Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(13) – JP Louw

Feeste en feesdae

Die Sabbat

As breek in die daaglikse gang van die mens se werk, veral ook onder moeilike omstandighede soos dikwels in droë lande soos die van die Ou Testament, was die Sabbat seker ‘n fisiese lafenis. Tog was dit nooit by Israel ‘n motivering nie. Al het die Tien Gebooie die sewende dag as rusdag van alle werk aangestip, was die godsdienstige grondslag die werklike motivering vir die Sabbat-‘n dag van die Here wat Hy in sy Wet beveel het. Jesaja stel dit duidelik in 58:13-14 as ‘n voorskrif wat seëninge sal bring. Om die Sabbat te oortree was ‘n groot sonde: Tog het dit dikwels gebeur dat mense voortgegaan het met hulle werk. In Nehemia 13:15-22 word die volk wat voortgaan met wynmaak, met vragte vervoer en handeldryf, gewaarsku. Nehemia sluit dan vervolgens die stadspoort op die Sabbat en laat dit deur die Leviete bewaak.

Die sisteem van ‘n sewedaagse siklus was van vroeg af in die antieke wêreld, ook buite Israel, bekend. Die maande is aanvanklik volgens die maan se siklus van 28 dae getel en is in vier dele van sewe elk verdeel. Noag stuur die duif uit die ark in ‘n siklus van 7 dae, die skeppingsverhaal behels ‘n sewe dag periode. Jakob moes sewe jaar werk vir Ragel (Genesis 29:20). In die woestyntog moes die manna op die sesde dag dubbel soveel opgetel word sodat daar op die sewende dag gerus kon word. Die Babiloniërs het sekere dae nie gewerk nie omdat hulle as ongeluksdae beskou is, soos die 15de van elke maand, soms ook die 19de en veral die sewevoudiges 7, 14, 21 en 28. Die Joodse Sabbat was egter van ‘n totaal ander aard – dit was ‘n bevel van die Here. So streng was hierdie opdrag dat oortreding selfs met die dood gestraf is (Numeri 15:32-36). Miskien was vrees vir straf ‘n sterker oorweging as rus by die Jode om die Sabbat to hou, al was die dag ingestel as rusdag. Volgens Amos 8:5 het sommige net gesit en wag dat die Sabbat verbygaan om weer handel te kan dryf, en in Jeremia 17:19-27 word dit nog sterker gestel: hulle lewens is op die spel as die Sabbat nie onderhou word nie (verse 21 en 27).

Die streng beskouing oor die Sabbat het mettertyd al meer aanleiding gegee tot talle Sabbatswette. Die Misjna, of Joodse oorlewing van leringe wat later ook op skrif gestel is, meld 39 hoofsoorte van werk wat op die Sabbat verbied word. So kan enkele dinge dus omseil word. In Eksodus. 16:29 word verbied om op die Sabbat net uit die huis te loop. Dit was egter i v m die optel van die manna gesê en dus het latere Joodse skrifgeleerdes dit toe as reël geformuleer dat noodsaaklike beweging uit die huis wel toegelaat word tot ‘n maksimum van 2000 el ‘wat die Jode volgens sommige uit die -Leviete se weiveldmate in Numeri 35:5 afgelei het so ongeveer 900 meter. Van die Olyfberg af Jerusalem toe is sowat een kilometer en in Handelinge 1:12 word dit ‘n sabbatsreis genoem. Jesus en die Joodse leiers het meermale oor die Sabbat gebots. In Markus 2:23-27 sê Jesus self dat die Sabbat vir die mens gemaak is maar die Jode het die mens vir die Sabbat gemaak. Van die Joodse voorskrifte het ingehou dat ‘n skrywer nie sy pen op ‘n Sabbat in sy gordel kon dra nie, en as ‘n huis op iemand inval op ‘n Sabbat moes die slagoffer wag tot die Sabbat verby is voordat hulp kon opdaag as by solank sou leef. Maar dan weer wys Jesus in Lukas 14:5 daarop dat hulle ‘n kind of ‘n bees wat in ‘n put val op die Sabbat sou uittrek. Die streng voorskrifte is dus tog soms weens omstandighede geplooi. Op die Sabbat moes gerus word-en dit het ook meegebring dat die Jode nie op die Sabbat na die sinagoge gegaan het nie. Op die vooraand van die Sabbat is gelet dat die sinagoge betyds verlaat word om voor sononder, as die Sabbat aanbreek, tuis te kon wees. So staan dit in die voorskrifte van die Rabbi’s. Tog lees ons in Handelinge 13:14 dat Paulus en Barnabas op die Sabbat ‘n byeenkoms in die sinagoge bygewoon het. Dit is heel merkwaardig aangesien sinagoges as leerhuise die hele week oop was. Aan die ander kant wys dit op ‘n praktyk wat afgewyk het van die streng voorskrifte van die ortodokse rabbi’s.

Die Sabbatsvoorskrifte het volgens die 39 voorskrifte van die Misjna betrekking op daaglikse werk gehad en die meeste mense het hulle daarby gehou. Dit was die ortodokse Jode wat met allerhande voorskrifte die saak tot die absurde gevoer het. In die lig hiervan moet die besoek aan die sinagoge op ‘n Sabbat al dan nie verstaan word.

Skrywer:  Prof JP Louw