Gebed en aanvaarding

 

“Stop wasting time running after the perfect community; Live your life fully in your community today.”  –Jean Vanier

 

Gebed en aanvaarding

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Stilte laat ons besef dat gebed bo alles aanvaarding is. As ons bid staan ons met oop hande.  Ons weet dat ons God sal ken uit die natuur, in mense wat ons ontmoet en in situasies waarin ons beland. Gebed skep die openheid waarin God aan ons gegee word. God wil toegang tot die menslike hart kry; Hy wil met oop hande ontvang word; Hy wil hê dat ons Hom moet liefhê soos Hy ons liefgehad het.

 

Hierdie openheid kom nie vanself nie. Dit vereis ‘n belydenis dat ek afhanklik, swak en sondig is. As jy bid bely jy dat jy nie God is nie en dat jy nog nie jou doel bereik het nie – en dit nooit in hierdie lewe sal bereik nie. Hierdie gesindheid is moeilik, want dit maak jou kwesbaar. Die wêreld sê: “Staan vas; kry ‘n greep op wat nou joune is; wees op jou hoede. Maak jou hande oop en hulle slaan spykers daarin. Wees altyd gereed vir die onverwagse aanval.”

 

Hoe kan jy ‘n gawe met so ‘n gesindheid verwag? Geen wonder gebed is so ‘n probleem nie, want dit vereis gedurige gereedheid om jou wapens neer te lê. Dit vereis dat jy moet leef in die verwagting dat God, wat alles nuut maak, jou ook sal nuut maak.

 

Gee word dikwels ‘n manier om te manipuleer – die een wat die geskenk ontvang word afhanklik van die wil van die een wat dit gegee het. As jy gee is jy in beheer van die situasie. Aanvaarding is iets anders. As jy ‘n geskenk ontvang, nooi jy ander in jou lewe in – hulle kry ‘n plek in jou lewe. Gawes is net gawes as hulle aanvaar word. Baie mense wil onmiddellik iets teruggee as hulle iets ontvang het. So herstel hulle die balans.

 

Miskien is dit die uitdaging van die evangelie: ons word uitgenooi om ‘n gawe te aanvaar waarvoor ons niks kan teruggee nie. Hierdie gawe is die lewensasem van God; die Gees wat oor ons uitgestort word. Diegene wat in gebed leef is gedurig gereed om God se lewensasem te ontvang en is bereid dat hulle lewens vernuwe kan word. Diegene wat nooit bid nie sit in ‘n hoekie en soek na asem. Diegene wat hulle vir God open kan weer vryelik asemhaal.

 

Ons besef met vreugde dat daardie selfde asem wat ons aan die lewe hou, is ook die bron van lewe vir ons broers en susters. Hierdie besef laat ons vrees vir ander verdwyn. As ons die lewensasem van God in ander raaksien, kan ons toelaat dat hulle in ons lewens inkom.

 

“Om iets te ontvang skep ‘n gevoel van afhanklikheid. Ek is nie daaraan gewoond nie. Ek bestuur my eie sake. As ek iets ontvang weet ek nie hoe om dit te hanteer nie. Dit voel asof ek nie meer in beheer is nie.” Dit is die siening van baie van vandag se mense. As ons ergter ervaar dat iemand ons ten volle aanvaar, wil ons alles in ons vermoë doen om te gee. Dan vind ons uit dat ons eintlik meer het om te gee as wat ons gedink het.

 

In hierdie aanvaarding van mekaar as gevolg van ons gebede, besef ons daar in nie plek vir vooroordele nie. Dan kan ons met mekaar praat en ons lewens deel op so ‘n manier dat ons harte tot mekaar spreek.

 

Gebed beteken bowenal dat ons God aanvaar wat altyd nuut en altyd anders is. Sy hart is groter as ons s’n. In gebed is ons voortdurend op ‘n pelgrimstog – op pad ontmoet ons meer en meer mense wat ons iets van God wys. Gebed gee ons die moed om ons arms uit te strek en om gelei te word. Na Jesus vir Petrus die opdrag gegee het om sy mense te lei, sê hy vir hom: Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaa en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy wil wees (Johannes 21:18).

 

Om ander te versorg vereis ‘n toenemende aanvaarding. Die aanvaarding lei Jesus en sy dissipels na waar hulle nie wou wees nie – die kruis. As jy jonk is, wil jy alles beheer, maar as jy jou hande in gebed oopgemaak het, laat jy jouself lei sonder dat jy weet waarheen jy op pad is. Jy weet net dat God se vryheid jou na ‘n nuwe lewe sal lei – al is die kruis die enigste teken wat jy kan sien. Maar vir die een wat bid, boesem die kruis nie vrees in nie.

Vraag: Op watter manier is ek vir afhanklikheid bang?