Ek verwerp God se plan

 

An unforgiving heart is an unforgiven heart. —Tim Keller

 

Ek verwerp God se plan

Die ware profeet is nie ‘n spreekbuis vir die openbare mening nie. Hy is ook nie ’n spreekbuis vir die rykes en diegene met gesag nie. Daarom word nog Johannes nog Jesus deur almal in Israel verwelkom. Toe Simeon die kindjie Jesus in sy arms hou en vir Hom en sy ouers geseën het, sê hy: Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word (Lukas 2:34).

 

Diegene wat Johannes die Doper se oproep tot bekering en Jesus se aankondiging dat die koninkryk van God naby is, verwerp, sal fout vind met God se boodskappers. Wat hulle eintlik probeer doen, is om God se wil te laat ooreenstem met hulle eie wil. Hulle erken nie die soewereine wil van God nie; hulle wil vir God voorskryf. Hulle mag God se plan verwerp, maar hulle vernietig dit nie.

 

Hierdie opstandige mense was nie buite die kerk nie. Ons kry steeds dieselfde foutvindery en voetslepery in die kerk. Daar is steeds mense wat altyd wil hê dat hulle wil in die gemeente moet geld. Hierdie kleinlike stryery in gemeentes dwing ongelowiges om hulle rug op die kerk te keer. Daar is steeds mense in ons gemeentes wat God se plan vir die wêreld probeer dwarsboom deur  hulle magstryde en rugstekery.