Gekraakte potte

Scripture is the cradle in which Christ lies – Martin Luther

 Gekraakte potte

John C. Holbert het ‘n baie interessante blog oor Jeremia 18:1 – 11 gehad. In hierdie gedeelte lees ons van ‘n baie algemene gesig in Juda – ‘n pottebakker aan die werk. Die potte was nie die luukse artikels wat vandag so algemeen is nie, maar tipiese huishoudelike gebruiksartikels. Hulle was miskien nie volmaak in vorm en kleur nie, maar bruikbaar. Hierdie potte het gewoonlik nie lank gehou nie, want swak materiaal is dikwels gebruik. ‘n Besoek aan die pottebakker was dus nie iets seldsaam nie.

 

Die Here roep vir Jeremia: Gaan af na die pottebakker se huis. Dit was waarskynlik nie die eerste keer dat Jeremia die pottebakker besoek het nie. Hierdie was nie die gewone besoek om potte te vervang nie: Ek sal daar met jou praat. Jeremia gaan na die pottebakker se huis waar die pottebakker besig was om iets op die skyf te maak. Die pottebakker plaas die klei op die skyf om dit te vorm.

Die Here is net soos die pottebakker – Hy het volle beheer oor die pot, Israel. Soos die pottebakker kan Hy weer voor begin nadat Hy dit afgebreek het. Anders as die pot kan Israel wel sy optrede verander en die Here kan van sy beplande straf vir Israel afsien en die volk spaar.

Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan Hom wou doen. God kan afsien van sy straf of daarmee voortgaan.

Die les van die pottebakker is duidelik: God is oppermagtig oor Israel soos die pottebakker oppermagtig oor die klei is en daarmee kan doen wat hy wil. Daar is egter een groot verskil tussen Israel en die klei: Israel (ons) kan verbeter as ons besef dat God soewerein is. Beteken dit nou dat as ek goed doen God gaaf met my sal wees en as ek sleg doen Hy my gaan teregwys. Lees net weer die boek Job en ons besef dit is nie so eenvoudig nie.