Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(8) – JP Louw

Jerusalem in Herodes se tyd

Die geskiedenis van Jerusalem tussen die Hasmoneërtyd en die tyd van Jesus is besonder tragies Die Hasmoneërs het heelwat onderlinge onenighede gehad. In hulle pogings om oral bondgenote teen mekaar te soek het hulle met ander moondhede ooreenkomste gemaak sodat Jerusalem aan Romeine, Partiërs en Herodiane onderworpe geraak het. Toe die Romeine in die gebied was, het Antipater, koning van Edom, ‘n ooreenkoms met die Romeine gemaak waardeur hy beheer oor Jerusalem verkry het. Die Parte het hom verdryf, maar sy seun Herodes het met Romeinse hulp die stad herower en so “koning” van die Jode geword. Bekend as Herodes die Grote het hy in gedurige wantroue geleef, want die Jode het hom gehaat. Om die Jode te probeer paai, het Herodes die Tempel herbou. Hy het die gebied waar Salomo se Tempel gestaan het asook die paleis van Salomo, gelyk gemaak en so ‘n area van 360 by 270 meter verkry waarop hy die nuwe Tempel gebou het-tweemaal so hoog soos dié van Salomo. Die binnehof was omring met pragtige pilaargange en die hele Tempel was ‘n sieraad van die antieke wêreld. Dit was in hierdie Tempel waar Jesus ook opgetree het. Herodes het verder verskeie goed verskanste paleise gebou: Masada en Herodion op die platteland, en twee forte of kastele in Jerusalem. Van laasgenoemde was een die Burg Antonia ter ere van die Romeinse keiser Marcus Antonius in die noordweste hoek van die Tempelkompleks wat oor die Tempel uitgekyk het. Hier het Jesus voor Pilatus verskyn (Johannes 18:33) en het Paulus op die trappe wat aflei na die Tempel ‘n geskikte verhoog gehad om die skare toe te spreek (Handelinge 21:37, 40). ‘n Ander was ‘n fort met drie torings wat Herodes as paleis gebruik het, gebou by die westelike muur op die rand van die heuwel. Hier het Jesus voor Herodes verskyn vroeg die oggend voor die kruisiging (Lukas 23:7).

HerodesPaleis

Op hierdie kruin tussen Betlehem en die Dooie See het Herodes sy paleis gebou

Herodes het ook ‘n groot muur gebou van die Burg Antonia of tot by sy paleis. Hierdie muur het noordwes uitgekring ver buite die stad en het ‘n mark, die bad van Betesda (Johannes 5:2) en woonhuise ingesluit. Die muur moes met ‘n skerp draai terugkom om ‘n ou steengroef te vermy wat later in ‘n tuin verander is, maar waar destyds gewoonlik op die rif veroordeeldes ge-kruisig is. In die steengroef was ook grafte in die wand gegrawe waar Jesus moontlik neergelê is na die kruisiging.

HerodesMasada

Die vesting Masada wat Herodes gebou het. Die sandhoop in die middel is deur die Romeine in 74 n.C. opgehoop om die vesting in te neem.

In 70 n. C. is Jerusalem deur die Romeinse generaal Titus verwoes na ‘n opstand deur die Selote, ‘n groep vurige Joodse nasionaliste. Na nog ‘n opstand in 135 het keiser Hadrianos die gebied suid van die Tempel omgeploeg en ‘n nuwe stad aan die noordekant gebou wat by Aelia Capitolina genoem het. So het die Tempel as’t ware suidwaarts geskuif na die suidoostelike hoek van die stad waar dit vandag nog is

Skrywer:  Prof. JP Louw