Gal en Mirre in die Bybel

Gal en Mirre in die Bybel

Daar het hulle Hom ʼn mengsel van wyn (kan ook asyn wees) en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie (Matteus 27:34).

Een van hulle hardloop toe gou, vat ʼn spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ʼn stok vir Hom om te drink (Matteus 27:48).

Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie (Markus 15:23).

Moontlik het Jesus wel die wyn gedrink (ons weet nie), maar Hy het beslis nie die wyn gemeng met gal/mirre gedrink nie. Die wyn wat hulle vir Jesus wou gee, was ʼn ligte wyn wat aangesuur  is. Dit was die algemene drankie van die Romeinse soldate.

Die byvoeging van gal of mirre is basies dieselfde ding: die wyn is bitter gemaak deur die byvoeging van die ekstrak van ʼn struik met ʼn bitter smaak. Dit is gebruik as ʼn pynstillende middel.

Gal: Die Griekse woord vir gal is chole of kholé. [Ons kry die woord steeds in geneeskunde: ʼn cholesistektomie is die verwydering van die galblaas.] Dit is iets wat baie bitter is.

Mirre: In die Semitiese tale beteken mör of mur (waarvan mirre afgelei is) iets wat bitter is. Dit is ʼn harpuis wat verkry is uit ʼn verskeidenheid bome met ʼn grys bas. [Van die genus Commiphora.] Hulle groei onder andere langs die Rooi See. As ʼn insnyding in die boom gemaak word, vloei ʼn melkerige, geel-wit vloeistof uit die sny. As dit droog word, verander die kleur na rooi-bruin en die druppels word hard. Dit is algemeen gebruik in die voorbereiding van wierook, parfuum en salwe. Simbolies het dit dikwels vroulikheid voorgestel. Mirre was een van die geskenke wat die sterrekykers uit die Ooste vir Jesus gebring het. Mirre het uit ʼn mediese oogpunt, antiseptiese en pynstillende eienskappe gehad. Dit is ook vir slapeloosheid gebruik.

Jesus weier om dit te drink. Hoekom? Hy wou niks inneem wat Hom sou benewel of die pyn wegvat nie. Hy sê vir Petrus: Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (Johannes 18:11). Jesus het geweet dat sy bloed vergiet moes word as Hy die uiteindelike offer vir my sondes moes bring. Hy vermy daarom die maklike uitweg.

Skrywer: Dr. Coen Slabber