Geloofsekerheid – Francois Malan

’n Leser vra:

Hoe weet ‘n mens verseker dat jy hemel toe gaan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit is ‘n geloofsekerheid. Die Johannes Evangelie praat van die lewe in hemel as die ewige lewe wat nou reeds begin vir hulle wat in Jesus Christus glo as die Seun van God wat vir hulle sondes gesterf het.

 

1 Johannes 5:10-13 sê: Wie in (Jesus) die Seun van God glo, besit die getuienis in homself, die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het, naamlik dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek (Johannes) aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam (dit is in die persoon) van die Seun van God glo.

Die ewige lewe is aan Jesus, die Seun van God verbind. Wie glo dat Jesus self God is wat vir al die sonde van die wêreld gesterf het, het reeds aandeel aan die ewige lewe. Elkeen wat aan Jesus verbind is deur in Hom te glo, word deel van die ewige lewe wat in Hom is omdat Hy, soos die Vader, die ewige God is (vgl Johannes 1:1-4).

 

Johannes 3:16 sê: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

 

Die Heilige Gees het gekom om die wêreld te oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Johannes 16:8-11):

16:9 van sonde omdat hulle nie in Jesus glo nie,

 

16:10 van geregtigheid – dit beteken om in die regte verhouding tot God die Vader te wees, deur te glo in Jesus wat as die lam van God vir die sonde van die wêreld gesterf het (Johannes 1:29). Die Heilige Gees oortuig ons deur die Woord van God dat Jesus as God en mens vir ons mense se sondes gesterf het, en dit is ons verantwoordelikheid om te besluit om dit te glo en daarvolgens te lewe.

Efesiërs 2:8 sê: ‘Uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.’ Ons geloof in die Here Jesus as ons Verlosser kom deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat in ons kom woon sodat ons in Jesus as ns Verlosser van sonde kan glo.

Jesus is die Seun van God, en almal wat aan Hom verbind is deur geloof in Hom word saam met Hom kinders van God, deel van God se gesin (lees Romeine 8:14-17).

 

16:11 van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld (die Satan) reeds geoordeel is – daarom kom ons nie in die oordeel nie. Johannes 3:36: Wie in die Seun glo het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

 

In Johannes 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Dit het Hy gesê nadat Hy reeds in 14:16-17 belowe het: ‘Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.’ Deur die inwoning van die Heilige Gees in ons, is die Vader en die Seun ook teenwoordig in ons.

 

In Johannes 17:3 sê Jesus in sy gebed tot sy Vader: ‘En dít is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.’ Die ewige lewe is ‘n lewe in die liefdesgemeenskap van God: Vader, Seun en Heilige Gees – God is liefde (1 Johannes 4:8,16), dit is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees, en van hulle tot die wêreld (Joh 3:16).

Jesus het die nag voor sy sterwe vir ons sonde, vir sy dissipels gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het’ (Johannes 13:34-35); en: ‘groter liefde as dít het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende’ (15:12-14).

 

Aan ons liefde vir mekaar, en selfs vir ons vyande (Matteus 5:43-48) kan ons weet dat ons kinders van God is, deur ons geloofsverbondenheid aan sy Seun en aan mekaar deur die liefde wat God in ons werk deur sy Gees (vgl. die vrug van die Gees se werk in ons volgens Galasiërs 5:22-23).

 

In Johannes 10:27-28 sê Jesus: ‘My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.’

 

Skrywer:  Prof Francois Malan