Geloofsvrae: Die doodstraf

Geloofsvrae: Die doodstraf – Adrio König

Doodstraf

Christelike kerke het in die verlede met min uitsonderings die doodstraf aanvaar en selfs verdedig. Dit was eerder uit ander, meer liberale kringe dat die doodstraf sedert die 18e eeu bevraagteken en later in dele van die wêreld verwerp is as onmenslik. Daarteen het die meeste konserwatiewe Christene hulle sterk verweer en veral met ‘n beroep op die Bybel die doodstraf geregverdig.

Dit is nie so maklik om met ‘n beroep op die Bybel die saak te besleg nie. Dit lei geen twyfel dat daar dikwels in die Bybel sprake is van die doodstraf in verskillende vorme nie. Twee sake verdien egter ons aandag: die wrede wyse waarop dit in sommige gevalle toegepas moes word (o.a. deur steniging), en die verskeidenheid oortredings wat met die doodstraf gestraf moes word (o.a. Sabbatsontheiliging, opstandigheid teen ouers, gemeenskap met ‘n verloofde vrou, homoseksualiteit, Num 15:32ev; Eks 20:15; Deut 22:22ev; Lev 20:13). ‘n Mens het dadelik die gevoel dat dit ‘n ander mensbeskouing en menswaardering veronderstel as waarmee ons vandag werk. Só goedkoop is ‘n mens se lewe darem nie, veral nie as ons onthou dat mense as die beeld van God geskape is nie. Die doodstraf het eenvoudig ‘n ander betekenis in die Bybel gehad as vandag.

Daar is twee partye wat by die vraag na die doodstraf betrokke is: die oortreder en die slagoffer. Kom ons kyk eers na die oortreder.

Een van die groot sake om in die geval van die skuldige persoon te oorweeg, is die feit dat die doodstraf ‘n onherroeplike finaliteit het. As dié straf eers voltrek is, kan dit nie hersien of versag word nie. Omdat alle hofuitsprake menslik en daarom feilbaar is, vervul die doodstraf ‘n mens met ‘n bepaalde huiwering.

Die doodstraf is ‘n vorm van erkenning dat die gemeenskap opgee met die skuldige. As een van die oogmerke van straf die rehabilitasie van die skuldige is, geld dit nie meer in hierdie geval nie. Daar is niks sinvol meer aan hom of haar te doen nie. Maar die persoon is tegelykertyd ‘n deel van die samelewing wat uit ons voortkom en grootliks deur ons gevorm is. Die doodstraf is dus ook ‘n refleksie op die samelewing. Dit is ons wat so ‘n samelewing geskep het.

Die doodstraf word dikwels geregverdig as ‘n afskrikmiddel, natuurlik nie vir die oortreder nie, maar vir ander mense. Dit lyk my altyd ‘n kwalike saak om deur ondersoeke vas te stel of dit waar of vals is. Daar is so ‘n verskeidenheid oortredings wat in aanmerking kan kom, en soveel verskillende mense en soorte mense wat oortreders is of kan wees, en soveel verskillende omstandighede wat van situasie tot situasie (land tot land) verander, dat dit nie duidelik is hoe die resultate uit een ondersoek op ‘n ander situasie toegepas kan word nie.

Tot sover oor die oortreder.

Wat die slagoffer betref, lê die dinge natuurlik baie anders. Mense se lewens word verwoes. Moord is miskien nie eens die ergste vorm van misdaad waaronder ‘n persoon kan lei nie. Aanranding, verminking, verkragting, en dikwels op barbaarse wyse, krenk en vermink mense se lewens soms vir goed. In ‘n samelewing waar dit so dikwels voorkom dat dit ‘n wesenlike bedreiging vir die meerderheid van die bevolking word, kan noodmaatreëls nodig word wat onder `normaler’ omstandighede nie oorweeg sou word nie. Sulke noodmaatreëls kan die doodstraf insluit selfs sonder dat daar klinkklare bewyse is dat dit inderdaad ‘n afskrikmiddel sal wees. Selfs al sou dit net ‘n deel van die samelewing die gevoel van ‘n bietjie meer veiligheid gee, het dit al ‘n bepaalde waarde.

Nogtans kan dit net regtig ‘n noemenswaardige verskil maak as die regsisteem só funksioneer dat daar ‘n vrees by potensiële oortreders bestaan dat hulle aan die pen kan ry. Erger strawwe sal uiiteraard nie ‘n positiewe uitwerking hê as te min oortreders aan die man gebring word nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König