Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (1) – Hennie Stander

Handelaars was ten nouste gemoeid met mates, gewigte en geld. Voordat ons kyk na hoe handelaars gewerk en geleef het, moet ons eers die mates, gewigte en geldeenhede van die Bybel van nader bekyk.

Lengtemates

Lengtemates was geskoei op die afmetings van die menslike liggaam, naamlik van die vinger, die palm, die span (die afstand van die punt van die duim tot by die punt van ‘n pinkie van ‘n oopgestrekte hand), die el (afstand van die elmboog tot by die punt van die middelvinger), en die vaam of vadem (die afstand van die punt van die middelvinger tot by die punt van die ander mid­delvinger wanneer die arms heeltemal oopgestrek is). Die volgende lengtemaattabel kan dus opgestel word:

4 vingers             = 1 palm

3 palms               = 1 span

2 spanne              =     1 el

4 elle                   = 1 vaam

Hierdie stelsel was nie sonder sy probleme nie. Die afmetings van liggaamsdele verskil van een persoon tot die ander, en daar is aanduidings dat daar verskillende lengtes van ‘n el was, wat gewissel het vanaf ongeveer 45 cm tot ongeveer 52 cm. Daar was ook ‘n lang of “koninklike” el van 7 palms of 28 vingers (alle “koninklike” mates was langer as die standaard mates); verder was daar beide ou (2 Kronieke 3:3) en nuwe ellemates (Esegiël 40:5). Oor die algemeen egter was die stelsel baie duidelik en die lengtemates kon redelik akkuraat bereken word.

Langer afstande is op ‘n meer vae basis bereken. Dit is byvoorbeeld gedoen in terme van die aantal dae wat dit geneem het om van die een punt tot by die ander te reis (bv Genesis 30:36). Baie later het die Grieke ‘n lengtemaat gebruik wat bekend gestaan het as ‘n stadion (of stadia in die meervoud), wat net oor die 180 m lank was en wat in die apokriewe boek Makkabeërs genoem word. Anders as by ons, is daar in die Bybelse tyd nie van lengtemate gebruik gemaak om ‘n oppervlakte se grootte te bereken nie. ‘n Akker was die grootte van die land wat ‘n os in een dag kon ploeg (Jesaja 5:10). Die maksimum afstand wat op ‘n Sabbatdag geloop kon word (‘n Sabbatsreis: Handelinge 1:12) was 2 000 tree, m.a.w. ‘n mens kon op ‘n Sabbatdag ‘n afstand van 1 000 tree (‘n Romeinse myl) heen en weer loop (ongeveer 880 m).

Skrywer:  Prof Hennie Stander