Geloofsvrae: Die ewige lewe op die nuwe aarde

Geloofsvrae: Die ewige lewe op die nuwe aarde – Adrio König

Die ewige lewe op die nuwe aarde

Die ewige lewe is ‘n omvattende begrip vir die toekoms van die kinders van God. Daar is aansluiting by ons huidige lewe, en tog ook ‘n sprong in die onbekende in. Dit is lewe – dit ken ons. Maar dit is ewige lewe – dit ken ons nie.

Ons gaan anders lewe

Ons toekomstige lewe saam met God en Christus op die nuwe aarde sal nie heeltemal anders wees nie. Trouens ondanks die apokaliptiese beelde wat veral die boek Openbaring kenmerk, en wat ons tereg huiwerig maak om alte presies oor die toekoms te dink, is die vooruitsig wat die profesieë skep eerder dié van verlange en entoesiasme as van huiwering en skrik. Paulus roep die gelowiges op om mekaar moed in te praat en te versterk met die boodskap van Christus se koms, en Hy praat van die skepping wat ‘n brandende verlange het dat alles opgeklaar sal word (1Tes 4:18; 5:11; Rom 8:19). Die Een wat kom, is immers nou reeds deur die Gees by ons, en ons leef nou reeds in Hom en saam met Hom, netsoos Hy in en saam met ons leef. Die Een wat kom, is ons Verlosser en broer (Rom 8:29). Saam met die Gees roep die bruid Jesus toe: `Kom!’ (Open 22:17) En Johannes sê selfs dat ons nou al deel het aan die ewige lewe (3:36).

Op ‘n nuwe aarde

Net so is ook die nuwe aarde wat ons verwag, nie ‘n ander, vreemde aarde nie. Dit is hierdie aarde wat nuutgemaak word en genees word van al die seer wat ons sonde en die aanslae van die Bose gebring het. Daarom is die beelde in Open 21-22 so realisties en getrou aan ons gewone lewe, maar dan ons gewone lewe vry van die druk en seer. Die nuwe Jerusalem is ‘n stad van edelgesteentes, strate van goud, ‘n rivier met kristalhelder water met die boom van die lewe wat nie net elke jaar nie, maar elke maand vrugte dra! God bly getrou aan sy skeppingsdoel: om met mense op aarde in liefdesgemeenskap te leef sodat hulle Hom kan dien en prys.

Daarom hoef ons nie te huiwer oor die toekoms nie. Die beelde is uitnodigings. Dit skep ‘n verlange wat vergelyk word met ‘n bruid wat uitsien na haar troudag.

Natuurlik is dit nie dieselfde lewe as waaraan ons gewoond is nie. Maar wat anders is, is dat die sonde, lyding en ellende weg is, die bedreiginge waarvan die ou aarde en ons huidige lewe vol is, die trane en smart en dood, die nag, alles wat onrein en losbandig en vals is, die see as die ou simbool van die dreigende chaosmagte wat God se skepping en ons lewe probeer verwoes (Open 21:1,4,8,27; 22:5).

Uitgenooi om aan God se lewe deel te neem

Die ewige lewe is die lewe van God, die lewe waarmee Hy Christus uit die dood opgewek het, die lewe waarin Hy ons laat deel deur ons deur die doop en die geloof in Christus in te lyf.

Daarom beteken ewige lewe ook nie net ‘n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit sal in werklikheid ‘n verskrikking wees om vir ewig te lewe as ‘n mens in sonde en smart en ellende leef, bedreig deur duisend magte. Ewige lewe is ‘n bepaalde kwaliteit van lewe, verheerlikte lewe, lewe wat die dood – en daarom die siekte en pyn en smart en broosheid – agter die rug het, die opstandingslewe van Jesus waaraan ons in werklikheid nou reeds deel het!

In ‘n sekere sin het ons dus noual deel aan die ewige lewe. Veral Johannes verkondig dit dikwels in sy evangelie en in sy eerste brief. Dit is deel van ‘n neiging by hom om dit wat die ander apostels in die toekoms verwag het, in die hede in te trek. Christus is van die begin af verheerlik, die oordeel vind noual plaas, die dooies hoor noual die stem van die Seun van God (Joh 1:14; 12:23ev,31; 5:25). Dit bring die ewige lewe nog nader aan ons. Ons belewing van ons gemeenskap met die Here, hoe gebrekkig ookal, gee ons dus tog nou reeds iets van ‘n idee van wat vir ons wag.

Dis ons verwagting!

Twee beelde word in Openbaring gebruik om meer inhoud te gee aan ons verwagting van die ewige lewe. Ons sal God dien, en ons sal saam met Hom regeer.

  1.  ‘n Lewe van diens

Ons lees: `en sy dienaars sal Hom dien’ (Open 22:3). Met die eerste oogopslag lyk dit na ‘n toutologie, maar die ironie is dat dit in werklikheid ‘n verrassing is. Dit mag vanselfsprekend lyk dat dienaars dien, maar die ironie is dat dit nog nooit regtig konsekwent en voluit gebeur het nie. Hoe ontrou en belangeloos is sy dienaars nie al vir eeue nie: die volk Israel, die kerk.  Wat ‘n heerlike ervaring vir God om na uit te sien, dat ons Hom uiteindelik sonder voorbehoud en traagheid sal dien soos dit altyd gehoort het maar nooit gebeur het nie. Nogeens die onbegryplikheid van die sonde! (40) En hoe heerlik sal dit nie vir sy diensknegte wees nie: om uiteindelik sy kinders te wees sonder slegte gewetens, sonder om elke keer te moet vra om vergifnis van ons sonde en om meer liefde vir Hom.

  1.  Ons sal saam met Hom regeer

Maar ons sal ook saam met Hom as konings regeer (Open 5:10; 19:4,6; 22:5). Dit bring opnuut ‘n besondere trek van ons toekomstige lewe saam met Hom na vore: die nabyheid tussen God en sy kinders. Daar loop ‘n lyn deur die Bybel: ons is as sy beeld geskep, dus naby Hom, iets soos Hy, in staat om iets van sy lewe in ons lewe te reflekteer. Verder word daar deurgaans in mensvormige terme oor Hom gepraat, en as Hy Homself ten volle wil openbaar, word Hy ‘n mens, en uiteindelik gee Hy ons deur die doop en die geloof deel aan Jesus se opstandingslewe, daarom moet (en kán) ons aan Hom gelyk wees en selfs noual volmaak wees soos Hy! En uiteindelik lees ons dat ons sal `deel kry aan die goddelike natuur’! (2Pet 1:4) Ons kry werklik deel aan die lewe van God!

Dit beteken nie dat ons sal ophou om mense te wees en Gode sal word nie. Daar staan nog altyd dat ons as sy dienaars Hom sal dien. Ons bly minder as Hy. Ons bly mense terwyl net Hy die ware God is. Die beeld kan nooit die werklikheid word nie. Maar die beeld gee iets weer van dit wat afgebeeld moet word.

So bereik God dan op die ou end tog sy doel: om ons God te wees wat vir ons verantwoordelikheid neem (wat Hy altyd was), en dat ons as sy volk Hom alleen sal dien, liefhê, prys en eer. Hy doen dit terwyl Hy getrou bly aan sy skeppingsdoel: ons bly mense – nuutgemaakte en verheerlikte mense; die aarde bly ons woonplek -‘n nuutgemaakte en verheerlikte aarde.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König