Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(4) – JP Louw

Boeke

Boeke was nie in die antieke wêreld so volop soos vandag nie. In Egipte was daar wel ‘n biblioteek en in die tempels is boeke gehou. Laasgenoemde was almal natuurlik godsdienstige boeke. Die Jode van ouds het sovêr bekend net boeke van hierdie tipe gehad. Selfs hulle geskiedkundige boeke waarin die voortyd opgeteken is, was almal ook religieuse boeke. Dink maar aan al die geskiedenisboeke van die Ou Testament. Die boeke wat vandag as die Ou Testament bekend staan, was nie al boeke wat onder die Jode bekend was nie. Hulle was die besondere boeke wat vir die tempeldiens, wetgewing en regspleging gebruik is. In Numeri 21:14 lees ons van die “Boek van die Oorloë van die Here”, en in Josua 10:13 van die “Boek van die Opregte”. Verder word in Josua 18:9 gemeld van ‘n boek waarin die verdeling van die land opgeteken is. In 1 Konings 11:41 word gepraat van die annale van Salomo (sien ook 1 Kronieke 9:1), en dikwels lees ons (soos byvoorbeeld in 2 Kronieke 36:8) dat ‘n koning se geskiedenis opgeteken is in die “Boek van die Konings”. Hierdie verwysings kon aparte boeke wees, maar dit kon ook na ander dele van die Ou Testament verwys het. In 2 Kronieke 9:29 word drie boeke (wat verhale, profesieë en Gesigte of Visioene bevat) genoem wat nie na enige deel van die Ou Testament kan verwys nie. Sien ook 2 Kronieke 12:15, 20:34.

In die ou tyd was ‘n boek baie duur en daar was net enkele eksemplare van elk omdat alles met die hand geskryf is. Van baie was daar moontlik net een kopie. In die sinagoge is van tyd tot tyd lang dele aan die volk voorgelees sodat hulle die wet kon ken. Privaat persone het nie boeke besit nie, behalwe die heel rykstes en dan moet ons ook geensins aan baie boeke dink nie-meestal net ‘n paar.