Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(2)- Hennie Stander

Werkers met klei

Klei wat deur die Israelitiese pottebakker gebruik is, is in hul onmiddellike omgewing uitgegrawe en dit kom van die grond direk onder die oppervlakte af. Die klei is daarna vir ‘n tyd aan die wind en weer blootgestel. Dit het die klei laat verbrokkel en ook van alle chemiese onsuiwerhede ontslae laat raak. Dit is daarna met water gemeng en tot kneebare klei getrap. Vervolgens is dit na ‘n bank geneem waar daar sorgvuldig net die regte hoeveelheid water bygevoeg is om dit tot die regte vastigheid te bring sodat daarmee gewerk kon word. Soms is bymiddels, soos kalksteen, tot die klei toegevoeg, ten einde te verseker dat die eindproduk hitte beter kon weerstaan en sodat die artikel derhalwe ook vir kookdoeleindes gebruik kon word. In Jesaja 41:25 praat Jesaja oor die uittrap van die klei.

potteenkruike

Toe die Jode begin leer het om pottebakkery te beoefen, het hulle ‘n bedryf betree wat reeds ‘n baie lang geskiedenis gehad het. Eenduisend vyfhonderd jaar vroeër is die eerste keer met pottebakkery begin deurdat klei soos ‘n lang wurm gerol is, en daarna sirkelvormig neergesit is; vervolgens is die een rol klei bo-op die ander geplaas, rol vir rol, totdat die bak of kruik voltooi is. Die riwwe aan die buitekant daarvan moes vervolgens glad gemaak word en is daarna versier. Dit was baie moeilik om ‘n gelyk en gladde vorm aan die buitekant van die houer te kry. Dit is egter later ontdek dat sulke potte of bakke baie makliker gemaak kon word indien dit in ‘n sirkelvormige gat in die grond geplaas word en dit dan teen die wande van die gat in die rondte gedraai word.

Die pottebakkerswiel

Hierdie rotasieproses is verder ontwikkel deur iemand by wie die gedagte opgekom het om die klei op ‘n horisontale wiel te plaas. In die Ou Testamentiese tye is ‘n plat wiel van hout, klei of kalksteen, horisontaal rondom ‘n as op die werkbank met die hand gedraai. Die as van die wiel het vertikaal in die werkbank gesteek. Een persoon het die wiel ge­draai terwyl die ander een die klei daarop kon vorm. Toe Jeremia na die pottebakker se huis gegaan het en gesien het hoe ‘n pot gemaak word, en hoe hy weer iets anders daarvan gemaak het toe sy eerste poging misluk het, het hy waarskynlik na so n skyf of wiel gekyk (Jeremia 18:1-4). Dit was eers in 200 v. C. dat die gedagte by iemand in hierdie bedryf opgekom het om ‘n tweede wiel, op die hoogte van ‘n mens se voete, vas te maak aan die onderpunt van die as wat ook die boonste wiel vasgehou het. Hierdie tweede wiel het dit vir die persoon wat die klei gevorm het, moontlik gemaak om nou self die wiel met sy voete te draai. In Jesus Sirag, ‘n apokriewe boek wat omtrent in dieselfde tyd geskryf is, het ons ‘n pragtige beskrywing van hierdie tweede soort wiel: “So sit die pottebakker by sy werk, en by draai die wiel in die rondte met sy voete . . . hy vorm die klei met sy arm, en met sy voete ervaar by die krag daarvan.” (Jesus Sirag 38:29).

Pottebakerswiel

Skrywer:  Prof Hennie Stander