Gebed en hoop

 

I am a little pencil in the hand of a writing God who is sending a love letter to the world – Moeder Teresa.

 

Gebed en hoop

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

In gebed sprei jy jou hande oop. Jy is bereid om na jou eie beperkings te kyk, maar jy verwag ook iets nuut. Daarom is elke gebed in werklikheid ‘n uitdrukking van hoop. As jy niks van die toekoms verwag nie, kan jy nie bid nie. Daar is ware lewe slegs as jy nie meer dinge aanvaar soos hulle tans is nie. Jy moet vorentoe kyk na dit wat nog nie gebeur het nie.

 

In gebed lyk dit egter asof ons meer vra as hoop. Dit is nie verbasend nie: as daar oorlog is, bid ons vir vrede; as daar droogte is bid ons vir reën; as iemand siek is, bid ons dat hy gesond sal word … Ons gebede ontstaan midde in ons lewens. Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor. Dit geld ook vir gebed. Ons harte is vol konkrete begeertes en verwagtings. Ons dink nie te ver in die toekoms nie. Ons fokus ons aandag op die hier en nou.

 

Die belangrike ding oor gebed is nie of ons dit as versoeke of lofprysing of danksegging klassifiseer nie, maar of die ‘n gebed van hoop of van min geloof is. Die gebed van min geloof laat ons vasklou aan die huidige situasie – vol wense en begeertes. Kry ons dit nie is ons teleurgesteld. Al die aandag is op wat ons wil ontvang en nie op die Een wat dit gee nie.

 

As ons lewe met hoop word ons nie vasgevang in bekommernisse oor hoe ons wense vervul gaan word nie. Ons gebede word nou op die Een wat gee gerig. Ons het nou onbeperkte geloof in die Gewer van alle goeie dinge. In die gebed van hoop, vra jy nie vir enige waarborge nie; jy stel geen voorwaardes nie. Hoop is gebaseer daarop dat Hy wat gee net sal gee wat goed is. Jy wag vir die belofte om waar te word al weet jy nie wanneer of waar of hoe nie.

 

As jy met hoop bid, mag jy steeds vir baie dinge vra. As jy vra vir geloof, liefde, hoop, vryheid, ens sonder om die konkreet te maak in jou lewe, is God waarskynlik nie betrokke in jou ware lewe nie. As jy in hoop bid, is al hierdie konkrete versoeke maniere om jou onbeperkte vertroue in God uit te druk – Hy vervul beloftes wat dit wat goed is, inhou. Hy wil goedheid en liefde met jou deel.

 

Hierdie hoop gee aan jou ‘n vryheid wat jou toelaat om realisties na die lewe te kyk sonder om terneergedruk te voel. In ‘n gebed vol hoop dank ons God vir sy beloftes en ons loof Hom vir sy trou. Ons plaas ons lewens in sy hande; vrees en angs verdwyn. Of ons nou kry wat ons vra of nie, is ‘n teken van God se belofte dat ons eendag ten volle sal verstaan.

Vraag: Kan my hoop in God dieper en sterker groei selfs al word my wense nie vervul nie?