Ek wil mense oorreed

No man ruleth safely but he that is  willingly ruled – Thomas a Kempis

 

Ek wil mense oorreed

In hierdie tydperk van die wetenskap en tegniek is alles wetenskap en tegniek en kan alles deur wetenskap en tegniek opgelos word. Ons het by geleerdes gehoor dat ons alle absolutes en sekerhede moet vermy – ons moet oor alles skepties wees. Maar dan draai hulle om en sê ons moet onbevraagtekende vertroue in kundiges, spesialiste en gesaghebbendes hê. Die belofte is dat die volgende nuwe ding die beste ooit sal wees. Die versoeking is dat ons oorreding kan bemeester en dit reduseer tot ‘n tegniek en dit bemark as iets wat die wêreld teen môremiddag sal oorwin. Daar is geen McTeorie as dit by oorreding kom nie.  Om oorreding weer terug te kry, sal nie maklik wees nie. As ons wil slaag, moet ons ons ore vir tegniek sluit. Daar is drie dinge wat noodsaaklik is.

 

  1. Nie net een pad nie

Vir alles wat die moeite werd in die lewe is, is daar baie selde net een pad om dit te doen. Daar is nie net een regte manier om oorreding te doen nie. Daar is nie een benadering wat vir almal werk nie. Die rede is eenvoudig: die lewe is meer as rede en daarom kan dit nooit deur rede alleen verduidelik word nie. Rede is belangrik en waardevol, maar daar sal altyd dinge wees wat jy nie kan verduidelik nie – al probeer ons hoe hard om alles te laat inpas.

 

Dieselfde geld vir apologetiek – geen enkele metode sal almal pas nie, want elke persoon is anders en elke metode sal iets mis. Jesus het nooit met twee mense op dieselfde manier gepraat nie – en ons moet dit ook nie doen nie. Elke persoon is uniek en verdien ‘n benadering wat sy uniekheid respekteer.

 

  1. ‘n Kuns, nie ‘n wetenskap nie

Ooreding het meer met teologie as tegnologie te doen.

  • Kreatiewe oorreding beteken ek is Bybels en nie modern of postmodern nie. Die Bybel is dié storie. Dit heg waarde aan die waarheid en rede sonder om modernisties te wees; dit waardeer al die stories binne die groot oorkoepelende storie sonder om postmodern te wees. Egte Bybelse argumente werk in elke ouderdom en persoon. Modernisme en postmodernisme het beide voor- en nadele. Christelike oorreding moet te alle tye Bybels en holisties wees – getrou. Die Bybel heg baie waarde aan die waarheid en argumente sowel as aan stories, drama, gelykenisse en gedigte. Dink maar net aan Romeine, die psalms en Jesus se gelykenisse. Stories is die kern van die Bybelse siening van kreatiewe oorreding, maar nie ten koste van die rede of argument nie. Die diepe logika van God se waarheid kan in beide stories en argumente, deur rede en verbeelding, deur die vier evangelies en Romeine uitgedruk word. Daar is ‘n tyd vir stories en ‘n tyd vir rasionele argumente. Ons moet weet wat om wanneer te gebruik.
  • Kreatiewe oorreding is die kuns van die waarheid, die kuns wat die waarheid inspireer. As iemand net vir tegnieke, resepte, hoe-om-te metodes soek om iemand te oorreed, sal hy teleurgesteld wees. Daar is nie so iets nie. Die soeke na so iets is verstaanbaar. Daar is mense vir wie geen hoeveelheid bewyse enige aanspraak sal bewys as hulle vasberade is om die aanspraak te ontken nie. Metodes wat dwingbaar is, is gevaarlik, want hulle werk op die wil sonder om die denke te oortuig. Breinspoeling is ‘n voorbeeld van ‘n dwingbare metode. Die tyd van tegnologie en tegniek is die tyd van eindelose metodes, formules, resepte, seminare, twaalf-stap programme en die gedurige aanloklikheid van doeltreffendheid. Ons kan nie oorreding deur tegnieke leer nie, want dan val ons in die lokval van oorreding te reduseer tot rede.

 

Tegniek is gewoonlik net doeltreffend in lae vlakke van die lewe. Sodra ons in die hoër vlakke van menslike vaardigheide – soos leiding van ‘n span – kom, is die vaardighede wat vereis word meer ‘n kuns as as ‘n wetenskap. Miskies is dit waarom Jesus nooit ‘n boek geskryf het nie. Jy leer van die Meester onder sy gesag en in ondervinding langs die lewenspad. Jy leer dus beter van iemand wat alles ondervind het as uit ‘n boek. Met die dieper dinge in die lewe is daar altyd meer om te weet. Die diepste kennis word in die lewe geleer – uit ondervinding van ‘n meester. Ons beheptheid met tegniek veroordeel ons tot ‘n kultuur wat toenemend van kundiges afhanklik is. Maar in baie gebiede is daar geen kundiges nie. Wie is ‘n kundige oor lyding?

 

As dit kom by evangelisasie en oorreding moet ons baie versigtig vir formules wees. Moenie die uniekheid van mense onderskat nie.