Geloofsvrae: Die gawes van die Gees

Geloofsvrae: Die gawes van die Gees – Adrio König

Die gawes van die Gees

Die gawes van die Gees is nie opsioneel nie. Dit is nie so dat sekere kerke straffeloos kan kies om sonder die gawes en net met die vrug te werk nie, net so min as wat Korinte straffeloos kon kies om net met die gawes sonder die vrug te werk! Die gawes of die charismatiese struktuur van die kerk is die normale manier waarop God die kerk wil laat werk.

Dit gemeente van Korinte was nie ‘n uitsonderlike gemeente omdat daar gawes voorgekom het nie. Hulle was wel uitsonderlik in die sin dat die gawes onenigheid en verdeeldheid veroorsaak het. Paulus suggereer dan ook nie vir ‘n oomblik dat hulle miskien moet oorweeg om die gawes te los en liewer net met die vrug aan te gaan nie. Inteendeel, hy put hom uit om hulle te help om die gawes reg toe te pas sodat die gemeente die volle waarde uit die gawes kan kry (1Kor 12-14). Dit is ook opvallend dat hy nie in die tweede Korintiërbrief op hierdie saak terugkom nie. Skynbaar het hulle dit reggekry om die probleem op te los.

 

Die gawes vind aansluiting by die wonderwerke van Jesus en die opstanding van die liggaam, en is deel van die apokaliptiese wêreldbeeld. Dit verteenwoordig die bonatuurlike wyse waarop God in die wêreld werk. Daarom moet die gawes nie `onskuldig’ voorgestel word deurdat aan die sogenaamde `gewone’ gawes voorkeur gegee word nie (soos onderrig gee, bemoedig, leiding gee, help – Rom 12 – en wysheid, kennis, geloof – 1Kor 12). Dit gaan in die gawes van die Gees om buitengewone gawes, nie om `talente’ wat mense van nature het en dan in kerklike diens gebruik nie.

Die buitengewone aard van die gawes herinner ons daaraan dat ons nie die Gees moet `vergeestelik’ nie. Ons moet nie die werk van die Gees beperk tot sy vrug nie, hoe wonderlik dit ookal is, omdat dit in ‘n sekere sin inwendig en onsigbaar is, en net die uitwerking daarvan sigbaar is in ons lewe (nederigheid, vriendelikheid, geduld). Die gawes is opsienbarende werkinge van die Gees wat net soos die wonderwerke van Jesus aandag trek en mense laat saamstroom.

Andersyds is dit net so belangrik om te onthou dat die lyste gawes in die NT oop lyste is wat verander van situasie tot situasie (Rom 12:6-8; 1Kor 12:8-10,27-30; Ef 4:11; 1Pet 4:10-11). Die eis dat presies al daardie gawes net so in elke situasie moet voorkom, is ‘n miskenning van die doel wat die Gees met die gawes het: om in die lig van die behoeftes van ‘n bepaalde gemeente juis dié gawes te gee wat daar nodig is (1Kor 12:7,11). Dit moet in ons lewe en strewe uiteindelik nie om die gawes gaan nie, maar om die Een wat die gemeente wil bou.

Die belang van die gawes blyk uit die funksie wat dit het. Elke lidmaat kry ‘n gawe … om die ander lidmate daarmee te bedien. Die gawes is dus tot onderlinge opbouing. Die Gees weet watter gawes in ‘n bepaalde gemeente nodig is, en hierdie gawes gee Hy aan die lidmate. Hoe sal ‘n gemeente dan sonder dié gawes kan funksioneer? Hoe gaan hulle behoeftes ondervang word?

Die hele punt van die gawes is dat hulle die gemeentelede onderling aan mekaar verbind. Ons het mekaar nodig omdat die een ‘n gawe het waaraan die ander behoefte het. Net soos die vrug, staan die gawes ook in diens van die eenheid as God se skeppingsdoel wat Christus aan die kruis bewerk het en waaraan die Gees nou in die gemeente se lewe gestalte gee.

Dit is dan ook ‘n goeie vraag of dit reg is om so eensydig van die gawes van die Gees te praat. Skynbaar bedoel Paulus dit nie so nie. Hy verbind die gawes doelbewus aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees (1Kor 12:4-6). Verder is dit juis die liggaam van Christus wat as beeld gebruik word om ons te help om die werking van die gawes te verstaan. Sowel in Rom 12:3-8 as in Ef 4:7-16 word die genadegawes nie aan die Gees verbind nie, maar aan Christus. Ons staan dus weer voor die `ineengevlegdheid’ van Christus en die Gees. Dit kan ook nie anders nie want die Gees is die Gees van Christus, en Christus is deur die Gees op aarde werksaam.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied. Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adrio König