Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(6) – JP Louw

Musiek

Musiek het ‘n groot rol in godsdiens en in blote vermaak gespeel. Musikante was altyd beskikbaar. Reeds in Genesis 4:21 lees ons van Jubal wat die stamvader was van diegene wat op die lier en die fluit gespeel het. In die Bybel word dikwels van musiekinstrumente gepraat. Dit is egter moeilik om uit die Hebreeuse name van die instrumente of te lei wat elke item presies behels het, maar soms vind ‘n mens meer agtergrond en beskrywing in die ou geskrifte wat help om die tipe instrument to identifiseer. Van die belangrikstes word nou in alfabetiese orde genoem.

musiekinstrumente

Musiekinstrumente in Bybeltye 1. Kinnor-‘n tipe harp 2. Menanaim-‘n rate’ 3. Meziltaim-simbale 4. Halil-fluite 5. Hazora-‘n trompet 6. Shophar-‘n boring

 

Die halil (1 Konings 1:40) was ‘n pyp wat uit hout of been gemaak is met ‘n rietpunt wat die klank geproduseer het. Die pyp het ‘n paar gate gehad om die klanktoon te varieer. Hierdie instrument was goedskiks ‘n tipe fluit. Dit is dikwels deur gewone mense gebruik. In Lukas 7:32 lees ons van kinders wat op die fluit gespeel het om hullle maats te laat dans. In Jeremia 48:36 word weer van die klaagsang van die fluit gepraat.

Die hazora (Numeri 10:2) was ‘n metaal trompet-gewoonlik van silwer, hoewel baie ook gevind is wat van brons gemaak was.

Die kinnor (1 Kronieke 15:16) was ‘n instrument wat baie soos ‘n harp gelyk het. Die snare was van skaapderm gemaak. Dit was ‘n baie algemene instrument wat in die Tempel, maar ook by fuifpartye, gebruik is (Jesaja 5:12). Dan was die kinnor ook gebruik wanneer profete opgetree het‑blykbaar wanneer hulle hul profesieë gesing het. Die kinnor word in die oudste Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, met die Griekse woord kithara weergegee sodat kinnor in verskeie Bybelvertalings met lier (sien nebel hieronder) vertaal word. Dikwels vind ons die kinnor en die nebel saam in dieselfde lys van instrumente, soms net langs mekaar. Daar is nie sekerheid watter een die harp en watter die lier is nie. Hulle is baie na aan mekaar in beskrywings en in instrumente wat gevind is, lyk die twee verskillend soos die illustrasies aandui, maar watter naam by watter illustrasie hoort is nie seker nie. Die name wat dus hier vir die illustrasie van die kinnor en die nebel gebruik word, kan net so wel ook omgeruil word.

Die menanaim (2 Samuel 6:5) was ‘n tipe ratel met metaalringe of plaatjies wat, as dit geskud word, sy klank gegee het. In Egipte was ‘n instrument, die sistrum, bekend wat ietwat dieselfde was. Moontlik was hulle variasies van mekaar.

Die meziltaim (1 Kronieke 15:19) was simbale van koper gemaak wat teen mekaar geslaan is net soos vandag nog. Dikwels is hulle in die erediens gebruik om die begin of pouses of einde van liedere aan to dui.

Die nebel (1 Kronieke 15:16) of her was net soos die kinnor (hierbo) ‘n snaarinstrument en is nie maklik van die kinnor te onderskei nie. Die naam is ook in Egiptiese en Assiriese tekste te vind en dui soms verskeie instrumente aan.

Die shophar (Psalm 98:6) of horing, soms ook ramshoring genoem, is verwant aan die trompet. Dit het ‘n belangrike rol gespeel in oorlogstyd en in die godsdiens.

Die tof (Jesaja 5:12), waarvan daar nie hier ‘n illustrasie is nie, word dikwels vertaal met tamboeryn en was ‘n drom baie soos die moderne drom. Dit is ook soos vandag met of die hande of met stokke bespeel. Tamboeryne was egter nie so groot soos moderne dromme nie, maar hulle was nogal redelik klein handdromme wat gedra is, soms met ‘n band om die lyf, of dit is net in die hand gehou. Van hierdie tipe het Mirjam en die ander vroue in Eksodus 15:20 bespeel.