Gebed en deernis

 

God can’t give you the blessings He has for you until you first put down the other things you are clutching in your hands – Richard Stearns

 

Gebed en deernis

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

As jy ‘n toekoms het, sal dit ‘n toekoms saam met ander wees. Gebed kan nooit asosiaal of antisosiaal wees nie. As ons bid en ons naaste uitlaat, is dit nie ware gebed nie. Maar is “ek sal vir jou bid” ‘n teken van ware kommer?

 

In ons moderne wêreld het ons gebed en lewe geskei. Om hulle weer bymekaar te bring, lyk feitlik onmoontlik Die vraag oor hoe en wanneer om te bid is nie die belangrikste nie. Dit vraag is of ons altyd moet bid en of gebed noodsaaklik is. As ons sê dat as ons tyd het ons kan bid of as ons ‘n probleem het, kan ons bid, erken ons dat gebed aan die rant van ons lewe lê. As ons dink gebed kan nie skade doen nie, sal ons gou uitvind dit kan ook nie goed doen nie. Gebed het net waarde is dit onontbeerlik is. Gebed is net gebed as ons kan sê dat ons nie daarsonder kan leef nie. Hoe kan ons dit waar maak in ons lewens? Deernis.

 

Dikwels sê ons dat gebed ‘n uitdrukking van hopeloosheid is – ons vra Iemand om iets te doen wat ons nie kan doen nie. Dit is ‘n halwe waarheid. Ek moet ook kan sê dat dit nie nodig is dat ek dit moet kan doen of dit verstaan nie. Nou is jou afhanklikheid nie hulpeloosheid nie, maar openheid teenoor ander.

 

As jy jou swakhede as ‘n verleentheid sien, vertrou jy op gebed net as die behoefte baie groot is – ‘n gedwonge bevestiging van jou onvermoë. As jy jou swakheid sien as iets wat maak dat ander jou liefhet, sal jy ontdek dat jy deur gebed sal ontdek dat leef beteken om saam te leef. As jy dink dat jy alles self kan doen, sal jy gou uitgeput raak.

 

As  ons bid, kom ons uit ons skuilings en ons sien soos Adam ons eie naaktheid, maar ons sien ook dat daar nie ‘n vyand is om voor weg te kruip nie. Daar is net ‘n vriend wat ons in iets beter wil klee. Gebed vereis sekere erkennings – die vereis die nederige erkenning van ons toestand as gebroke mense. Gebed lei ons nie na skaamte of wanhoop of skuldgevoelens nie, maar tot die vreugdevolle ontdekking dat ons mense is en dat God waarlik God is.

 

Gebed beteken dat ek afstand doen van my vals sekuriteit; ek soek nie meer argumente om my mee te verdedig nie. Gebed beteken dat ek nie van God dieselfde kleingeestigheid verwag wat ek in myself ontdek het nie Mense is nie iemand wat af en toe ‘n fout maak nie; God is nie iemand wat af en toe vergewe nie. Mense is sondaars; God is liefde.

 

As jy bid ontdek jy nie net jouself en God nie, maar ook jou naaste. In gebed erken jy ook dat jou naaste jou broer en suster is. Jy besef dat jy nie alleen is nie. Dit is op hierdie punt dat deernis gebore word. Deernis oorkom alle hindernisse wat julle mag geskei het. Dit sluit in hindernisse soos ras, taal, rykdom kennis, ens. Ons is een onderworpe aan dieselfde reëls en bestem vir dieselfde einde.

 

Deernis is wanneer ek ons gemeenskaplike bestemming erken, sodat ons saam vorentoe kan beweeg na die land wat God vir ons wys. Deernis beteken ons deel in mekaar se vreugde, maar ook in mekaar se pyn. As jou deernis voortspruit uit gebed vloei dit voort uit jou ontmoeting met God. Die oomblik as jy besef dat die God wat jou onvoorwaardelik liefhet alle mense met dieselfde liefde liefhet, open daar vir jou ‘n nuwe manier van leef. Jy sien jou naaste met nuwe oë.

 

Deernis verwyder vals nederigheid. Dit vra dat jy jouself en ander sien in die lig van God. Dit is nie sonder risiko’s nie. Dit vereis dat jy ‘n brug na ander bou sonder dat jy weet of hulle bereik wil word. Maar deernis gebou op gebed is moontlik, want in gebed vertrou jy nie op jou eie krag nie of op die welwillendheid van ander nie. Jy vertrou net op God. Daarom stel gebed jou vry vir ‘n lewe van deernis al ontlok dit nie ‘n dankbare reaksie nie en al het dit nie onmiddellike belonings nie.

Vraag: Hoe herken ek die swaarkry van my broers en susters in my eie hart?