Geloof tree op

We never move from the Gospel; we move on in the Gospel – J. I. Packer en Gary A Parrett

 Geloof tree op

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Geloof in ons harte is duidelik in die vrugte van ons lewens. In hierdie gedeelte (Jakobus 2:14 – 19) praat Jakobus met ‘n denkbeeldige persoon wat sê dat hy geloof het, maar hy het geen werke nie. In hierdie gedeelte is daar drie belangrike waarhede.

 

Kom ons kyk na die drie waarhede in hierdie gedeelte.

 

  1. Geloof in ons harte is sigbaar in die vrugte van ons lewens

Wat is die voordeel, my broers, as iemand sou sê dat hy geloof besit, maar hy sou nie die werke hê nie? (2:14) Jakobus sê dat ons aanspraak kan maak dat ons die geloof het, maar in werklikheid het ons dit nie – ons het geloof, maar ons word nie gered nie. Hoe weet ons dat iemand geloof het wat kan red? Jakobus sê: kyk vir die vrugte. Dade is die vrugte van geloof. As daar nie vrugte is nie, is daar nie geloof nie. Jesus sê presies dieselfde: Aan hulle vrugte sal julle hulle herken … So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte … Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle aan hulle vrugte herken (Matteus 7:16 – 20). As ons na ‘n vrugteboom kyk, is dit wat ons buite sien (appels, pere, ens) ‘n bewys van wat binne is. Vrugte in ons lewens is ‘n bewys van geloof in ons harte. Geen vrugte = geen geloof nie.

2. Mense wat nie arm medegelowiges help nie se geloof is dood

Jakobus verwys na  die broer of suster wat kaal is en nie kos het om te eet nie. Hulle het nie eers iets warm om hulle teen die koue te beskerm nie. Hierdie is ‘n desperate behoefte. En dan sê ons vir so ‘n persoon: Gaan in vrede, word warm en word versadig – so asof hy/sy die vermoë het om dit te doen. Daarom Jakobus se vraag: Wat is die voordeel dan?  Hierdie geloof is dood. Dit help nie die persoon in nood nie; dit help nie jou eie siel nie. Maar wie ook al die goedere van die wêreld het en sy broer sien gebrek ly en sy binneste vir hom toemaak. Hoe bly die liefde van God in hom? (1 Johannes 3:17). Die implikasie is dat die liefde van God nie in hom kan bly nie.

 

Dit is baie belangrik om twee aspekte te onthou:

  • Goeie werke is nie ‘n manier om verlos te word nie. Ons word nie verlos deur wat ons doen nie. Geloof is iets wat God gee – nie iets wat ons maak nie. Ons word deur die oorvloedige genade en die inisiatief van God verlos. Ons help nie die armes sodat ons verlos kan word nie. Goeie werke is die bewys van verlossing. Dade is die vrugte geproduseer deur geloof. Barmhartigheid teenoor ander is nie ‘n keuse nie. Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glorieryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom versamel word en Hy sal hulle van mekaar skei, net soos ‘n herder die skape en die bokke skei, en Hy sal die skape aan sy regterhand laat staan en die bokke aan sy linkerkant. Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: “Kom julle wat deur my Vader geseën is, neem die koninkryk in besit wat vir julle gereedgemaak is van die skepping van die wêreld af (Matteus 25:31 – 34). Let op die genade in hierdie gedeelte: God die Vader het hulle geseën en gee aan hulle sy koninkryk. Let op hoe die genade van God dit wat hulle doen, verander (vers 35 – 36). Ons moet onthou dat dit Jesus is wat hier praat: Want Ek was honger en julle het My iets te ete gegee, Ek was dors en julle het My iets te drinke gege, Ek was ‘n vreemdeling en julle het My as gas ontvang, Ek was naak en julle het My geklee, Ek was siek en julle het My versorg, Ek was in die tronk en julle het na My toe gekom. Die regverdiges sal antwoord dat hulle dit nooit gedoen het nie. Die Koning sal antwoord en vir hulle sê: “Amen, Ek sê vir julle: in soverre julle dit vir een van hierdie onbelangrikste broers van My gedoen het, het julle dit vir My gedoen.´ Die Christen se eksterne dade van barmhartigheid is bewys van die interne genade van God in sy hart. Matteus 25 skilder natuurlik ook die ander kant van die prentjie – diegene wat nie gehelp het nie. En dan die uitspraak: En dan sal Hy vir dié aan sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes, in die ewige vuur in wat gereedgemaak is vir die duiwel en sy engele.” Hierdie mense se harte is nie deur God se genade verander nie. Ek help nie armes omdat ek skuldig voel nie – die evangelie motiveer my om die armes te help; ons word deur die genade van God daartoe gedryf, want Hy het ons harte verander.

3. Dooie geloof is nuttelose geloof

Hierdie is die derde waarheid in hierdie gedeelte. Dit is in ‘n mate ‘n herhaling van alles wat ons tot dusver gesê het. Jakobus gaan voort met die dialoog met ‘n onbekende. Sê nou iemand skei geloof en dade. Mense is tog verskillend – sommige gee om vir armes, ander nie. Jakobus sê dit kan nie gedoen word nie. Maar wil jy weet, o dwase mens, dat die geloof sonder die werke nutteloos is (Jakobus 2:20). Geloof sonder werke is nutteloos vir jou broer wat nie kos en klere het nie; geloof sonder werke is nutteloos vir jou, want dit kan jou nie red nie.