Ek verskil van ander Christene

image_pdfimage_print

 

“Holiness is the habit of agreeing with God” —  J.C. Ryle.

 

Ek verskil van ander Christene

In Romeine 14 kry ons ‘n paar beginsels wat ons moet toepas as ons van ons broers verskil.

  1. Verwelkom diegene wat van jou verskil (14:1 – 2)

As ons verskil oor sake wat nie onenigheid in die gemeente behoort te veroorsaak nie, het ons gewoonlik twee groepe: diegene wat swak in die geloof is en diegene wat sterk in die geloof is. Diegene wat swak in die geloof is se gewete pla hulle oor die spesifieke saak. Geloof hier gaan oor die vertroue wat ‘n persoon in sy hart of gewete het om ‘n besondere ding te doen. Die persoon wie se geloof swak is, het nie die vertroue om dit te doen nie. Ons moet Paulus se oproepe op beide dié met swak en dié met sterk geloof gehoorsaam. Hoekom? Daar is gewoonlik mense in beide groepe om jou en jyself het gewoonlik ‘n sterk gewete oor sekere dinge, maar ‘n swak gewete oor ander dinge.

 

  1. Diegene wat vryheid van hulle gewete het, moenie op ander neerkyk nie (14:3)

Die sterkes kyk gewoonlik neer op die swakkes. Hulle glo dat die swakkes nie die vryheid wat ons in Christus het, verstaan nie; hulle is nog onvolwasse. Paulus verdoem hierdie gesindheid van meerderwaardigheid.

 

  1. Diegene wie se gewete hulle beperk moenie diegene wat vryheid het, veroordeel nie (14:3 – 4)

Mense met ‘n swakker gewete veroordeel dikwels diegene wat vryer is. “Hoe kan jy ‘n Christen wees en sulke dinge doen?”

Paulus gee twee redes waarom hierdie twee gesindhede sondig is:

  • God het hom aangeneem. Ons kan tog nie iemand veroordeel wat God aangeneem het nie.
  • Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? As jy op iemand neerkyk, tree jy op asof hy jou bediende is. Maar God is die Here en daarom moet jy jou medegelowige verwelkom.

 

  1. Elke gelowige moet in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting (14:5)

In sake waaroor gelowiges verskil moet jy jou gewete volg. Ons moet ons gewetes kalibreer dat hulle beter by God se wil inpas. Hierdie geld natuurlik nie vir die kernaangeleenthede van ons geloof nie. Daar mag ons nie van mekaar verskil nie.

 

  1. Aanvaar dat ander deelneem of hulle weerhou vir die heerlikheid van God (14:6 – 9)

Paulus aanvaar dat beide kante hulle vryheid of beperkings vir die heerlikheid van God uitoefen. Sal dit nie wonderlik wees as ons vir ander die voordeel van die twyfel gee waar ons verskil nie? Paulus sê dat beide die swakkes en sterkes God kan tevrede stel ten spyte van hulle verskille.

 

  1. Moenie ander oor hierdie sake oordeel nie, want eendag gaan ons almal voor God se regterstoel staan (14:10 – 12)

As ons aan ons eie posisie voor God se regterstoel dink, sal ons nie so gou oordeel nie. Laat God die regter oor ander wees.

 

  1. Jou vryheid om vleis te eet is reg, maar moenie dat jou vryheid die geloof van ‘n swak broer vernietig nie (14:13 – 15)

Christene het verantwoordelikhede teenoor mekaar. Ons moenie ons siening op ander afdwing nie. Dit is verkeerd om ‘n ander persoon se gewete te bind aan iets wat God nie uitdruklik beveel nie.

 

  1. Verskille oor eet en drink is nie in die koninkryk van God belangrik nie (14:16 – 21)

Wat wel belangrik is, is dat ons mekaar opbou in gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde. Wat ons eet is nie vir God belangrik nie. Jesus het alle kos rein verklaar.

 

  1. As jy vryheid het, moenie daaroor spog nie (Romeine 14:22a)

As jou gewete stek is, moenie daaroor spog op so ‘n manier dat ander daardeur sondig nie. Mense met ‘n swak gewete moenie ander polisieer nie en verwag hulle moet dieselfde streng standaarde handhaaf nie. Dit is ‘n saak tussen jou en God.

 

  1. Die persoon wat volgens sy gewete lewe, is geseënd (14:22b – 23)

God het aan ons die gawe van ‘n gewete gegee sodat ons vreugde kan ervaar as ons sy gebooie gehoorsaam.  Ons gewete beskerm ons voortdurend teen die sonde wat ons vreugde steel.

 

  1. Ons moet die voorbeeld van Christus, wat ander eerste geplaas het, volg (15:1 – 6)

Ons kan ons nie indink in die voordele en voorregte wat aan die Seun van God in die hemel behoort het nie. Christus het sy voorregte en vryheid opgegee om ‘n dienaar te word. In vergelyking met Christus se lyding aan die kruis, is dit wat ons moet opoffer maar min.

 

  1. Ons verheerlik God as ons mekaar aanvaar soos Christus ons aanvaar het (15:7)

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Dit is belangrik hoe ons diegene wat van ons verskil behandel. As jy hulle aanvaar soos Christus jou aanvaar het, eer jy vir God.

 

 

image_pdfimage_print