Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(7) – JP Louw

Hebreeuse musiek

‘n Besonder interessante aspek van Hebreeuse musiek was dat daar meer klem op ritme as op melodie gelê is-trouens daar was min melodie in terme van moderne westerse musiek. Tog was daar wel populêre melodieë en in die Psalms vind ons soms aanwysings wat na ‘n bepaalde melodie verwys. Die nota in Psalm 22:1 “op die wyse van Die wildsbok van die daeraad” laat mens aan ‘n populêre sekulêre lied dink. So ook Psalm 56 op die wyse van “Die duif in die hoë bome”. Psalm 60 se wysie is die van ‘n lied met die naam “Die lelie”.

MunteMusiek

Joodse muntstukke met afbeeldings van trompette en ‘n lier

Op grond van 1 Samuel 18:7 wat letterlik lees “die vroue het geantwoord en gedans en gesê” en wat verstaan kan word as “die vroue het gedans en in beurtsang gesing” word die uitdrukking beurtsang, wat meermale in die Ou Testament voorkom, as ‘n tipe kanonsang gesien, d.w.s. ‘n antifoniese lied waarin een groep ‘n ander opvolg of waarin heen en weer gesing word. Die parallellistiese aard van die Psalms waarin reëls voorkom in pare van twee wat mekaar aanvul, kan heel goed met die tipe sang gesing word.

Van die Joodse liedere is natuurlik baie in die Ou Testament bewaar in die boek Psalms. Baie is aan Dawid toegeskryf, maar heelwat ander persone het ook van die Psalms geskryf. In sommige Psalms kan die titel wat met “van Dawid” vertaal word ook beteken “oor Dawid”. In 1 Kronieke 16:42 en 25:6-7 lees ons van Heman en sy kinders wat deur Dawid aangestel is om die sang in die Tempel te lei.

shophar

Die Shophar of ramshoring word nog tot vandag toe in die Joodse godsdiens gebruik.

Die klem op ritme in die liedere val nou saam met dans wat ‘n belangrike aspek van die ou Bybelse liedere was. Dikwels in die Ou Testament word sang en dans saam genoem. Dans was ‘n besondere ekspressiewe uiting van die emosies deur die musiek opgeroep. Feeste is van vroeg of met musiek en dans opgeluister (Genesis 31:27, Eksodus 15:21). Toe die ark na Jerusalem gebring is, het Dawid voor die ark van vreugde gedans (2 Samuel 6:14).

In Numeri 10:8-10 word die blaas van die trompet vir verskillende geleenthede as instelling aangekondig: wanneer daar tot die geveg uitgetrek word moet die trompet geblaas word. Vir die Jode het dit beteken dat die Here sal hoor en hulle die oorwinning gee. As daar fees gevier word en offers gebring word, moet trompette geblaas word om die Here te herinner aan sy volk. Die ramshoring weer is geblaas om spesifieke tye aan te kondig: die begin van die jaar van die vyftigste landbouseisoen (Levitikus 25:9-10), teken van die begin van êrens heen te beweeg (Eksodus 19:13), om die Sabbat aan te kondig (Levitikus 23:23), om uit te trek en te veg (Rigters 3:27), en so om ‘n menigte sake aan te kondig. Sowel die trompet as die ramshoring is gebruik, want die twee instrumente het dieselfde doel gedien. In die Nuwe Testament word dieselfde gesê van die trompet wat sal blaas wanneer die engele die uitverkorenes bymekaar moet maak (Matteus 24:31), by die opstanding uit die dood (1 Korintiërs 15:52), en die blaas van die trompette van die engele in Openbaring 8 en 9.

Musiek was altyd deel van ‘n oorwinning (1 Samuel 18:6), die kroning van ‘n koning (2 Kronieke 23:13), die regte stemming vir profesie (1 Samuel 10:5), om van boosaardigheid bevry te word, of vir blote uitspattige plesier (Jesaja 5:12). In die ballingskap was musiek ook ‘n uiting van die gemoed (Psalm 137:1-5) en in die swaarste tye is die gebrek daaraan ook teken van smart (Jesaja 24:8-9). In die Nuwe Testament vind ons fluitspelers by die dood van ‘n dogtertjie (Matteus 9:23). Die verlore seun is met sang en musiek verwelkom (Lukas 15:25)-niks nuuts onder die son nie.

Tydens die viering van die Pasga sing die Jode tot vandag toe nog Psalm 115-118 as lofliedere om God se goedheid, trou en almag te loof. In Jakobus 5:13 word aanbeveel om lofliedere te sing as iemand sy blydskap wil vier. Tot aan die einde in die visioene van die Openbaringboek (5:9-10, 14:2-3) klink sang en lied steeds voort.

In die Nuwe Testament is daar enkele gedeeltes wat of aanhalings uit vroeë Christelike liedere is of as liedere gebruik is. Filippense 2:5-11 is miskien die mees sprekende voorbeeld wat die aard en wese van Christus en sy oorwinning as ‘n belydenis verkondig. Dit is ook moontlik dat Efesiërs 1:3-14, wat moeilik is om as ‘n stuk prosa te verstaan, moontlik verse van ‘n ou lied bevat oor die wese van die Evangelie. Maria se loflied in Lukas 1:46-55 is inderdaad ‘n lied en so ook Sagaria se lofsang in Lukas 1:67-79. Hierdie twee is vroeg reeds as kerkliedere gebruik. Die proloog tot die Evangelie van Johannes (Johannes 1:1-18) toon ook duidelik ooreenkomste met ‘n lied.

In die gedeelte hierbo oor musiek is dit belangrik om in te sien dat hoewel musiek vir vryetydse vermaak by partytjies gebruik is, dit grotendeels nie ‘n item van vermaak was nie. Ons kan dus sê dat wanneer mense ontspan het en met vermaak besig was, musiek meestal deel daarvan gevorm het, maar ons kan dit nie omkeer nie want musiek self is relatief min as vermaak gebruik.