Geestelik, maar nie godsdienstig nie

 

There is no such virtue as temperance in spiritual feasting. —Jonathan Edwards

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie

“Ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie.” Dit is iets wat ons vandag baie algemeen, veral by jongmense, hoor. Wat beteken dit? Baie jongmense gebruik dit om hulle persoonlike verhouding met Jesus te beklemtoon. Godsdiens, vir hulle, beteken reëls en gebruike – daardie wettisisme wat Jesus by die Fariseërs veroordeel het. Jong Christene distansieer hulle van al daardie dinge – godsdienstige tradisies wat gelowiges se aandag van dit wat waarlik belangrik is, aftrek.

 

Dit is interessant, want tot dusver het die kerk geglo dat “Geestelik, maar nie godsdienstig nie” na mense sonder enige godsdienstige affiliasies verwys. Nou begin ons besef dat dit na toegewyde Christene mag verwys – veral jongmense wat iets oor die gehalte van hulle geloof wil sê. Baie Christene is baie versigtig vir tradisie. In die Katolieke en Ortodokse kerke speel tradisie ‘n baie groter rol. Protestantse kerke beklemtoon persoonlike geloof wat nie deur gebruike of menslike tradisies belemmer word nie.

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Jongmense wil dikwels hiermee vir hulle van godsdienstige tradisies distansieer. Tradisie vir hulle is nie iets onskuldig nie – dit is iets wat vermy moet word. Dit geld nie net vir godsdiens nie – ook op die gebied van die politiek skram jongmense weg van tradisie.

 

Is dit nie tyd dat ons weer baie ernstig na ons tradisies kyk nie? Tradisie moet die besware van skeptici, maar ook van baie gelowiges, oorkom.