dinge in jou lewe wat jy nie verwag het nie of waarvan jy nie hou nie. Nou begin jy twyfel. Dit is nie die einde van jou geloof nie … dit is die begin van jou geloofsreis.

Om ‘n Christen te wees, beteken nie dat ek van alles seker is nie. Twyfel in die lewe van ‘n Christen is normaal. Juis as dit lyk asof God afwesig is, praat Hy baie duidelik met jou. Dan besef jy dat geloof ‘n reis is waarin God jou verder wil neem.