Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(8) – JP Louw

Salomo se Tempel

Die tempel wat Salomo in Jerusalem gebou het, was grootliks ‘n herhaling van die opset wat in die tabernakel bestaan het. Dit was ‘n gebou in twee hoofdele waarin die ark van die verbond geplaas was in die Allerheiligste deel, en die ander voor­werpe, die kandelaar, reukaltaar en toonbrode in die heilige deel. Die verskil was nie in opset nie, maar in vorm en bouwerk. Die tempel was van steen en hout gebou en met kosbare metaal versier. Die tempeldeel self is op ‘n platvorm enkele trappe hoog gebou. Die voorkant het ‘n groot ingang gehad met twee reuse pilare van brons waaraan die name Jakin en Boas gegee is (1 Konings 7:21). Miskien was die name ’n aanduiding van die stand­vastigheid van die tempel, want aan die name word soms die verklaring “vas” en “sterkte” toegeskryf. Of die name op die pilare aangebring is, bly onbekend, maar 1 Konings 7:21 kan dalk op so iets dui. As hierdie verklaring korrek is sou die pilare moontlik God se sekerheid gesimboliseer het.

Langs die ingang is aan beide kante ‘n reeks kamers gebou in die eerste deel van die Heilige Plek wat moontlik stoorplek vir tempelgereedskap, blyplek vir priesters of iets soos kantore in moderns sin, gebied het. Die tempel het hierdeur heelwat groter as die tabernakel geword. Trouens, dit was goed tweemaal groter.

Voor die ingang was daar ook ‘n waskom en offeraltaar. Die waskom was baie groot en het twaalf bronsbulle as voetstuk gehad. Dit kon meer as 40 000 liter water gehou het. Vir ‘n beskrywing van hierdie reuse waskom, sien 1 Konings 7:23-26. Daarby was daar ook tien waentjies met tien kleiner waskomme vir besprinkeling (1 Konings 7:27-40).

 

Ander heiligdomme

In Deuteronomium 12 word voorskrifte gegee om alle plekke te vernietig waar die volke wat voor Israel verdryf is, hulle gode gedien het. Hulle moes die Here op net een plek aanbid het. In 1 Konings 8:29 verwys Salomo in sy gebed tydens die wyding van die tempel na hierdie opdrag. Maar die yolk het nie by hierdie voorskrif gehou nie. In 1 Konings 12:25-30 lees ons dat na die skeuring van die ryk Jerobeam twee kalwerbeelde gemaak het. Hy het die een in die suide in Bet-El opgestel en die ander in die noorde in Dan. Verder het hy heiligdomme op die hoogtes gebou en priesters aangestel wat nie Leviete was nie. So kort na Salomo is hierdie afvalligheid verbasend. Dit bewys egter hoe die godsdiens by die Jode soms, ook maar soos vandag nog, nie baie diepgaande by almal was nie. Die Jode het hulle telkens laat verlei om Kanaänitiese gebruike na te volg. Selfs toe die Here vir Gideon geroep het, moes by eers sy pa se Baäl-altaar en gewyde, paal afgebreek het (Rigters 6:25-32). Hierby kan ook Rigters 17:3 gelees word waar Miga se moeder hom ‘n afgodsbeeld laat maak het. Na Dawid en Salomo het dieselfde afval maar net weer na vore gekom. In 2 Kronieke 31:1 word vertel hoe op Hiskia se aandrang die Israeliete die klippilare afgebreek en gewyde pale afgekap het en die hoogtes en altare verwoes het. Maar dan verneem ons weer in 2 Kronieke 33:1-9 dat Hiskia se seun Manasse die hoogtes wat sy pa verwoes het weer opgebou het, altare vir die Baäl opgerig het, gewyde pale gemaak het en hemelliggame (sterre) aanbid het. Manasse het selfs afgodsaltare in die tempel gebou en sy eie seuns geoffer. Asof nie genoeg nie, voeg 2 Kronieke 33:6 by dat by horn besig gehou het met goëlery, waarsêery, toordery en die raadpleging van geeste. Ook het hy ‘n afgodsbeeld in die tempel opgerig. So ‘n radikale afval van die godsdiens wat by by sy vader Hiskia geleer het, toon aan hoe maklik daar in daardie tyd tussen verskillende praktyke gewissel is. Die mense het geleef in ‘n wêreld waar daar baie gode en beelde en godsdiensgebruike was, in ‘n deel van die aarde waar baie volke byeen gewoon het. Alle gelowe was vir sommige dus moontlik uitruilbaar, en so het hulle gewissel van een gebruik na ‘n ander. Van dieselfde Manasse lees ons verder in 2 Kronieke 33:10-13 dat by deur die Here gestraf is en deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is om gou weer na sy berou terug te keer en toe (vers 15) dadelik die vreemde gode uit die tempel verwyder het en buite die stad weggegooi het, die altare verwyder het en die Here se altaar herstel het. En dan as sy seun Amon horn opvolg na sy dood is al die afgodspraktyke weer terug (2 Kronieke 33:21-25). Nadat by vermoor is, bestry sy seun Josia die afgodery deur dit weer uit te roei (2 Kronieke 34:3-7). Hierdie heen en weer beweeg in oud Israel se godsdienspraktyke toon duidelik dat daar nie werklik diepgang in die godsdienstige lewe was nie, maar dat die apotropiese aard van die antieke godsdienstige lewe waarna reeds verwys is, die basis van die religieuse praktyk was.

Skrywer:  Prof JP Louw