Geen jota of tittel

The law, in its majestic equality, forbids the rich as well as the poor to sleep under bridges, to beg in the streets, and to steal bread. -Anatole France, skrywer en Nobel pryswenner (1844-1924)

Geen jota of tittel

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Jesus wys almal tereg wat God se opdragte ignoreer of afwater. Hy dink aan die volle woord van God: Want voorwaar Ek sê vir julle, totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie (Matteus 5:18 – OAV). ‘n Jota is die kleinste letter in die Griekse alfabet;  ‘n tittel is ‘n klein merk wat soortgelyke Hebreeuse woorde van mekaar skei. Jesus dink dus hier aan die geskrewe woord van God. Jesus het nooit God se woord verwerp nie – Hy het dit wel vervul en verduidelik sodat mense dit beter kan verstaan. Jesus interpreteer die woord reg en pas dit toe.

 

Het Jesus nie soms die Skrif aangepas nie? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

  • Die sabbatdag. Het Jesus nie die Skrif ten opsigte van die Sabbat afgewater  nie? Jesus sê dat die Fariseërs beperkings op die Sabbat plaas wat die standaarde van die Skrif oorskry. Hy verwys onder andere na Dawid en sy manskappe wat die offerbrood geëet het – slegs die priesters mag dié brood geëet het.
  • Wat van rein en onrein kos? Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan hom onrein kan maak nie. Hier is ‘n voorbeeld van waar Jesus die wet vervul. Hy leer vir ons die diepere betekenis van die reinheidsvoorskrifte – ons moet na Jesus in gehoorsaamheid kom om by Hom die reiniging te kry wat ons nodig het.
  • Wat van egskeiding? In Matteus 19:3 – 9 antwoord Jesus ‘n vraag van een van die Fariseërs oor egskeiding. Die liberale Jode het Moses se toegewing ten opsigte van egskeiding as ‘n blanko tjek vir egskeiding gesien. Jesus bring hulle egter hier terug na die ware betekenis van die teks – Hy gaan terug tot by Genesis.
  • Wat van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand? (Matteus 5:38) Jesus korrigeer hier die verkeerde toepassing deur die Jode. In die tora lees ons dikwels van die wet van vergelding. Die doel is dat vergelding die gemeenskap teen kwaaddoeners moet beskerm. ‘n Oog vir ‘n oog verbied buitensporige strawwe. Jesus se siening verwys na regverdige strawwe en skakel persoonlike wraak uit.

Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Veral in Matteus 5 wil Jesus sy gehoor die ware betekenis van die Skrif laat verstaan. Hy korrigeer nie die wet nie, maar Hy wil nie hê dat God se wet deur menslike tradisie omseil moet word nie. Hy vereis gehoorsaamheid aan die letter, maar ook die gees van die wet.

Die Heilige Gees, God en die Skrif is nie drie verskillende sprekers nie. Almal verwys na dieselfde goddelike skrywer.