Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (2)

 

“Imagination is more important than Knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world. Imagination is everything.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere. Ons kom nou by die tweede manier.

 

  1. Ons onthou God se woord voortdurend (Jakobus 1:22 – 25)

In vers 25 praat Jakobus van die man wat gekyk het in die volmaakte wet van die vryheid. Tydens ons besige lewens moet ons iewers stop vir ‘n tyd lank en kyk na die woord – ons moet dit lees en bestudeer. Ons moet die woord absorbeer.

 

Die man wat dit doen sal nie vergeet wat hy hoor nie. In vers 23 – 24 stel Jakobus so ‘n man teenoor ‘n ander man wat nie die woord onthou nie. Hy gebruik die beeld van ‘n man wat kyk na sy natuurlike voorkoms in ‘n spieël. Hy kyk na homself en hy het weggegaan en dadelik vergeet hoe hy gelyk het. Jakobus sê dat ons nie dit – onmiddellik vergeet – met die woord mag doen nie.

 

Moenie God se woord vergeet nie; laat dit in jou hart en denke woon. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek (Psalm 19:10 – 11).

 

Die vraag is: Heg ons waarde aan die Skrif? As ons nie luister na God se woord nie is ons soos die dwaas in vers 23 – 24 – ons luister en binne ‘n uur het ons alles vergeet. Dit is nie die moeite werd nie. Dit is gevaarlik.

 

Volgende keer kyk ons na ‘n volgende aspek: Ons gehoorsaam die woord heelhartig.