Ek wil graag bevestig word.

 

A profession of faith doesn’t justify anybody. It’s the possession of faith that justifies.—R.C. Sproul

 

Ek wil graag bevestig word.

Meeste van ons is soms skuldig daaraan dat ons graag bevestig wil word. Dit is maklik om in hierdie strik te trap. Wat beteken dit in die praktyk? Dit gebeur as jy ‘n siening oor iets, of sekere mense het en dan soek jy bewyse om jou siening te ondersteun en verwerp enige bewyse wat dit verwerp.

 

As ek glo dat vrouens slegte bestuurders is, sien ek net die gevalle waar vrouens sleg bestuur, raak. Dit versterk net ons siening verder. Ons sien nie gevalle raak waar vouens goed bestuur nie. Alles versterk net ons vooroordeel. Dit staan as selektewe aandag bekend.

 

Hierdie vooroordeel vir bevestiging is ‘n bron van baie van ons hedendaagse probleme. As ons ‘n siening of stereotipe gevorm het, beklemtoon ons voorbeelde om hierdie siening te bevestig. Ons sien hierdie vooroordele op baie gebiede: politiek, ras, geslagte … en godsdiens. Ons word aangetrek na organisasies wat ons oortuigings net verder bevestig. Hierdie soeke na bevestiging kan vernietigend wees – dit trek ons siening van die waarheid skeef; ons word rigied en nie oop vir ootuiging nie. Dit verdeel families en gemeentes onnodiglik.

 

Hoe verminder ons hierdie behoefte aan bevestiging? Wees daarvan bewus dat almal van ons maklik in hierdie strik kan trap. Benader dinge met ‘n oop gemoed; besef dat jy dalk verkeerd mag wees. Wees oop vir ander idees of mense met ‘n ander siening. Probeer hulle werklik verstaan. Om jou vooroordele te erken, is die eerste stap.

Human kind cannot bear very much reality (T. S. Elliot)