Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

“If malice or envy were tangible and had a shape, it would be the shape of a boomerang.” ~ Charley Reese

Evangelisasie – Hoe begin ek die gesprek?

Vir baie mense is die ding wat hulle bang maak oor evangelisasie die probleem om die gesprek te begin. As iemand na ons sou kom en vra: “Wat moet ek doen om gered te word?” sou ons dit kan hanteer. Dit gebeur egter baie selde. Meestal moet jy die gesprek aan die gang kry.

 

Omdat ons senuwees pla as ons ‘n geestelike gesprek  moet begin, is dit altyd goed om darem iets in jou gereedskapskas te hê om dinge aan die gang te kry. Maar,  gereedskap is net so goed soos die persoon wat dit gebruik. Dit is ook nie ‘n plaasvervanger vir liefde nie – liefde vir ons naaste wat nog nie ‘n verhouding met God het nie.

‘n Ongemaklike stuk gereedskap is die sogenaamde “diagnostiese vraag” – dit is veronderstel om ‘n nie-bedreigende vraag te wees. Dit is iets soos: “Beskou jy jouself as ‘n geestelike persoon?”  Nog ‘n gewilde een is: “Wat dink jy gebeur met jou as jy doodgaan?” Die probleem is dat hierdie vrae nie baie natuurlik voorkom nie. Hulle is teoreties goed, maar in die praktyk nie so goed nie.

Vrae is egter belangrik, maar baie hang af van hoe jy die vraag vra. Vra ‘n eerlike vraag en luister noukeurig na die antwoord. Mense raak baie opgewerk oor vir verkoopspraatjies – hulle skakel onmiddellik af. Hulle ken die verskil tussen ‘n eerlike vraag en ‘n verkoopsvraag. Vra jou vraag met die bedoeling om te luister.

Ons moet meer natuurlike vrae vra. ‘n Tyd gelede het ons gevra: “As jy vannag sou doodgaan, is jy seker dat jy hemel toe gaan?” Hierdie vraag gaan nie meer goed af nie – om die waarheid te sê mense raak opstandig as jy dit vra. ‘n Moontlike vraag is: “Voel jy dat jy nader of verder van God af beweeg?” Hierdie is ‘n oop vraag wat nie bedreigend is nie. Ek kan baie aflei uit die persoon se antwoord – as ek luister.

J. D. Greear gee nog verdere vrae wat hy voel nuttig is. “Wat was jou ondervinding met die kerk?” “Hoe dink jy lyk ‘n suksesvolle/gelukkige lewe?” Natuurlik is hierdie vrae nie voldoende nie, maar as jy opreg vra en met deernis luister, sal jy verbaas wees oor hoe die Heilige Gees jou verder lei. Die doel is om net eers ‘n gesprek aan die gang te kry.