Gebed bly onbeantwoord – Hermie van Zyl

Annatjie vra

Ek weet nie regtig hoe om die vraag te stel nie. Hoekom laat God so baie ongelukkige en hartseer dinge in ‘n mens se lewe toe? Ek is 13 jaar terug geskei en het 3 pragtige dogters wat sonder ‘n pa groot geword het. Hy wou en was net nie deel van hul lewe nie, en as hy hul kom besoek het, was hy besope. So het hul maar hul stiefoupa as ‘n pa-figuur aanvaar. Hy het dit weer uitgebuit en die oudste en jongste verkrag.

Behalwe dit verloor ek ook my werk. Ek begin my eie besigheid ek sê elke dag vir God dankie vir die inkomste. Na ‘n jaar en ‘n half moet ek trek; nie dat ek die finansies gehad het daarvoor nie. Ek begin toe weer van vooraf met ‘n besigheid. Om alles te kroon is my middelste meisiekind so ongeskik. Als wat ek doen, is verkeerd; ek mag ook met niemand praat nie. Hoe kan God al die goed toelaat om met my te gebeur?

Ek moet sê ek sien vandag dinge anders as wat ek dit aanvanklik gesien het. Ek is nader aan God want ek is meer op my knieë as wat ek loop, om net vir krag te vra om aan te gaan.

As God ‘n God van liefde is, hoekom laat Hy toe dat al die lelike goed met ‘n mens gebeur?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

‘n Mens se hart gaan uit na ons vraagsteller wat met soveel onverstaanbare en onverklaarbare lyding in haar lewe te kampe het, veral vanuit ‘n gelowige perspektief. Want haar vrae is nie gebore uit opstandigheid nie, maar is eerlike vrae: As God liefde is en net die goeie vir ons wil, waarom is daar dan soveel ellende in my lewe? Wat in en met my lewe gebeur, rym eenvoudig nie met my verstaan van God as ‘n God van liefde nie.

Ek kan die vraagsteller verseker dat sy nie die enigste gelowige met hierdie kwelvrae is nie. Trouens, dis vrae wat gelowiges reg deur die eeue gevra het en nog steeds doen. Dink maar aan die digter van Ps 73 wat worstel met die vraag hoekom dit klaarblyklik met die goddeloses so goed gaan, maar hy wat getrou aan God bly, kry swaar. Hy stel dit so: “Dat ek die kwaad vermy het … het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf (Ps 73:13-14).” Hy voel dat dit hom niks in die sak bring om God te bly dien nie, want die goddelose is eintlik beter daaraan toe as hy. Waarom dus volhard met die goeie? God gee blykbaar nie om vir sy kinders nie. Of, Hy gee miskien om, maar is magteloos om iets aan hulle slegte situasie te verander.

Hoe beantwoord mens hierdie moeilike vrae waarop – laat my dadelik sê – daar geen maklike antwoorde is nie, nog nooit was nie en ook nooit sal wees nie. Daarmee moet mens vrede maak. Maar dit beteken nie dat daar geen antwoorde is nie, dat die gelowige geen troos het nie. Die digter van Ps 73 het byvoorbeeld vertroosting gevind in die feit dat die goddelose se pad net oënskynlik voorspoedig is; op die ou einde gaan hy onder en sy uiteinde is verskriklik (v18-20). Verder het hy ook vreugde gevind in die verhouding met God; hy is verseker van God se nabyheid, dat dit ‘n verhouding is wat vir altyd standhou; en hy vind sy plesier daarin om binne God se wil te lewe (v21-28).

En dit is steeds nog maar ten diepste die enigste antwoord wat daar werklik is. Maar kom ons kyk hoe dié saak – die gelowige se worsteling met slegte goed wat met hom/haar gebeur – vanuit ‘n breër Skrifperspektief belig kan word. Dalk help dit ons vraagsteller om ook ‘n breër perspektief op haar eie situasie te ontwikkel.

Die dilemma dat God skynbaar nie ingryp in ons lewens om dit beter te maak nie, is, soos reeds genoem, nie ‘n onlangse probleem nie. Dis so oud soos die mens se verhouding met God. Die bladsye van die Bybel is vol hiervan. Dink maar aan die klassieke verhaal van Job. Sy lewe beweeg van ryklik geseënd, tot alles verloor, tot weer ryklik geseënd. Was dit werklik nodig dat sy geloof op so ‘n verskriklike manier getoets word, in so ‘n mate dat selfs sy vrou vir hom die raad gee om God te vloek en te sterwe (Job 2:9)? Het God een of ander behae geskep in Job se lyding? Kon Hy Job nie op ‘n ander manier sterker aan die ander kant laat uitkom het nie? Want dis nie asof Job ‘n ongelowige was nie – inteendeel. En Paulus, die groot apostel van die Here Jesus, se geloofspad was ook glad nie met rose besaai nie. In 1 Kor 4:10-13 en 2 Kor 11:16-31 vertel hy van al die verskriklike ontberings wat hy ondergaan het in diens van die Here. En dis nie asof hy ‘n masochistiese genot geput het uit hierdie lyding nie. Nee, hy sou wat wou gee om daarvan ontslae te wees; hy praat daarvan as ‘n doring in die vlees wat hom teister (2 Kor 12:7-10). Daarom dat hy die Here drie maal (beteken eintlik “herhaaldelik”) gevra het om dit weg te neem, maar die Here het gesê dat sy genade vir hom genoeg is. Geen wonder nie dat Paulus in Gal 6:17 sê dat niemand hom moeite moet aandoen nie aangesien hy in sy liggaam die littekens van Christus dra. Hiermee wil hy sê: ek ken die weg van Christus; dis geen maklike pad nie, ek dra die bewyse daarvan aan my lyf.

Met bogenoemde oorsig oor Bybelse gelowiges se lyding wil ek nie mense soos ons vraagsteller se persoonlike worsteling met God probeer afmaak as onbelangrik nie, as iets waarmee ons maar almal worstel nie. Ek wil maar net die punt vanuit die Skrif maak dat geloof in God geen vrywaring is teen die aanslae van die lewe nie. Gelowiges is net so blootgestel aan die gevare en teisterings van die lewe as hulle wat nie in God glo nie. Ons is immers almal mense met dieselfde emosies, behoeftes, vrese en ideale. Ons verlang almal na geluk en ‘n rustige lewe.

Maar wat is dan die verskil tussen die gelowige en ongelowige? Dit lê daarin dat gelowiges die teenslae van die lewe doelbewus, op ‘n manier wat alle verstand te bowe gaan, in verband bring met hulle lewe saam met God. Hulle vind troos in die wete dat hulle naby God lewe (Ps 73:21-28), dat niks en niemand hulle van die liefde van God in Christus kan skei nie (Rom 8:35-39), dat God se genade vir hulle genoeg is en dat sy krag losgelaat word juis wanneer hulle swak is (2 Kor 12:9), en dat op een of ander manier alles tog ten goede meewerk vir dié wat vir God liefhet (Rom 8:28). Hulle lewensvreugde is dus nie primêr afhanklik van omstandighede nie, maar is diep gesetel in hulle verhouding met God. Al bot die vyeboom nie, al misluk die druiweoes, al word die vee minder, nogtans juig hulle in God, hulle Redder (Hab 3:17-18).

Die rede hoekom dit moontlik is, is omdat die gelowige weet dat sy of haar lewe vir ewig geborge is in God, nie net vir hierdie lewe nie. Daarom dat Paulus vanuit die opstanding van Christus redeneer as hy sê dat as mens net vir hierdie lewe op Christus hoop, ons die bejammerenswaardigste van alle mense is (1 Kor 15:19). God het in Christus ‘n nuwe lewe begin wat tot in alle ewigheid duur. Ons beleef op aarde nog maar net die begin hiervan; deur die Heilige Gees proe-proe ons nog net daaraan. Ons hoop lê in Christus wat die bose en die dood oorwin het. In die mate wat ons aan Christus verbind is deur die geloof (geloof as lewenswyse van vertroue in Christus), in daardie mate word ons getroos met die wete dat ons deel het aan die ewige lewe en dat God eendag die trane van ons oë sal afvee, eendag wanneer lyding, hartseer en dood, wat so deel is van hierdie wêreld, geen houvas meer op ons sal hê nie (Op 21:4). Hoe onwerklik God se nuwe wêreld ook al klink wanneer ons daagliks moet worstel met die onbeantwoorde vrae van die lewe, was hierdie wete en vaste geloof nog altyd die troos en krag van die gelowige. Vreemd, onlogies, maar waar.

Verder, omdat ons vanuit hierdie ewigheidsperspektief lewe, kan ons ook in geloof na die wêreld rondom ons kyk en nou reeds daarvan ‘n beter plek probeer maak. Ons weet immers dat elke daad wat in liefde gedoen word, tot in ewigheid standhou (1 Kor 13:8), dat ons so belê in die hemelse skatte wat nie deur mot en roes verniel kan word nie (Matt 6:19-21). Ja, geloof vrywaar ons nie van aardse ellendes nie, maar dit open ‘n hemelse perspektief (Heb 11:1) van waaruit ons elke dag se uitdagings aanpak. En presies dit gee moed, krag en vreugde in die lewe.

Verder, ons put ook krag en vreugde uit die geloofsverhale van ander. Die Bybel is vol hiervan, maar ons word ook daagliks omring deur mense wat dieselfde stryd as ons stry. So word ons verryk en versterk, en dra ons mekaar se laste (Gal 6:2). Ons moet ons dus nie onttrek van die geloofsgemeenskap nie. Die Hebreërbrief vertel byvoorbeeld van so ‘n groepie gelowiges wat klaarblyklik weens die talle aanslae van die wêreld geloofsmoeg geword het, tot op die punt dat hulle afvallig wou raak. Maar dan bemoedig die skrywer hulle met allerlei aansporings om te volhard. Hy spoor hulle aan om die gemeenskap met ander gelowiges te beoefen (Heb 10:25), hy herinner hulle aan die geloofshelde uit die Ou Testament wat God se onsigbare (maar werklike) wêreld in die oog gehou het (die hele Heb 11, veral vv13-16). Hulle word herinner daaraan dat hulle op aarde pelgrims is sonder ‘n vaste woonplek en so Christus se smaad moet dra (13:13-14). Hulle word dus aangemoedig deur die medegelowiges wat klaar die aardse stryd voltooi het, terwyl hulle die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (12:1-3).

Ek is maar te bewus daarvan dat al bogenoemde, hoe waar ook al, deur elke gelowige in sy of haar persoonlike omstandighede geïnternaliseer moet word. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Party vind dit “makliker” as ander; sommige se omstandighede is net soveel moeiliker as ander s’n. Maar elkeen kan daaraan vashou dat God ons nie alleen laat nie, al voel dit so. Selfs Christus het geworstel met Godverlatenheid (“My God, my God, waarom het U My verlaat?”, Matt 27:46), sodat ons nooit weer van God verlate sou voel nie.

My hartewens is dat ons vraagsteller op die een of ander manier krag sal ontvang vir haar persoonlike geloofspad op aarde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl