Geestelike Hoogmoed

Geestelike Hoogmoed – Jan van der Watt

’n Leser vra:

Ek lees vandag se Vers ’n Dag en die 1ste skrifgedeelte van Hennie Symington (1 Kor 1 21-22 

Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.) bring onmiddellik by my vrae op rondom kennis en geleerdheid as dit by Bybel (of dan eerder “geestelike” aangeleenthede) kom. Ek praat nie nou van slegs die basiese onderskeiding tussen reg en verkeerd, goed en sleg of die uitleef en toepas van die 10 gebooie en dit wat Jesus in sy bediening ons geleer het nie.

Ek wil graag eerlik wees en die stelling maak dat ek keelvol is vir mense wat dink dat hulle ons Hemelse Vader se uitverkorenes is. Ek probeer nie hier die kwessie rondom uitverkiesing al dan nie aanraak nie. Ons word elke dag gebombardeer deur mense wat drome droom, visioene het, as profete gekies is en die boodskap moet bring. Die “witbroodjie” met wie God daardie belangrike stukkie inligting in ‘n droom gedeel het van wanneer kom Jesus weer (of die wegraping). Of hierdie persoon moet gesalf/gedoop word want oor ‘n jaar gaan hy daardie belangrike pos beklee. Of nog erger, die drome oor die mense wat “bad news” is. Nooit kan daardie persoon weer iets reg doen nie, want God het dan nou vir hierdie persoon in n droom dit duidelik gestel dat sy/hy skelm/oneerlik of wat ookal is. Ag die voorbeelde is oneindig.

Hierdie persone haal dan gewoonlik verse soos hieronder, of Hand 2:17 (“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. ) aan om watter bewering hulle ook maak te regverdig.

Dis nie dat ek wil beweer dat ons Hemelse Vader nie Sy wil aan sy kinders bekend maak nie. Die Gees in MY maak my egter wonder hoe mens hierdie mense en situasies moet hanteer. So gereeld soos klokslag beleef ek die seerkry van Christene wat deur hierdie self aangestelde profete te na gekom word, en die ergste van alles is, dit word gewoonlik in die Naam van ons Hemelse Vader gedoen. Ek het hom in my lewe leer ken as ‘n God van liefde en iewers maak iets nie sin nie. Ek verstaan die belangrikheid van profete voor die Heilige Gees aan ons gegee is, maar ons leer tog dat almal wat Jesus as Verlosser erken en bely, die Gees het. Het ons dan nou nog “profete” nodig om aan ons die boodskap te bring? Hierdie mense is deur die bank passievol in hul bediening en ken die Bybel soos die palm van hul hand. Ek dink dikwels dat wat hul al vergeet het, moet ek nog leer, en ek respekteer hul daarvoor. Hul sê natuurlik ook dat mens nie hoef te gaan “swot” om die Bybel te kan verstaan nie. Dat weinig predikante en teoloë al die Bybel deurgelees het, maar Sondae op ‘n preekstoel staan en preek asof hulle die Bybel ken. Daarmee saam kom die aanval op die kerke. Gewoonlik is dit die Susterkerke wat te dogmaties is, of die AGS is nie Charismaties genoeg…

Ek wil graag binne God se wil leef, en ek leer dat mens nie mag oordeel. Maar ek (ons) voel magteloos om situasies wat deur hierdie selfaangestelde profete onder ons geskep word, reg te hanteer. Help asb!

Reaksie

Prof Jan van der Watt reageer soos volg:

Hierdie is ’n baie eerlike brief wat heelparty probleme aanraak. Die vernaamste is die probleem van mense wat beweer dat hulle direk van die Gees boodskappe ontvang oor ander. Die Bybel hoef dan nie bestudeer te word nie, want die Gees maak dit immers vir jou duidelik. Waar kan jy ’n beter leermeester hê?

Eerstens, die kwessie van die Gees en die inspraak van die Gees in mense se lewens. Natuurlik woon die Gees in elke gelowige (1 Kor 3:16 – sien verskeie artikels op Bybelkennis.co.za hieroor). Natuurlik beloof Jesus dat die Gees ons sal lei en leer in wat Hy gesê het (Joh 14:26). Dit sou niemand werklik kan ontken nie. Die vraag is hoe die Gees in ons werk. ’n Mens kan en mag nie die maniere waarop die Gees in jou werk beperk nie – dit kan deur ander mense wees, of deur jou gewete, of in gebed of deur sy Woord, ens. Die probleem wat egter in die vraag aangespreek word, gaan oor iets meer as dit. Dit gaan oor mense wat hoogmoedig raak en uitsprake oor ander maak. Hulle beroep hulle dan op die gesag van God.

Sulke mense was daar van die begin af. Ons lees van hulle al in 1 Joh 4:1-2. Daar waarsku Johannes dat mense kan beweer dat die Here hulle gelei het om dit of dat te sê, maar dat dit valse geeste kan wees. Dit beteken nie dat ons alles as verkeerd moet sien nie. Die Gees kan ’n mens werklik lei. Daarom gee Johannes ook in die verse duidelike riglyne vir wanneer daar deur die Gees gelei word – die leiding sal in ooreenstemming wees met die evangelie oor Jesus as die Messias. Daarmee word gesê dat ’n mens die leiding van die Gees sal kan herken aan die waardes wat Jesus vir ons geleer het. Die Gees sal ons nie anders lei as wat Jesus ons gelei het nie. Daarom kan jy die woorde of gedagtes wat jy dink van die Gees af kom aan die evangelie van Jesus toets. As dit daarmee in lyn is, kan jy daaraan aandag gee. Maar daar kom iets by. As iemand byvoorbeeld na jou toe kom en vir jou sê die Gees het dit of dat van jou gesê en jy moet nou dit of dat doen, moet jy dit ook toets. Die Gees sal so iets ook in jou bevestig. Jy het ook mos die Gees. Wag op sy leiding en as Hy dit nie in en vir jou bevestig nie, hoef jy jou nie daaraan te steur nie. Die Gees gee nie halwe boodskappe nie.

Dit sal jou ook help om te keer dat mense jou manipuleer deur hulle godsdiens. Dikwels gebruik die ‘profete’ sulke ‘profesieë’ om hulle idees en mag af te dwing. Dit gee vir hulle die gevoel van belangrikheid omdat hulle ‘met die gesag van die Gees’ praat, en wie kan nou daarmee meeding of daarteen stry. Jy is dus soort van uitgelewer aan die persoon as hy sulke profesieë oor jou uitspreek. Maak dus seker en toets die profesieë eers, want daar is ’n kans dat dit dalk verkeerd kan wees, al glo die ander persoon vas daaraan. Jy kry profetiese manipuleerders by wie dit op die einde meer oor hulle as oor die Gees gaan. Hou dus die gedrag en die aard van die uitsprake van sulke persone goed dop. Daaruit sal jy ook heelwat kan leer.

Wat die bestudering van die Woord betref. Die Gees verlig wel ons verstand wanneer ons die Bybel lees. Daar was egter van die vroegste tye af spesifieke maniere waarop die Bybel gelees is. Die rede waarom daar in die hoofstroomkerke gevoel word dat ekstra kennis wel nodig is, is omdat die Bybel God se boodskap is wat hy aan ons kommunikeer. Hy het dit egter deur mense soos profete (Jesaja of Jeremia), konings (David en Salomo), apostels (Matteus of Paulus), sieners (Johannes) aan ons oorgedra. Deur sy Gees het Hy hierdie mense geïnspireer. Maar hierdie mense het vir die mense in hulle tyd (3000 tot 2000 jaar gelede), in hulle situasies (ballingskap, vervolging) en in hulle taal (Grieks of Hebreeus) geskryf. As twee mense met mekaar praat wat uit verskillende kulture en wêrelde kom, en hulle praat verskillende tale, is dit nodig dat iemand vir julle sal help om die taal te verstaan. Hulle het ‘n tolk nodig. As die een oor dinge praat wat die ander een nie ken nie, moet iemand vir die persoon verduidelik wat dit is, anders sal die persoon hom nie verstaan nie. Die Bybel is 3000-2000 jaar gelede in ’n vreemde wêreld (die Ooste) vir mense geskryf wat nog eintlik primitief was. Om dus God se boodskap, wat aan hulle geskryf is in hulle taal en kultuur, te verstaan moet ons leer hoe hulle gedink het en hoe hulle dinge gedoen het. As ons dus kan agterkom hoe hulle die boodskap gehoor het, kan ons dit op ons vandag toepas. Die kennis kan jy nie uit jou duim suig nie; dit vra studie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt