Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(15) – JP Louw

Die fees van die Weke of Pinksterfees

Hierdie was ‘n eendaagse fees wat op die 16de van die maand Sivan (Mei/Junie) gehou is in die middel van die koringoes en die einde van die garsoes as ‘n dankseggingsoes. Die dank het om twee brode gedraai. ‘n Klein stukkie is geneem en die graan gemaal om in twee brode gebak te word wat dan in die lug geswaai is om dank te betuig op ‘n wyse wat hulle gemeen het die Here so makliker sal raaksien. In Levitikus 23:15 word dit ‘n beweegoffer genoem. Presies 7 weke en een dag nadat die graan begin oes is, moes die fees begin (Deuteronomium 16:9-12) en dit moes herinner aan die feit dat Israel in Egipte ‘n slaaf was – vandaar die naam fees van die weke: Hierdie fees het ook 50 dae na die Paasfees plaasgevind. Verder moes daar, volgens Levitikus 23:18-19, diere geoffer word as gewyde gawe aan die Here. Die sewe weke plus een dag gee vyftig dae wat in die vertaling van die Ou Testament met die woord “pentekosta” weergegee is waaruit die naam pinkster afgelei is. In Handelinge 2:1 word ‘n gebeure op so ‘n pinksterfees vermeld wat vir die Christendom primer geword het.

 

Die fees van die Hutte of Insameling

Hierdie fees in die maand Tishri (Sept/Okt) was ‘n weeklange fees om die einde van die oes te vier wanneer die druiwe ingesamel is. Die huttefees word soms ook die Loofhuttefees genoem omdat dit eintlik ‘n dankfees vir die oes is (Deuteronomium 16:15). Dit word in Levitikus 23:34-36, 39-44 en in Deuteronomium 16:13-15 beskryf. Die naam huttefees hou verband met die voorskrif in Levitikus 23:43 dat die fees moes herinner aan die feit dat Israel in hutte gewoon het toe hulle uit Egipte weg is. Sien ook Nehemia 8:14-19. In die Nuwe Testament word slegs in Johannes 7:37 na hierdie fees verwys. In die Nuwe Testamentiese tyd het hierdie fees ook die lig van die Joodse geloof vir die wêreld gesimboliseer. Jesus se woorde van stromende water wat sal vloei uit die wat in Horn glo (vers 38), hou verband met die water uit die fontein van Siloam. wat die priesters op die huttefees oor die trappe van die tempel laat stroom het as teken dat die Joodse geloof die wêreld kon lewe gee. Vir die wat in Jesus glo sal die Gees die lewe gee.

 

Die dag van versoening

Hierdie feesdag het een maal per jaar op die 10de van die maand Tishri, vyf dae voor die huttefees plaasgevind. Eintlik was dit nie juis ‘n feesdag soos die ander feeste nie. Dit was eerder ‘n dag van verootmoediging, maar het tog ook die feestelike blydskap van versoening ingehou. Levitikus 16 beskryf hierdie dag in besonderhede. Dit is die klimaksdag van die hele Joodse jaar, die dag waarop die hoëpriester in die allerheiligste van die tabernakel en later die. tempel ingegaan het om versoening vir die hele volk se sondes te doen. Gedurende die jaar het die priesters gedurig offers gebring vir die volk en individue, maar op hierdie dag moes die hoëpriester vir homself en vir die priesters, in die eerste instansie versoening doen en dan ook vir die hele volk. So word alles weer volkome ritueel rein-priesters en volk.

In die tyd van die Ou Testament is die offer van die een bok gevolg deur die sprinkel van bloed op die deksel van die verbondsark en daarvoor. In die tyd, van die Nuwe  Testament was daar geen ark meer nie, want dit was met die verwoesting van Salomo se tempel deur Nebukadnesar van Babel saam ,met die tempel verbrand en is nooit weer vervang :nie. Toe is net die allerheiligste plek self besprinkel en veral die rots daarin wat simbool van ‘n offeraltaar was. Die ander bok, die sondebok, in Levitikus 16 die bok vir Asazel, is dan die hande opgelê om sodoende al die sondes op die bok oor te dra. Hierdie bok is vervolgens die woestyn ingejaag. In die Nuwe Testament neem die Hebreërbrief die gebeure oor in hoofstuk 9 as ‘n skadubeeld van die werklike versoening wat Christus deur sy bloed bewerk het. Daarom is Christus die Midde­laar of Versoener van God se nuwe verbond met sy volk.

Skrywer:  Prof JP Louw