Gee ons vandag ons daaglikse brood

 

His Kingdom cannot fail–He rules o’er earth and heaven

The keys of death and hell are to our Jesus given.”

Charles. Wesley

 

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Die eerste element van gebed behoort aanbidding of lofprysing te wees – lees net die psalms. Natuurlik moet gebed ook belydenis van sonde insluit – as ons in God se teenwoordigheid kom, sien ons hoe ver ons tekortskiet. Danksegging – ons onthou God se genade en barmhartigheid – is nog ‘n belangrike element van gebed. Laastens moet gebed ook ons versoeke vir die behoeftes van ander en onsself insluit. Ongelukkig is dit gewoonlik waar ons begin – versoeke.

 

Hierdie versoek vir daaglikse brood beklemtoon ons daaglikse behoefte aan kos, maar ook dat dit God is wat dit voorsien. Hier wys Jesus vir ons hoe ons vir ons daaglikse behoeftes moet bid. Hier is ‘n paar belangrike lesse vir ons,

  • Jesus bid nie dat God ons brood aan ons moet verkoop nie; ook nie dat Hy dit vir dienste van ons kant sal ruil nie. Nee, ons vra: Gee ons … Ons gaan na Hom as bedelaars. Die Bybel sê dat ons op Hom kan vertrou, want Hy reageer op sulke versoeke: Elke goeie gawe en elke goeie geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader (Jakobus 1:17). God is bekommerd oor ons alledaagse behoeftes soos eet en drink. Jesus het nie gesê dat ons vir brood moet vra sodat ons laat kan slaap nie. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige (1 Timoteus 5:8). Ons moet dus vertrou dat God sal voorsien, maar ons moet ook alles in ons vermoë doen om te voorsien.
  • Jesus sê ons moet vir ons daaglikse brood vra – nie ‘n week of ‘n maand se voorraad nie. Hoekom belemtoon Jesus dat ons daagliks moet vra? Hy wil ons leer om ons afhanklikheid van sy voorsiening elke dag te erken. Hy is gewillig om in ons daaglikse behoetes wat ons voor Hom bring, te voorsien. Ons is voortdurend van God afhanklik om te voorsien.
  • Jesus bedoel nie dat ons net vir brood moet bid nie. Brood was ‘n stapelvoedsel vir die Jode. In die Ou Testament is dit ‘n kragtige simbool van God se voorsiening Dink maar net aan die manna wat Hy voorsien het in die woestyn. Ook is ons kultuur is brood ‘n simbool van voorsiening – ons praat van ‘n broodwenner. Ons kom na God in nederige afhanklikheid – ons kan ons behoeftes aan Hom bekend maak.

Jesus het gesê dat ons God met ons behoeftes moet nader. Hy sal voorsien.