Ester

Ester – Coen Slabber

Wie was Ester? Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was ‘n weeskind. Ester se familie was onder die ballinge wat koning Nebukadnesar uit Judea ontvoer het. Hulle was lede van die stam van Benjamin. Hadassa beteken mirt (‘n immergroen struik met pers blomme wat vir die maak van parfuum gebruik is). Mirte takkies is simbool van vrede en danksegging. Ester is afgelei van die woord wat in Persies ster beteken. Sommige glo dat die naam Ester met die Babiloniese godin Istar verbind kan word. [Hierdie was ‘n bekende gebruik. So lees ons dat Daniël en sy vriende ook heidense name gekry het – Daniël 1:7.] Die Babiloniërs is later deur die Perse onder Kores verslaan en so word die ballinge deel van die Persiese Ryk.

Mordegai, Ester se oom, was deel van die koning se huishouding. Hulle het nie gebruik gemaak van Kores se toestemming om na Jerusalem toe terug te keer nie.

Koning Ahasveros (beter bekend as Xerxes I) gee ‘n groot onthaal. Op die sewende dag, toe die koning baie vrolik was van die wyn, beveel hy sy paleisbeamptes om koningin Vasti met haar kroon op na hom by die onthaal te bring. Sy weier. Hoekom sou sy weier? Sy was tog bewus daarvan dat die ernstige gevolge mag inhou. Miskien was sy nie lus vir verdere vieringe nie – die onthaal duur immers al sewe dae en almal was dronk. Ander glo dat met haar kroon op beteken dat sy voor die klomp dronk mans moes verskyn met net haar kroon op. So wou hy vir almal wys hoe mooi sy is. Die uiteinde was dat Vasti nie meer voor die koning mag verskyn nie en dat sy vervang sal word met iemand wat haar beter sal gedra as sy. Dit open die pad vir Ester om koningin te word.

Feitlik die hele verhaal van Ester speel in die koninklike paleis in die vestingstad Susan af. Ester se rol as redder van die Jode kom toe Haman beplan dat al die Jode in die Ryk doodgemaak sou word. Dit sou die Jode wat na Jerusalem teruggekeer het ingesluit het. Haman was ‘n Agagiet en was wat ons sou beskryf die eerste minister van Ahasveros. Die koning onderteken die koninklike dekreet vir die uitwissing van die Jode en volgens die Perse mag so ‘n dekreet nooit teruggetrek word nie. [Ons kry dit vandag in die uitdrukking ‘n wet van Mede en Perse – ‘n vaste wet wat geen afwyking of uitsondering toelaat nie.]

Toe Ester en Mordegai hiervan hoor, span hulle saam teen Haman. Dan lees ons hierdie aangrypende woorde van Ester: Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom (4:16).

Een nag kon die koning nie slaap nie. Die annale word vir hom voorgelees. Daarin lees hy dat Mordegai sy lewe gered het waarvoor hy geen erkenning of eerbewys ontvang het nie. Die uiteinde is dat Haman om die lewe gebring word en Mordegai vereer word. Maar die koninklike dekreet staan nog. Die koning gee egter nou aan die Jode die reg om hulleself te verdedig. Dit verhoed die volksmoord.

Om hierdie gebeure te vier is die Purimfees ingestel wat vandag nog deur die Jode gevier word.

Hierdie is ‘n skildery van Rembrandt van Ahasveros, Haman en Ester by die dinee wat sy gegee het.

ester

Daar is ‘n paar belangrike lesse wat ons uit die lewe van Ester kan leer.

(1) Daar is voorbereidingstyd nodig. Ester het toegelaat dat sy voorberei word vir haar taak. God se voorbereidingstyd kan baie lank wees – Moses was veertig jaar in die woestyn voor God hom geroep het om die Israeliete uit Egipte te red. In daardie tyd slyp God ons karakters. Dit is noodsaaklik, want God kan nie ‘n trotse man of vrou gebruik nie.

(2) Ons het God se guns nodig. Ester het die guns van die koning gewen. Selfs van Jesus lees ons: En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem (Lukas 2:52). As ons ‘n lewe leef wat vir God aanneemlik is, deur sy wil te gehoorsaam, sal ons toeneem in guns by Hom – en ook by mense.

(3) God werk op sy eie tyd. Ester se tydsberekening was reg. Miskien wil God hê dat jy iets vir Hom moet doen. Moenie sommer inspring en begin doen nie. Josef sit in die tronk in Egipte totdat God se tyd vir sy vrylating aanbreek. God sal op sy tyd beweeg as ons getrou bly en luister na sy leiding.

(4) Jou agtergrond beïnvloed nie jou toekoms by God nie. Ester was ‘n weeskind, maar God gebruik haar. Sommige van Jesus se dissipels was vissermanne en tollenaars, maar Hy gebruik hulle. Jou agtergrond bepaal nie wat God met jou kan doen nie – jou geloof is wel bepalend.

(5) Jou sekuriteit lê by God. Almal van ons soek sekuriteit. Ons soek dit by geld, status, ens. Maar dit is geen waarborg nie. Die enigste waarborg vir sekuriteit sal ons by God kry. Ester het selfs as koningin haar lewe gewaag.  Sy sien die koning sonder dat hy haar teenwoordigheid versoek het – iets ongehoord. Maar sy doen dit vir die oorlewing van haar mense.

(6) Daar is beplanning nodig. Ester het nie sommer by die koning ingestorm nie. Sy beplan eers versigtig. Maar in haar beplanning is sy ook gewillig om na ander te luister. Die Jode moes saam met haar vas vir drie dae. Sy nooi die koning en Haman vir ‘n maaltyd, maar stel nie haar versoek nie – sy nooi hulle om die volgende dag weer saam met haar te kom eet. Intussen werk God agter die skerms. Eers toe kom sy met haar versoek. Deeglike beplanning en moed is noodsaaklik.

Ester – ‘n mooi verhaal. As ons mooi lees, sal ons baie by Ester kan leer.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber