Geloofsvrae: Die beheer van God

Geloofsvrae: Die beheer van God – Adrio König

Die beheer van God

As dit waar is dat die voorsienigheidsleer die populêrste deel van die Christelike geloof is wat selfs nog gedeel word deur mense wat omtrent heeltemal gesekulasiseer is, is dit ook waar dat die uitdrukking `God is in beheer’ die populêrste deel van die voorsienigheidsleer is. As ‘n mens eers bedag gemaak is daarop, is dit verbasend hoeveel Christene, en veral Christene uit hoeveel verskillende geloofstradisies, lief is om dié uitdrukking te gebruik.

So populêr as wat dit is, so onduidelik is dit wat hulle daarmee bedoel. Op navraag blyk dit gou dat dit eerder ‘n emosionele waarde het as ‘n duidelik omskryfbare betekenis. Op sigself is dit nie noodwendig ‘n negatiewe teken nie, maar omdat ons ook geroepe is om oor ons geloof na te dink, moet ons tog probeer om sinvolle inhoud daaraan te gee.

Die emosionele waarde daarvan lê in die troos wat dit bied aan mense wat in nood is, veral mense in wie se lewens daar dreigende of smartlike dinge gebeur waaroor hulle nie beheer het nie. Dit gebeur een of ander tyd in omtrent elke mens se lewe. Donker wolke pak eenvoudig saam, rampe tref ons `uit die bloute,’ die hele lewe word eensklaps onseker. Dan klink dit soos musiek in ‘n mens se ore: `Toemaar, God is in beheer.’

Wat sou mense daarmee bedoel? Calvyn het daaronder verstaan dat niks sonder die direkte wil en voorbeskikking van God gebeur nie. Dié leer was veronderstel om die gelowiges te troos omdat God hul Vader is wat in liefde vir hulle sal sorg. Die moeilikheid is egter dat dié leer só ver gaan dat dit ‘n mens eintlik nie meer troos nie. Daar gebeur soveel vreeslike dinge op aarde, en daar gebeur skynbaar nie minder vreeslike dinge met sy kinders as met ongelowiges nie, dat dit net soseer ‘n verskrikking as ‘n troos kan wees dat God letterlik alle dinge beskik.

Twee verskillende gesinne in wie se lewe ‘n groot tragedie afspeel, kan op presies teenoorgestelde maniere reageer op hierdie leer oortuiging dat God in beheer is. Die een kan oneindig getroos voel deur die gedagte dat dit God is wat dié ramp beplan het. Immers God is ons genadige Vader wat niks oor ons sal beskik wat ons nie op een of ander manier ten goede sal kom nie. Die lyding is wel baie swaar, en dit is nie moontlik om daar sin uit te maak nie (‘n dogtertjie van vier word deur ‘n dronk man op die sypaadjie omgery, sy beland met ‘n vergruisde liggaampie in die hospitaal, en ly weke lank die allerergste smart voordat sy sterf), maar ons berus in die wil van God wat nooit ‘n fout maak nie. Sommige sal in hierdie trant nog verder gaan en allerlei wonderlike dinge uitdink wat God dalk met die tragedie wil bereik. Hy het dalk geweet die kindjie sou later ‘n baie slegte lewe lei en daarom het Hy haar weggeneem om die ouers baie smarte te spaar. Of Hy het haar as die pragtigste blommmetjie beskou en haar vir sy hemelse rangskikking kom pluk. En ouers kan selfs geëerd voel dat God hulle kindjie `kom haal het.’

Maar ‘n ander gesin kan onder dieselfde omstandighede ‘n totale geloofskrisis beleef. As God alles vooraf beskik, of selfs as Hy die slegte dinge net toelaat, kon Hy dié smart tog verhoed het. Beskik Hy regtig só ‘n lyding vooraf, of laat Hy dit selfs net toe, tot in elke klein besonderheid? Is dit ‘n manier om ‘n blommetjie vir die hemel te pluk? God moes dus bewustelik beskik of toegelaat het dat die man genoeg drink om goed dronk te wees, en net op die regte tyd uit die kroeg kom en presies die regte pad ry om betyds te wees as die dogtertjie by die hekkie uitkom! In Gods Naam, kan ‘n mens dit hou? Met só ‘n God het ‘n mens nie ‘n duiwel nodig nie.

Kon God werklik al die lyding en onreg, al die kindermishandeling in die wêreld gekeer het? En Hy doen dit nie? Trouens beplan Hy of laat Hy al die kindermishandeling toe … vir ‘n goeie doel? Auschwitz? En apartheid? En die plaasmoorde? Wat sou `goed’ in dié verband kon beteken?

Dit is in hierdie lig nodig om te vra of ‘n mens sinvol kan nadink oor hierdie allerpopulêrste oortuiging: `God is in beheer.’

‘n Mens sou tussen ‘n enger en ‘n breër betekenis kon onderskei.

Onder die enger betekenis verstaan ons dan dié van Calvyn waarvolgens God se beheer beteken dat Hy letterlik alles tot in die fynste besonderhede vooruitbepaal. ‘n Mens het in hierdie verband ‘n keuse: óf jy beredeneer dit enduit en eindig dan met ‘n God `who is too ghastly to contemplate,’ óf jy laat die leer die dood van ‘n duisend verduidelikings sterf.

Die Skrifbewys vir hierdie standpunt is ook baie wankelrig. Die teks wat die meeste gebruik word en op die oog af na ‘n baie sterk getuienis lyk, is Jesus se uitspraak: `Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. En van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies’ (Mat 10:29-31). Hieruit word dan afgelei dat God alles bepaal wat gebeur, tot elke mossie wat val, en elke haar wat uit ons kop val. Die gekursiveerde woorde wat die vertalers ingevoeg het, versterk skynbaar hierdie indruk.

Die probleem is egter dat die vertalers met hierdie gekursiveerde woorde wat nie in die Grieks staan nie, die betekenis van die teks verander het. Die Grieks kom duideliker uit in die OAV: Nie een mossie sal op die grond val `sonder julle Vader nie.’

Wat sou dit beteken? Dit word duidelik uit Lukas se weergawe waarvolgens God `nie een van hulle vergeet nie’ (12:6). Dat mossies nie `sonder julle Vader’ op die grond val nie, beteken dus dat God selfs vir mossies omgee, en nie dat Hy beskik wanneer elke mossie moet val nie. Die teks wil dus sê dat ons nie hoef bang te wees dat God ons sal vergeet nie. Hy gee selfs vir sulke onbelangrike dinge soos mossies en ons hare om, hoeveel te meer vir ons! Met God se voorbeskikking het hierdie tekste dus niks te doen nie, maar alles met sy troue sorg. Dis troos vir kinders van God in nood: Hy sal ons nie vergeet nie, Hy gee om vir ons.

Wat die enger betekenis van die beheer van God betref, moet ons dus aanvaar dat Hy nie alles voorbeskik nie, eenvoudig omdat daar meer rolspelers in die geskiedenis is, en ook nie dat Hy alles toelaat nie, omdat dit Hom aandadig aan die sonde sou maak. Maar ons kan aanvaar dat Hy omgee, dat Hy die groot `Ek is’ is, die Een wat betrokke is, op wie ons in elke nood kan reken. Dit beteken nie dat daar nie nood oor ons sal kom nie, maar wel dat Hy ons in elke nood sal bystaan.

Daar gebeur egter baie dinge direk teen God se wil in – anders sou die wêreld nie so gelyk het nie. Juis daarom is ons toekomsverwagting so onontbeerlik: op die nuwe aarde sal alles inderdaad volgens sy wil wees, dáár sal Hy in die enger betekenis van die woord in volle beheer wees. As dit noual waar was, waarna sou sy kinders dan `met gespanne verwagting’ uitsien? (Rom 8:19)

Ons kan egter wel aanvaar dat God nou reeds in die breë sin van die woord in beheer is. Onder die breër betekenis van die beheer van God sou ‘n mens kon verstaan dat dinge nie totaal sal handuit ruk nie, dat God selfs teen alle menslike en demoniese teenstand in (waarvan die Bybel vol is) uiteindelik sy doel sal bereik, dat God beslissende wendinge in die loop van die geskiedenis gebring het om die geskiedenis weer nuwe inhoud en rigting te gee, en dat ons van Hom ‘n finale en totale deurbraak kan verwag om alles op aarde reg te maak.

Dit is by uitstek die opstanding van Jesus wat ons oortuig dat God in hierdie sin in beheer is, d.w.s. dat Hy sy doel sal bereik, al neem dit Hom ook langer as wat ons – en Hyself – dit graag sou wou hê.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König