Gaan leer by die Mormone

Martin Luther

Gaan leer by die Mormone

Greg Stier is die stigter en President van Dare 2 Share Ministries International. Hy skryf onlangs hierdie interessante blog.

Die gewildheid van Mormonisme is besig om dramaties toe te neem. Hoekom? Mitt Romney? Hy voel die antwoord is eenvoudig: Mormone se jeugbediening is baie beter as dié van die gemiddelde Protestantse kerk.

 

Hierdie skoongeskeerde Mormoonse sendelinge in ons strate wat aan ons deure klop, word deur baie gesien as oudmodies. Ons maak nie die deur oop as ons sien dit is hulle nie of ons sê vir hulle ons is Christene en verwerp Mormonisme. Ons lag in ons mou: om te dink ‘n kerk verwag van sy jongmense om van deur tot deur te loop en mense te evangeliseer. Ons dink ons strategieë vir jeugbediening is strate voor hulle s’n. Is dit so?

Mormone weet wat hulle glo en hoekom hulle dit glo. Hulle is fanaties toegewy aan hulle weergawe van die Groot Opdrag. Wat doen ons as Protestante? Miskien elke tweede jaar ‘n weeklange uitreik in Mosambiek. Wat doen ons daar? Ons bou huise en bevorder nie noodwendig die koninkryk van God en die evangelie van Jesus Christus nie.

Ons wil nie glo wat hulle glo nie. Ons glo wat hulle verkondig is nie die Jesus wat ons in die Bybel kry nie. Maar: Mormone druk hulle kinders harder en neem hulle dieper en verder in hulle godsdiens in as wat ons jeugbedienings ooit sal waag.  Dink aan ‘n jeuggroep wat elke tiener uitdaag om elke oggend om ses uur bymekaar te kom vir ‘n klas oor die Christelike geloof. Dit is wat die Mormone verwag.

Natuurlik moet ons nie hulle strategie slaafs navolg nie. Ons moet wel hulle filosofie aanvaar. Ons moet ons tieners druk sodat hulle weer aktiviste word. Ons moet geleenthede vir diens, uitreik en onderrig skep. Ons moet hulle toerus om hulle geloof met ander te deel en hulle begelei.

Is dit dan nou ‘n soort kompetisie? Natuurlik. Ons is in ‘n kompetisie met Satan gewikkel vir ons jongmense – en ons slaag nie met vlieënde vaandels nie. Die probleem is nie die Mormone nie; die probleem is ons.