Geloofsvrae: Die Bybel

Geloofsvrae: Die Bybel – Adrio König

  1. Die Bybel as openbaring

Soms word sondermeer van die Bybel as die openbaring van God gepraat. Dit is egter nie korrek nie. Toe God Israel uit Egipte wou red, het Hy nie vir hulle ‘n Bybelboek gestuur nie. Hy het Homself in dade in hul geskiedenis geopenbaar. Eers veel later is dit deur mense op skrif gestel. Ook Jesus, dié openbaring van God, het nie boeke geskryf nie, maar gepraat en gedoen.

Daardeur het Hy God geopenbaar. En eers toe die ooggetuies begin oud word het, is die behoefte gevoel om wat Hy gesê en gedoen het, op skrif te stel. Daar is wel gevalle, soos Paulus se briewe, waar die openbaring direk op skrif gestel is, maar in die meeste gevalle is die Bybelse geskrifte veel jonger as die aanvanklike openbaring van God.

 

Dit beteken nie dat die Bybel nie openbaring is nie. Maar dit is net openbaring in die sin dat dit ‘n betroubare getuienis is van God se eintlike openbaring in die geskiedenis van Israel en in Jesus.

  1. Die Bybel as ‘n biblioteek

Die Bybel is veel meer as ‘n boek, dit is ‘n biblioteek. Die geskrifte is van verskillende soorte en moet elkeen na sy eie aard uitgelê word. ‘n Mens verstaan poësie anders as geskiedenis, en ‘n brief anders as ‘n apokaliptiese (lees: `bonatuurlike’) geskrif

Verder het hierdie boeke oor eeue heen in verskillende omstandighede ontstaan. Hulle moet sover moontlik in hul tyd en konteks verstaan word. Hulle deurloop ook ‘n geskiedenis sodat op bepaalde tye sekere opdragte bindend is, maar na nuwe gebeurtenisse kan sekere opdragte hul bindende krag verloor. Die besnydenis is ‘n bindende opdrag vir die volk van God totdat dit deur die werk van Christus buite werking gestel word. ‘n Mens kan dus nie sommer enige opdrag iewers uit Levitikus oor iets soos kos of klere of ‘n man se hare of baard neem en dit as bindend voorhou omdat dit in die Bybel staan nie.

Verder lê alles in die Ou Testament ook nie op dieselfde vlak nie. Daar is sekere dade van God wat soos rigtingwysers uitstaan. Die uittog uit Egipte is so ‘n daad van God. Dit word ‘n baken waaraan die volk gemeet word. Dit word deur die eeue heen op verskillende maniere op die lewe van die volk toegepas.

Ook in die Nuwe Testament lê alles nie op dieselfde vlak nie. Daar is sekere sake wat eenvoudig uittroon as die eintlike dade van God in die geskiedenis. In die Nuwe Testament gaan dit sondermeer om Jesus Christus, en dan veral om sy woorde en dade, en om sy kruisiging en opstanding. As die Nuwe Testament nie in hierdie konteks gelees word nie, kan dit nie reg verstaan word nie. ‘n Mens kan byvoorbeeld nie die hoofbedekking of versiering van ‘n vrou op dieselfde vlak beskou as die opstanding van Jesus nie.

  1. Nét die Bybel

Dit is ‘n erfenis wat ons van die Kerkhervorming het dat net die Bybel die norm vir ons leer en lewe is. Dit is ‘n standpunt wat die Hervormers ingeneem het teen leerstellings en gebruike in die kerk wat nie in die Bybel gefundeer kon word nie.

Vandag word hierdie standpunt soms misverstaan asof die Hervormers geen waarde aan die tradisie geheg het nie. Dit is nie korrek nie. Hulle het die besluite van die vroeë kerk in hoë aansien gehou solank dit nie met (hul interpretasie van) die Bybel gebots het nie. Luther het hom selfs op die leerbesluite van die vroeë kerk beroep om aan te toon dat dit die Protestante is wat aan die tradisie van die vroeë kerk getrou gebly het en dus die ware kerk is, teenoor die Katolieke Kerk wat ‘n `nuwe’ kerk geword het deur van die vroeë tradisies af te wyk. Dit moet terloops vir ons ‘n aanduiding wees van hoe sinloos dit is om te dink ‘n mens kan ‘n nuwe kerk stig.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König