Geloofsvrae: Die Gees as eskatologiese gawe

Geloofsvrae: Die Gees as eskatologiese gawe – Adrio König

Die Gees as eskatologiese gawe

In hierdie lig is dit nie vreemd dat die skrywers van die NT beklemtoon dat die Gees, net soos Jesus, in die laaste dae gekom het nie. Immers Jesus Christus is self die einde en die einddoel van al God se werke. Hy is in die laaste dae gebore en sy opstanding is die begin van die algemene opstanding aan die einde. Die Gees wat direk met Hom en sy werk in verband staan, is dus self ‘n eskatologiese (eindtydelike) gawe.

Die feit dat óók die Gees in die laaste dae gekom het, word op ‘n opvallende manier beklemtooin in Petrus se preek op die Pinksterdag. Sy teks kom uit Joël wat profeteer dat die Here sy Gees op ‘n besondere wyse sal stuur (2:28). Maar Petrus maak ‘n toevoeging tot die teks: In die laaste dae sal God sy Gees stuur (Hand 2:17). Hy beklemtoon dit dus dat die Gees, netsoos Jesus self, in die laaste dae gekom het.

Dit word bevestig deur twee begrippe wat Paulus vir die Gees gebruik: waarborg en eerste gawe.

Die Gees word drie keer ons waarborg genoem. Ons lees dat God `die Heilige Gees in ons harte gegee het as waarborg van wat ons nog sal ontvang,’ en `die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het’ (2Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14).

Ons ken die betekenis van waarborg goed genoeg. Dit maak die transaksie vas en seker. Maar wat ons gewoonlik nie weet nie, is dat waarborg in die ou tyd selfs meer beteken het. Vandag verloor ‘n mens net die waarborg (deposito) wat jy gegee het as jy nie met die transaksie voortgaan nie, maar in daardie tyd was jy deur die wet verplig om die transaksie af te handel. Deur ‘n waarborg te gee, het jy jouself dus gebind om die hele koopsom te betaal. Merkwaardig! Deur aan ons die Gees te gee, het God Homself verbind om ons die volle erfenis te gee wat Hy aan ons beloof het.

Maar daar is nog meer op die spel. Die Gees is ook God se eerste gawe aan ons (Rom 8:23). Die OAV en baie ander ou vertalings vertaal met `die eerste gawe van die Gees’ wat ‘n mens verkeerdelik kan verstaan asof ons nog net ‘n bietjie van die Gees ontvang het. Die betekenis is dat die Gees die eerste gawe is van die volle oes. Die agtergrond lê in die OT.

Skynbaar was daar twee offers wat albei `die eerste gawe’ genoem is: die offer wat die Israeliet moes bring wanneer die oes ryp op die land gestaan het, dus aan die begin van die oes, en die offer aan die einde wanneer die oes ingesamel is (o.a. Eks 23:16,19; 34:22,26; Lev 2:12-14; 23:10-20). Dit is selfs moontlik dat die een op die Joodse Paasfees, en die ander een op die Joodse Pinksterfees gebring moes word.

In hierdie lig is dit nie vreemd dat Jesus self ook die eerste gawe genoem word nie (NAV: `eersteling’ 1Kor 15:20-23). Is Hy dan nie op die Paasfees geoffer, en die Gees op die Pinksterfees uitgestort nie? Die eerste offer is gebring wanneer die oes ryp was op die land, en die laaste offer wanneer die oes klaar ingesamel is. Jesus sê dus die oes is gereed, en die Gees sê die oes is ingesamel en word veilig in die hemel bewaar (1Pet 1:4) sodat ons dit op die bestemde tyd sal ontvang.

Die Gees as eerste gawe sê dus: die oes is ingesamel, die heil is gereed, God se doel is bereik, begin dit solank geniet: die vrede wat Christus vir julle by God en onder mekaar verwerf het. Dit is eenvoudig ‘n ander manier om te sê dat God se doel wat Christus vir ons bereik het, nou deur die Gees in ons bereik word, op pad na die dag wanneer Christus dit by sy wederkoms ook met ons sal bereik (61).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König