Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk

Geloofsvrae: Die ampte en regering van die kerk – Adrio König

Die ampte en die regering van die kerk

In die kerke met ‘n Gereformeerde (Presbeteriale) vorm van kerkregering is daar meestal drie besondere ampte (predikant, ouderling, diaken), en dan ook die amp van die gelowige. Die beginsel van hierdie stelsel is dat alle ampte gelyk is en net verskillende verantwoordelikhede in die kerk het. Daar is ander vorme van kerkregering soos die biskoplike (episkopale) stelsel wat ‘n hiërargiese stelsel is waar sommige ampte meer gesag as ander het. Die uitgangspunt is die biskop wat die Here in die plaaslike gemeente verteenwoordig. Hy kan in die meeste gevalle alleen besluite neem. In die Katolieke Kerk is daar ‘n hele reeks ampte o.a. die priester, biskop, aartsbiskop, en uiteindelik die pous. Hy het gesag oor die hele Katolieke Kerk.

Dit is nie moontlik om die verskillende stelsels uit die Bybel af te lei nie. Verder is daar heelwat vir en teen elke stelsel te sê. Die amp van biskop of predikant of pastoor as ‘n voltydse ampsdraer wie se vergoeding ten volle deur die kerk betaal word, kom nie só in die NT voor nie. Die oorheersende rol wat hierdie ampte in die meeste kerke speel, is ook vreemd aan die NT.

Een groot verskil tussen die presbeteriale en die biskoplike stelsels van kerkregering is die vraag waar die gesag geleë is. By ons is dit in kerkvergaderinge (kerkraad, ring en sinode) geleë omdat alle besondere ampte gelyk is, maar in die biskoplike stelsel is dit in die hoogste amp geleë, uiteindelik in die pous. Die pous delegeer dan sekere magte na onder sodat die biskop byvoorbeeld die gesag in die plaaslike gemeente het.

Hierdie twee vorme van kerkregering het dit in gemeen dat die plaaslike gemeentes in ‘n noue verband met mekaar staan en groter projekte dus makliker deur ‘n bepaalde kerk onderneem kan word.

Teenoor hierdie twee vorme van kerkregering staan ‘n groot verskeidenheid van vorme in die Pinkster- en Charismatiese Kerke en talle ander kerke. In sommige gevalle is daar een enkele persoon wat die mag het, in ander gevalle ‘n groep (kerkraad). Veral in die Charismatiese kerke is daar min onderlinge verbondenheid van die onafhanklike kerke, en in baie van hierdie kerke is een persoon se woord wet.

Die sinodale vorm van kerkregering het voor- en nadele. Dit skep ‘n sterker band tussen die plaaslike gemeentes sodat daar groter eenvormigheid in die denominasies kan wees en groot projekte aangepak kan word, en dit verminder die moontlikheid dat een persoon die situasie oorheers. Maar dit is in die meeste gevalle baie lomp en langdradig en in sy huidige vorm beswaarlik nog geskik in ‘n samelewing waar belangrike besluite dikwels vinnig geneem moet word. Die amp van biskop (en die enkelel gesagspersoon in die groot onafhanklike Charismatiese kerke) kan inderdaad vinnige besluite neem, maar dit vestig teveel gesag in een persoon. Die oorheersende rol wat die predikant en die pastoor in baie gevalle in die historiese en Pinksterkerke speel, herinnner aan dié van biskop en het dieselfde voor- en nadele.

Die lofwaardige nadruk op die amp van die gelowige – alle gelowiges het die verantwoordelikheid om die Here in die gemeente en in die wêreld te dien – het nie in die historiese kerke regtig soveel goeie resultate opgelewer nie. Gemeentelede is in die meeste gevalle nie volwasse lidmate wat hulle geloof verstaan en entoesiasties kan `verkoop’ nie. Dit is goed moontlik dat die Pinkster- en Baptiste kerke beter daarin geslaag het om hul lidmate daarvoor voor te berei.

Daar is gedurende die laaste aantal dekades heelwat aandag gegee aan die charismatiese struktuur van die plaaslike gemeente. Die kerk van die NT was ‘n charismatiese kerk waarin daar nie ‘n duidelike onderskeiding was tussen wat ons vandag ken as die ampte en die gawes nie. In die lyste `gawes’ word heelwat ingesluit wat ons vandag eerder as ampte sou klassifiseer (o.a. 1Kor 12:28ev en Rom 12:6ev: apostels, profete, leraars, leiding, diens, onderrig gee, hulp verleen). Individuele inisiatiewe is gebiedend noodsaaklik in die lewe van elke gemeente, en denominasies behoort ernstig te kyk na die werkwyse van ander denominasies omdat ons baie van mekaar kan leer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König