Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(5) – JP Louw

Nasaret

Gaan ons wes van die See van Galilea, kom ons by Kana waar die water in wyn verander is. En suid van Kana is Nasaret, ‘n woelige en lawaaierige dorp. Dit word oorheers deur die Kerk van die Aankondiging. Dit word gesê dat die kerk gebou is oor die grot onder die huis van Josef en Maria. Hier is ook ‘n baie ou sinagoge en waterputte to sien.

Naby Nasaret is die berg Tabor wat herinner aan Debora en Barak in Rigters 4. Omdat die berg so op sy eie lê het baie geglo dat die verheerliking van Jesus op die berg hier plaasgevind het. Die kerk wat op sy kruin gebou is, het ook ‘n pragtige goue mosaïek wat mense aan die verheerliking herinner as die son deur die westelike vensters daarop skyn.

 

Megiddo en Akre

Verder suid-wes is Megiddo. Hier kan besoekers deur Salomo se hek loop, die oorblyfsels van sy stalle sien asook die hoogtes waar die Kanaänitiese godsdiens sy offers gebring het. Dan is daar ook ‘n tonnel waardeur water na die stad in die antieke tyd gebring is. Onder die stad lê die prag­tige vallei van Armageddon.

En daar naby is Bet-Searim, ‘n Joodse heiligdom. Die Sanhedrin is hierheen verban na die finale verwoesting van Jerusalem deur die Romeine. Hier is ook katakombes in die sagte rots uitgegrawe. Verder is daar oorblyfsels van ‘n ou oliepers in ‘n sinagoge.

katekombes

Ingang na die katakombes van Bet-Searim.

Noord-oos verby die berg Karmel aan die kus is die stad Akre, die Bybelse Akko waar die kruis­vaarders geland en versamel het. Die kruisvaarders het ‘n groot invloed op Palestina uitgeoefen en baie kastele nagelaat in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea en by die berg Hermon.

 

Noord van Galilea

Noord-wes van Kapernaum le Safad (Zefat) waar die Jode, veral na vervolging in Europa, hulle terugkeer na Palestina begin het. Hier is ou sinagoges to sien en die mooi stad op die heuwels is ‘n mekka vir kunstenaars.

Verder noord is Hasor wat die grootste stad in die Kanaänitiese tyd was. Argeologies is Hasor van groot belang. Dit was een van die bes beplande stede in oud Israel. Daar is ‘n goeie museum wat baie aspekte van die Kanaänitiese tyd uitbeeld. Verder noord by Banias is ook een van die bronne van die Jordaan en hier sou, volgens oorlewering, Petrus sy geloofsbelydenis gemaak het: “U is die Seun van God”. Nog verder noord is die berg Hermon wat ook deur ander as die berg van die verheerliking beskou word.

nisse

Nisse in die rots te Sesarea Filippi waar ons beelde van Pan was.