Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(2) – JP Louw

Hebron en Berseba

As ‘n mens effens suid-wes van Jerusalem verby Betlehem reis, kom die pad eindelik by Hebron en later by Berseba uit. By Hebron is Abraham en Sara begrawe. Onder ‘n gebou wat tans ‘n moskee is, maar reeds al in die tyd van Herodes begin bou is, word ‘n grot aangewys-die grot van Magpela. Berseba is ‘n moderne stad in ‘n groen omgewing. Die landbou aldaar laat ‘n mens dink aan die Bybelse belofte dat die woestyn sal blom.

grotmagpela

Die grot van Magpela word deur ‘n bouwerk van Herodes to Hebron omring.

Verder suid in die woestyn is die oeroue stede Avdat en Shirta met heelwat oorblyfsels uit die verre verlede. Terug naby Betlehem word Filippus se put gewys waar hy die kamerling van Etiopië sou gedoop het. Daar naby is ook die oorblyfsels van Salomo se damme wat water aan Jerusalem voorsien het.

 

Die Middellandse See

Van Jerusalem na die kus van die Middellandse See kom ‘n mens gou by Kirjat-Jearim en word ‘n plek aangewys waar die verbondsark lank gebly het voor dit terug is Jerusalem toe na voltooiing van die Tempel. Daar is ook ‘n paar plekke waar die dorpie Emmaus kon gelê het. Dan kom ‘n mens by die vallei van Ela waar Dawid teen Goliat geveg het. By die kus is die oorblyfsels van Askelon uit die Romeinse tyd, maar dit laat ‘n mens terugdink aan Askelon van die Filistyne. Verder noord is Jaffa, die Bybelse Joppe waar mens aan die verhaal van Kornelius in Handelinge kan dink.

Kerkapostelpetrus

Die kerk van Apostel Petrus in Jaffa, die bybelse Joppe

‘n Ent verder is Tel Aviv-‘n moderne stad met geen Bybelse voorgeskiedenis nie, maar wat teken is van die nuwe staat Israel. Heelwat verder noord is Sesarea, ‘n Romeinse stad toe Rome Palestina oorheers het.