Gees van die Seun en die Heilige Gees – Francois Malan

Jan Smith vra:

Joh 15: 26. Praat van die Gees van die waarheid wat van die Vader UITGAAN. Ampl Bible: (proceeds) from the Father.
Gal 4: 6. En omdat julle kinders is, het God die GEES VAN SY SEUN in julle uitgestuur en Hy roep ABBA Vader.. Ampl Bible: God has sent the (Holy) Spirit of His Son into your hearts —.
Fil 1: 19. Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek. Ampl: the Spirit of Jesus Christ (the Messiah).

Op die Pinksterdag ontvang die dissipels die Heilige Gees wat van God uitgaan.
Nou praat Paulus van:

Die Gees van Sy Seun.
Die Gees van Jesus Christus.
Ek sal dit op prys stel as die verband tussen die terme Gees van die Seun/Jesus Christus en die Heilge Gees verklaar kan word, asseblief?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vir Filippus wat vir Jesus gevra het: Wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg, het Jesus geantwoord: Ek is al so ‘n lang tyd by julle en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen..’ (Joh 14:8-10).

So kan 1 Kor 8:6 sê: Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom,

En één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’

Dieselfde as Joh 1:1-3: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die

Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en

sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

Daarmee verwys Johannes na Genesis 1:3-26 waar telkens staan: ‘Toe het God gesê…’ –

God skep deur sy Woord, en Joh 1:1 sê Jesus is die Woord van God was skep.

 

Die Heilige Gees het ook deelgeneem aan die skeppingswerk. In Gen 1:2 staan: Die Gees van God het oor die waters gesweef – die Hebreeuse woord beteken: vrugbaarmakend gesweef. Hy het lewe geskep in die skepping (Ps 33:6: Deur die woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër), ook toe God sy lewensasem in die mens geblaas het (Gen 2:7). En Hy is nou nog daarmee besig (Job 33:4: Die Gees van God het my gemaak, en die asem van die Almagtige het my die lewe gegee), ook in die skepping (Ps 104:30: Stuur U u asem, word hulle – die diere – geskape en U vernuwe die aangesig van die aarde).

 

Dat die Heilige Gees as Persoon uit die Vader en die Seun uitgaan, soos asem uit sy mond (en die Seun as God se woord uit sy mond) verwys na die intieme verhouding tussen die Gees, die Vader en Jesus Christus, sodat die Heilige Gees uitdruklik die Gees van God en die Gees van Christus genoem kan word. In Romeine 8:9 word Hy die Gees van God en die Gees van Christus in een vers genoem.

 

Die Heilige Gees is ook intiem betrokke by Jesus. Die ganse lewe van Jesus staan van begin tot end onder die leiding van die Gees. Andersyds staan die Gees volledig in diens van Christus wat Hom stuur om sy, Jesus se, werk op aarde te doen.

Met sy geboorte word Maria swanger deur die werking van die Heilige Gees (Matteus 1:18; Lk 1:35). Vir sy werk word Hy gedoop met die Gees (Mk 1:10) en die Gees stuur Hom om deur die duiwel versoek te word (Mt 4:1). Hy keer daarna terug ‘vol van die krag van die Gees’ (Lk 4:14), en in sy eerste preek identifiseer Hy Hom met Jesaja 61:1-12: die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Sy hele bediening is in die krag van die Gees (Lk 10:21: Jesus het deur die Gees uitgejubel in sy lof aan sy Vader; Joh 3:34: Jesus kan die woorde van God spreek want die Vader het nie die Gees in geringe mate aan Hom gegee nie – maar ten volle; Hd 10:38: God het Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf; Mt 12:28: Ek dryf die demone uit deur die Gees van God; vgl. Jes 11:2 se belofte). Ook in sy lyding, sterwe en opstanding word Hy gelei en versterk deur die Gees (vgl. Rom 8:11).

Aan die anderkant werk Christus deur die Gees voort in die wêreld. Ook Hy stuur die Gees (Joh 15:26 die Gees wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur; Joh 16:7 As Ek weggaan sal ek Hom na julle stuur). Die Gees sê net wat Hy van Christus hoor – Joh 16:15: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekendmaak. Hy getuig oor Jesus (Joh 16:26). Niemand kan sê: ‘Die Here is Jesus!’ behalwe deur die Heilige Gees nie (1 Kor 12:3).

 

In Johannes 14:16-17 belowe Jesus dat Hy die Vader sal vra en Hy sal vir hulle ‘n ander Helper/Trooster/Voorspraak gee sodat Hy ewig by julle kan wees…Hy sal by julle bly en in julle wees. En in dieselfde hoofstuk, 14:23: As iemand My liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

 

Die Heilige Gees gebruik die woord van God om ons te oortuig van ons sonde, en van ons geregtigheid wat Jesus vir ons aan die kruis verwerf het en so ons verhouding met God reg gemaak het, en van oordeel as ons ons nie bekeer nie (Joh 16:8-11). So lei Hy ons tot die besluit om te glo dat Jesus vir ons sonde gesterf het (wat Jesus slegs kon doen omdat Hy God is), en verbind die Gees ons in die geloof aan die Seun van God sodat ons kinders van God genoem kan word deur ons verbondenheid aan sy Seun, deurdat die Gees self in ons kom woon het (vgl. Rom 8:11,14,16).

 

1 Johannes 4:8,16 sê God is liefde. Liefde is ‘n verhouding. So is liefde die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Hulle eenheid in ‘n liefdeseenheid, hulle liefdesverbondenheid aan mekaar.

Jesus se soendood aan die kruis is God se hoogste liefdesoffer vir die wêreld wat Hy so lief het dat Hy sy Seun gegee het, sodat elkeen wat in Jesus glo (glo deur die werking van die Heilige Gees) die ewige lewe kan hê – ewige lewe is ‘n lewe in gemeenskap met God, wat nou reeds begin met God die Heilige Gees wat in elke gelowige woon en ons verbind aan Jesus as ons Verlosser en aan die Vader as ons Versorger se liefde. Hy stort sy liefde in ons om aan dit ander te gee (1 Joh 4:19: Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het). Jesus se nuwe gebod aan sy dissipels op die vooraand van sy kruisiging was: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet (Joh 13:34; 15:12).

 

Die term Heilige Gees?

Die woord heilig beteken letterlik afgesonderd vir God en toegewyd aan God. Daarom identifiseer ons met die naam die Heilige Gees Hom as die Gees wat saam met die Vader en die Seun die ware God is, wat toegewy is aan die Vader en die Seun. Dit is ‘n onderlinge liefdestoewyding. So noem Jesus ook God sy Heilige Vader (Joh 17:11) en word Jesus genoem ‘U heilige dienskneg Jesus’ in Hand 4:27,30).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan