Geloofsvrae: Die Heil

Geloofsvrae: Die Heil – Adrio König

Die Heil

Ons maak nie dikwels die onderskeid wat in die opskrif van die hoofstuk voorkom nie: heil én heilsweg. Die manier waarop ‘n mens salig word of in die heil deel (die weg tot saligheid), is dikwels ter sprake, maar die saligheid of die heil self, selde. Ons het altyd in die katkisasieboeke ‘n hoofstuk gehad oor die heilsorde, maar nie oor die heil self nie. Wat is die saligheid (heil) waaroor dit in die evangelie gaan?

Dit is opvallend dat ons dit selde ter sprake bring. Die meeste mense sal waarskynlik sê die heil/saligheid is `om eendag in die hemel te wees.’ Die vraag wat evangeliese Christene gewoonlik vra, is: `Waar gaan jy heen as jy vannag doodgaan?’ Die antwoord wat hulle wil hoor, is: `Hemel toe.’ Trouens die vraag sou heelwaarskynlik gelui het: `Waar gaan jou siel heen?’

Sou ons oor die heil regtig net kon sê dit is dat ons (siel) hemel toe gaan? Niks meer nie? Wat word dan uiteindelik van die aarde? Vernietig God dit maar net? En was al sy moeite daarmee vir soveel eeue lank, dan die moeite werd?

Wat is heil? Dit is die omvattende vrede en harmonie waarin God met die mense op aarde wil leef. Hy het die aarde gemaak om hier in gemeenskap met mense te leef. Hy wil hulle liefhê en vir hulle sorg, en hulle moet Hom gehoorsaam in liefde dien. Dit is die skeppingsdoel van God.

Een van die bekende Joodse teoloë het die Christene beskuldig van verraad teen die aarde. Baie Christene het net ‘n hemelverlange. Waarom het God dan op aarde met ons begin? En waarom eindig die Bybel met die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde?

Ons hemelverlange is deel van ‘n ou Griekse erfenis waarna al meer kere verwys is. Sommige Griekse filosowe het gemeen die werklikheid bestaan uit twee dele wat nie regtig goed by mekaar pas nie: die sigbare en die onsigbare dinge, die tydelike en die ewige dinge, die stoflike dinge (materie) en die geestelike dinge, die liggaam en die siel.  Jare lank het ons gesing van die aarde wat min waarde het, wat net ‘n tranedal is waar ons `’n gestadige dood’ sterf. Dit is byna vanselfsprekend dat ons dan ‘n hemelverlange sal ontwikkel. Dáár is die ewige, onsigbare geestelike dinge. Dáár is die dinge van die siel. Dáár sal ‘n liggaam net in die pad wees. Dit is in elk geval te lomp vir die geestelike, onsigbare werklikheid.

Die Bybel ken egter nie hierdie `verraad teen die aarde’ nie. Die Bybel is in die volste sin van die woord ‘n boek oor die aarde. Waar hemel én aarde ter sprake is, oorheers die belangstelling in die aarde heeltemal (Gen 1 en Open 21-22). Dit is ook nie vreemd nie. Lees ons dan nie iewers: `Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” nie? (Ps 115:16) Dit is waarom heil in die OT aardse heil is, heil in hierdie lewe op aarde. As die volk aan die Here gehoorsaam is en Hom in liefde dien, sal die Here hulle seën en gelukkig maak. Hulle sal goeie oeste hê, vry van vyande wees, en die teenwoordigheid van die Here in die tempel kan geniet. Dit is heil. As ‘n Israeliet onder sulke omstandighede oud geword het, het hy of sy tevrede gesterwe omdat hulle lank genoeg die gemeenskap met God geniet het. Daar is nie in die OT ‘n hemelverlange nie. Die `lewe na die dood’ was ‘n weersinwekkende skadubestaan omdat gelowiges dan nie meer in gemeenskap met God geleef het nie. Die heil moes hulle in hierdie lewe op aarde geniet.

Daar was in hierdie verband twee dinge wat gelowige Jode ontstel het. Die een is wanneer hulle jonk moet sterf, en die ander wanneer hulle getrou aan die Here is maar tog swaarkry en ly. Omdat heil voorspoed in die vreugdevolle gemeenskap met God op aarde is, was dit onaanvaarbaar dat gelowiges te gou sterf of op aarde moet swaarkry en ly. Wanneer gaan hulle dan die heil geniet?

Die Psalmdigter sê sy aanhoudende swaarkry was so erg dat sy geloof byna skipbreuk gely het (73:1-2). Hierdie probleem is dan ook nooit regtig in die OT bevredigend hanteer voor die geloof ontstaan het dat daar ‘n opstanding sal wees nie (Dan 12:2). Die geloof in die opstanding het vir die eerste keer die verwagting geskep dat die gelowiges tog ná die dood die heil kan geniet. Al die dooies sal opstaan en voor God verskyn, en Hy sal hulle oordeel. Die wat regverdig was, sal vir ewig gelukkig wees, en die goddeloses sal vir ewig gepynig word. Eers toe hierdie geloof ontwikkel het, kon ‘n gelowige Jood tevrede wees as hy/sy swaarkry of vroeg sterf.

Die geloof dat die dooies sal opstaan, het egter nie die aardse karakter van die heil laat verander nie. Die apokaliptiese verwagting is dat God die aarde van al die ellende sal bevry en dit sal nuutmaak, sodat die regverdiges nog steeds op die aarde sy gemeenskap  sal geniet.

Die NT gee nie hierdie aardsheid van die heil prys nie. Die verband tussen vroomheid en voorspoed word egter nou selfs meer van ‘n probleem omdat die vroeë Christene juis vervolg is omdat hulle aan die Here getrou gebly het. Dit het beteken dat hulle al minder heil-hier-en-nou beleef het, en al meer na die toekoms uitgesien het. Die verwagting dat die wederkoms van Christus naby is, het ‘n uitkoms geword, maar dit het nie beteken dat hulle van die aarde afgesien het nie. Hulle het uitgesien na die nuwe aarde want hulle het geglo dat Christus weer kom om die aarde nuut te maak.

Dit is dan ook opvallend dat daar, benewens belangrike verskille, opvallende ooreenkomste is tussen die begin en die einde van die Bybel, tussen skepping en herskepping, tussen die oorspronklike aarde (Gen 1 en 2) en die nuutgemaakte aarde (Open 21 en 22). Die vredesharmonie tussen God en die mense word in die begin geniet in ‘n tuin met riviere en vrugtebome (‘n idilliese prentjie in Palestina met sy kalkkliprandjies!), en aan die einde in ‘n stad met ‘n groot rivier en vrugtebome wat elke maand vrugte dra. Dit is ‘n pragtige beeld van die doel van God met sy skepping en die heil wat Hy vir ons bewerk.

Hierdie is nie ‘n prysgawe van die hemel is nie, maar eerder die beklemtoning van die trou van God.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König