Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (1)

 

There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

Volgelinge van Jesus Christus moet sy woord nederig ontvang, dit voortdurend onthou en heelhartig gehoorsaam. Sommige dinge in die Skrif is voorskriftelik – die Skrif sê hoe ons moet leef. Die Skrif gee aan ons opdragte wat ons deur God se genade moet gehoorsaam vir die beswil van ons lewens en vir die heerlikheid van God. Soms beskryf die Skrif dinge wat gebeur. Dit beteken nie noodwendig dat dit voorskriftelik is nie.

 

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere.

 

  1. Ons ontvang God se woord nederig (1:19 – 21)

Jakobus begin deur te sê: Elke mens moet vinnig wees om te hoor, stadig om te praat, stadig as dit by woede kom. Dit beteken ons moet die woord nederig benader – nie verdedigend nie, want dit lei net tot weerstand teen die woord. Ons is so geneig om God se woord te benader met baie praat en min luister. Ons benader die woord met ons vooropgesette idees – dit is wat ek wil hê die woord moet sê. Ons soek regverdiging vir ons eie idees. Ons luister nie, want ons is besig om te formuleer wat ons gaan sê. In plaas van nederig luister na God se woord weerstaan ons dit. Dit was die reaksie van mense op wat die profete, Jesus en Paulus gesê het.

 

Jakobus sê dat die mense van God vinnig moet wees om te hoor en dan gaan hy voort: Daarom, nadat julle alle onkuisheid en oorvloed van kwaad in nederigheid ter syde gestel het, moet julle die ingeplante woord ontvang wat in julle in staat is om siele te red. Daar is so baie idees van die wêreld wat die woord weerspreek. Jakobus sê ons moet van hierdie sondige en selfsugtige idees van die wêreld ontslae raak en in alle nederigheid na die woord kom. In Jeremia 31:33 sê God: Ek sal my woord op hulle harte skryf. In Jakobus lees ons dat God sy woord in ons ingeplant het. In ons lewens het ons God se woord nodig.

 

Hierdie gedeelte is baie duidelik: Ons word nie gered deur goeie werke nie, maar deur God se woord te ontvang. Sy woord in ons ingeplant, veroorsaak dat ons optree. Ja, ons geloof moet tot optrede oorgaan. Die gebeur deur die woord wat in ons harte werk. As jy sy woord ontvang en jou in nederigheid daaraan onderwerp, ondervind jy die dieptes van verlossing. Ons moet nooit die krag en belang van God se woord onderskat nie.

 

Volgende keer kyk ons na ‘n tweede aspek: om God se woord voortdurend te onthou.