Geloofsvrae: Die dood volgens Plato

Geloofsvrae: Die dood volgens Plato – Adrio König

Die dood volgens Plato

Om te verstaan wat in die Bybel aangaan, is dit dikwels nodig om eers na bepaalde strominge in die Griekse wysbegeerte te kyk. Die vroeë Christene se denke is in baie opsigte sterk deur hierdie oortuigings beïnvloed, en hierdie invloed werk tot vandag toe sterk deur. Dit is dus nie altyd so maklik om te onderskei wat werklik uit die Bybel tot ons gekom het, en wat nie.

Plato het aanvaar dat die mens uit twee dele bestaan wat nie goed by mekaar pas nie: ‘n stoflike, sterflike, minderwaardige liggaam, en ‘n geestelike, onsterflike siel wat oneindig meer waarde het. Die siel is ons eintlike `ek,’ en sy beweging en lewensruimte word sterk beperk deur die liggaam wat ‘n soort tronk is waar die siel straf uitdien vir oortredings in ‘n vorige lewe. Daarom is die dood die groot verlossing wanneer die siel bevry word en na die wêreld van die Gode kan sweef.

Volgens hierdie beskouing verloor die dood sy bedreigende en vernietigende karakter en word iets om na uit te sien.

Dit is nie die enigste oortuiging oor die dood wat onder die Grieke bestaan het nie. Homerus het byvoorbeeld die lewe ver bo die dood verkies omdat hy oortuig was dat ons ná die dood ‘n aaklige skimbestaan sal voer – ‘n standpunt wat baie nader is aan die vroeë OT. Daar is ook ‘n materialistiese Griekse tradisie waarvolgens die siel, net soos die liggaam, uit atome saamgestel is. By die dood ondergaan die siel dus dieselfde lot as die liggaam: albei disintegreer in atome.

Alhoewel daar dus onder die Griekse filosowe ook ander beskouings as dié van Plato was, het syne die vroeë Christene so beslissend beïnvloed dat dit belangrik is om dit te verstaan.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König