Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

 

Don’t let success go to your head. Don’t let failure go to your heart. —Tim Keller

 

Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6)

Rick Warren sê dat om geestelik volwasse te word ‘n proses is. Vir ‘n gelowige om sy hele lewe aan God oor te gee, vereis tyd. Ons kan dit, net soos fisiese volwassenheid, nie aanjaag nie. Sommige gelowiges, as hulle Christus in hulle lewens innooi, gee aan Hom ‘n vastrapplek in hulle lewens, maar hulle weerstaan Christus se pogings om volledig van hulle lewe besit te neem. Daar is dele van ons lewens wat ons weghou van Hom. Jesus wil saam met ons werk om daardie gebiede wat ons nog nie aan Hom oorgegee het nie, te ontdek.

 

Veranderings, veral geestelike veranderings, gebeur geleidelik en nie sommer onmiddellik nie. As God jou help om geestelik te groei, klap Hy nie net sy vingers en alles is afgehandel nie. Hy doen dit inkrementeel. As God ‘n paddastoel wil maak, neem dit ses uur; as God ‘n akkerboom wil maak, neem dit 60 jaar.

 

DIE Heilige Gees gaan veranderinge in jou lewe maak – baie meer as wat jy gedink het moontlik is. Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Ons moet doelgerig wees. Paulus sê dat ons nuwe skepsels met ‘n nuwe natuur sal word. Ons moet die ou dinge, die ou paaie wat ons verhoed om Christus te leer ken, afgooi. Met die hulp van die Heilige Gees moet ons nuwe klere aantrek. Ons moet toelaat dat God dit vir ons doen – maak nie saak hoe lank dit neem nie.