Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(2) – JP Louw

Die leer in die tyd van Saul en Dawid

Gedurende Saul en Dawid se regerings het die leër begin ontwikkel. In 1 Samuel 14:2 lees ons hoe Saul omtrent seshonderd man by horn gehad het om te veg-al ‘n klein leër in terme van destydse bendes. In verse 1 en 6 lees ons verder van Jonatan se wapendraer wat op iets meer as “elke man vir homself” dui, in ‘n sekere sin die begin van professionele vegters. In 1 Samuel 18:1-5 verneem ons dat Dawid deur Saul aangestel is om vir Saul oorlog te voer en sy soldate te beheer.

In hierdie tyd moes die soldate self kos voorsien soos hulle getrek het deur dit van die inwoners te kry of te neem-of self deur familie voorsien te word. So lees ons in 1 Samuel 17:17-18 hoe Dawid vir sy broers kos geneem het toe hulle teen die Filistyne moes veg. By geleentheid het Abigail vir Dawid se manne kos as geskenke geneem om met hom te onderhandel (1 Samuel 25:18).

Toe Dawid vir Saul gevlug het, was daar ongeveer seshonderd manne wat Dawid gevolg het (1 Samuel 23:13) en so Dawid se private leer gevorm het. In 2 Samuel 23:8-39 vind ons ‘n lys van Dawid se vegters waaronder dertig man offisiere was. Abisai (vs 18) was die hoof van hierdie dertig terwyl Joab oor die hele Israelitiese leer die bevel gevoer het (2 Samuel 20:23). Benaja was oor Dawid se lyfwag aangestel (2 Samuel 20:23 en 23:23). Hier het ons reeds ‘n gestruktureerde leër. 1 Kronieke 27:1-15 stel dit nog duideliker.

Uit 1 Samuel 27:1-12 sien ons hoe Dawid en sy manne weinig meer was as skurk-bendes wat geplunder en gemoor het vir eie gewin. Soms stel ons die Bybelse figure voor as voortreflike helde en vergeet dat hulle in werklikheid genadelose bendes was wat gemoor het soos dit hulle gepas het. Hieroor kan ook 2 Samuel 8:2 gelees word. Wanneer Dawid perde ongeskik vir oorlogvoering wou maak, het hy hulle hakskeensenings afgesny.

Salomo se leër

Salomo het deur handel (1 Konings 10:22, 28-30), geskenke (1 Konings 10:10) en belastings (1 Konings 10:15) rykdom versamel (1 Konings 10:14) en kon so ‘n werklike leër opbou. Sy arbeiders het hy nie uit sy eie volk geneem nie, maar uit dié wat hy oorwin het (1 Konings 9:15). Sy eie mense het amptenare en soldate geword (1 Konings 9:23). Salomo het ‘n mag van strydwaens en perde opgebou =1400 strydwaens en 12000 perde waarvan sommige in die stalle by die paleis gehou is (2 Kronieke 1:14). Van die oorblyfsels van Salomo se stalle kan vandag nog gesien word.

Salomo

Die vesting te Arad is gedeeltelik herstel. Salomo het dit as een van sy vestings versterk

‘n Leër soos dié van Salomo het baie geld gevra en dit is geen wonder dat na Salomo en die skeuring van die ryk dit nie kon voortgaan op dieselfde skaal nie. Al meer het die leër tot bendes teruggesak en in die tyd van die Nuwe Testament het die Jode net ‘n Tempelwag gehad wat deur die Romeinse oorheersers toegelaat is om op die tempelterrein orde te hou. Moontlik was van hierdie wagte onder dié wat Jesus in Getsémané gevange geneem het (Johannes 18:3).

Skrywer:  Prof JP Louw