Erfsonde – Vraag

Erfsonde – Vraag – Jan van der Watt

Vraag:

Gerhard vra: Verduidelik asb wat erfsonde is, veral waar ons sê ons is in sonde ontvang en gebore. Wat presies word bedoel met ontvang?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Erfsonde is nie ‘n leer wat deur alle Christelike kerke aanvaar word nie. Dit is veral die Gereformeerde kerke wat nogal heelwat hiervan maak. In die Gereformeerde leer vorm dit deel van die groter teologiese prentjie van sonde en verlossing. Die mens het niks goeds in hom nie en is daarom skuldig voor God. Dit is so van geboorte af – so ontvang ons as ouers kinders. Kinders word in sonde gebore en sal dus verlore gaan as hulle nie deur Jesus gered word nie. So word die sentrale belang van Jesus vir die redding van mense beklemtoon. Daar is nie werklik baie Bybelse gegewens hiervoor nie. Die argumente word meer gebou op die breë teologiese argumente wat aanvaar word.  Daar is byvoorbeeld kerke wat nie die absolute verdorwenheid van die mens leer nie, maar wel dat die beeld van God in die mens (ook in die baba) skeefgetrek is en herstel moet word. Dit is dus nodig om die baba te doop sodat die goeie balans weer herstel kan word. Ander kerke lê weer baie klem op dit vrye keuse van die mens. As die mens verkeerde keuses maak, lei dit tot sonde. Die baba kan natuurlik nog nie verkeerde keuses maak nie en kan dus per implikasie, volgens hierdie teologiese siening, nie sondig wees nie. Wat gewoonlik darem erken word, is dat die mens (ook die baba as hy of sy verstand kry en keuses kan maak) geneig is om te sondig en dus tog Jesus as Verlosser nodig het. 

 

Outeur: Prof Jan Van der Watt