Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(5)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(5) – Hennie Stander

Die reël van huwelike
Jongmense het gewoonlik nie self besluit met wie hulle sou trou nie. Dit was dikwels ‘n geval van eers trou en later liefhê. Nogtans het dit tot redelike stabiele huwelike gelei (sien byvoorbeeld Genesis 24:67). Die jongman kon wel ook sy voorkeure bekend maak (Genesis 34:4; Rigters 14:2), maar by kon ook self die besluit neem, selfs teen die wense van sy ouers (Genesis 26:34-35). Die praktyk om huwelike te reël het nie beteken dat die gevoel van die partye wat daarby betrokke was heeltemal misken is nie (Genesis 24:58), of dat daar nooit liefde voor die troue bestaan het nie (Genesis 29:10-20).

Nadat die huweliksvoorstel. gemaak is, begin die onderhandelinge tussen die vader van die bruid en die vader van die bruidegom. Daar moes ooreengekom word oor die bedrag geld (die mohar) wat die bruidegom aan die bruid se vader moes betaal (Genesis 34:12; Eksodus 22:16). Dit is egter belangrik om daarop te let dat die betaling van die bruidsprys nie impliseer dat die bruid soos ander besittings of handelsware aangekoop is nie. Die bedoeling van die betaling van die mohar was veel eerder om die familie te vergoed vir hul verlies. Die verskil word duidelik wanneer ‘n mens dit vergelyk met ‘n ander praktyk wat in dieselfde tyd bestaan het en waarvolgens ‘n vader sy dogter kon verkoop sodat sy dan as slavin die byvrou van die koper geword het (lees Eksodus 21:7-11).

Die vader kon wel die rente-opbrengs van die bruidskat gebruik, maar nie die bruidskat self nie omdat dit vir die bruid bewaar moes word vir ingeval sy ‘n weduwee word of haar man van haar skei. Dit is moontlik waarna Ragel en Lea verwys het toe hulle hul vader daarvan beskuldig het dat hy hulle “verkoop” het en toe self die geld opgebruik het (Genesis 31:15). Wanneer geld nie as bruidskat betaal kon word nie, moes diens gelewer word (Genesis 29:18; sien ook 1 Samuel 18:25). Benewens die mohar of bruidskat, het die bruidegom ook ander geskenke aan die skoonfamilie gegee vir die aanvaarding van die huweliksvoorstel (Genesis 34:12). Die bruid se vader het weer op sy beurt geskenke aan die bruid gegee (Genesis 29:24, 29; Rigters 1:12-15).

Huwelike is, sovêr as wat dit. moontlik was, gereël met lede van jou eie stam- of familiegroep. Abraham het sy dienskneg gestuur om ‘n bruid vir Isak te gaan haal uit sy eie mense (Genesis 24:3-4), en Jakob is na dieselfde plek gestuur om vir hom ‘n vrou te gaan vind (Genesis 28:2). Simson se-ouers was ontsteld omdat hy nie ‘n vrou uit sy eie stam geneem het nie (Rigters 14:3). Huwelike het egter ook buite stamverband plaasgevind (Genesis’ 41:45; Rut 1:4). Soms het dit om politiese redes geskied (1 Konings ll:l). Dit is egter nie deur God goedgekeur nie omdat mense van ander stamme ander gode aanbid het en dit het die godsdienstige lewe van die mense negatief beïnvloed (1 Konings 11:4). Die sluit van ‘n huwelik met iemand wat ‘n naby bloedverwant was, is in Levitikus 18:6-18 verbied.

Verlowing
Wanneer daar ooreengekom is om te trou, was die paartjie verloof. So ‘n ooreenkoms was veel meer bindend as die verlowing binne die moderne samelewing. ‘n Man wat verloof was aan ‘n meisie, is vrygestel van militêre verpligtinge, selfs al was hulle nog nie getroud nie (Deuteronomium 20:7). Wanneer ‘n meisie, wat verloof was, deur ‘n ander persoon onteer word, mag laasgenoemde nie met
haar ‘n huwelik aangaan soos dit gewoonlik die geval was nie (Deuteronomium 22:28-29) omdat sy reeds aan iemand anders verloof was. In so ‘n geval van ontering, is die doodstraf opgelê.

Daar was ‘n redelike tydsverloop tussen ‘n verlowing en die voltrekking van die huwelik. Rebekka is in Mesopotamia aan Isak beloof, maar die huwelik is eers voltrek nadat sy by hom in Kanaän aangesluit het (Genesis 24:67). Jakob het sewe jaar gewag voordat by kon trou met die vrou wat aan horn beloof is (Genesis 29:15-21). Saul het beloof dat by Merab aan Dawid as vrou sou gee, maar “teen die tyd dat sy aan Dawid gegee moes word” (1 Samuel 18:17-19), is sy aan iemand anders gegee. ‘n Verlowing kon wel verbreek word, maar gewoonlik slegs teen betaling van ‘n boetegeld omdat dit as ‘n wettige kontrak beskou is.

Die paartjie was nie toegelaat om seksuele gemeenskap te hê tydens die periode van verlowing nie. Juis daarom het Maria se swangerskap so ‘n verleentheid geskep en het Josef dit oorweeg om die verlowing stilweg te verbreek (Matteus 1:19). Josef het haar van egbreuk verdink, maar wou dit nie openbaar maak nie aangesien dit dan sou beteken dat Maria gestenig moes word.

 

Die troue
Dit is interessant dat die sluiting van ‘n huwelik in Israel ‘n suiwer siviele en sosiale aangeleentheid was, sonder dat dit met enige godsdienstige rites gepaard gegaan het. Christene sal verbaas wees wanneer hulle besef dat dit eintlik eers maar sedert die jongste verlede is dat daar verwag is dat ‘n priester of ‘n rabbi by ‘n huwelikseremonie teenwoordig moet wees. Die sluiting van ‘n huwelik was verder ook ‘n regsaangeleentheid waartydens ‘n skriftelike huwelikskontrak opgestel is (Tobias 7:13).

Vir die troue is daar mooi aangetrek. Die bruid het haar vir die bruidegom versier (Openbaring 21:2). Sy het juwele aangesit en ‘n krans op haar kop (Jesaja 61:10; vgl Esegiël 16:11-12). Verder het sy ‘n sluier oor haar gesig gedra (Hooglied 4:1,3; 6:7). ‘n Bruid is so mooi aangetrek en versier dat sy dit nooit daarna sou vergeet het nie (Jeremia 2:32). Die bruidegom, weer, het ‘n kroon op ‘n priesterlike wyse gedra (Jesaja 61:10; vgl Hooglied 3:11).

Hierna het die prosessie na die bruid se huis gevolg. Die bruidegom en sy vriende, vergesel van musikante (1 Makkabeërs 9:39), het na die bruid se huis vertrek. Indien die huwelik in die nag plaasgevind het, is die donker pad met olielampies deur die bruilofsgaste verlig. Die bruid, wat ook haar metgeselle gehad het (Psalm 45:16), het ‘n sluier gedra (Hooglied 4:1,3; 6:7). Juis daarom het Rebekka haar gesluier toe sy Isak, haar verloofde gesien het (Genesis 24:65).

 

Die bruilofsfees
Hierna het ‘n groot maaltyd gevolg (Genesis 29:22). Ook Simson het so ‘n feesmaal gehou tydens sy huwelik en ons lees dat “dit die gewoonte was onder die jongmanne” om so ‘n feesmaal te hou (Rigters
14:12). By hierdie huweliksfeeste is daar baie gesels, geëet en gedrink. By die bruilofsmaal te Kana het Jesus bykans 600 liter wyn aan die gaste voorsien maar die gaste het reeds soveel gedrink dat die seremoniemeester dit as ‘n jammerte beskou het dat hierdie wyn nie met reg waardeer sou kon word nie (Johannes 2:6-10).

Die feesvieringe het dikwels vir sewe dae lank aangehou (Genesis 29:27; Rigters 14:12) maar soms het dit selfs tot veertien dae geduur (Tobias 8:20; 10:7). Reeds in die eerste nag van die fees is die huweliksdaad voltrek en die sluier is eers daarna van die bruid afgehaal. Hierdie gebruik het Laban in staat gestel om Ragel met Lea om te ruil en Jakob het eers die volgende oggend agtergekom dat by bedrieg is (Genesis 29:23-25). Dit was baie belangrik om te kon bewys dat die bruid nog ‘n maagd was toe die huwelik voltrek is. Derhalwe is die met bloed bevlekte kledingstuk van die eerste huweliksnag deur die bruid se ouers bewaar sodat dit later as bewys kon dien sou die bruidegom kwaadwillige praatjies oor sy bruid versprei (Deuteronomium 22:13-21).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander