Geloofsvrae: Die Heilsweg

Geloofsvrae: Die Heilsweg – Adrio König

Die heilsweg

As die heil die vredesharmonie en liefdesgemeenskap tussen God en sy kinders op (die nuwe) aarde is, is die heilsweg die wyse waarop Hy hulle in hierdie heil laat deel. As ons deur ons sonde die gemeenskap met God verloor het, dan is die heilsweg die wyse waarop Hy die gevolge van ons sonde wegneem en die gemeenskap herstel – en trouens selfs nog heerliker maak.

In hierdie sin is die heilsweg die omvattende herstel en verheerliking van die skepping, van die mense en die natuur. God maak alles nuut (Open 21:5), nie net die mens of erger nog net ‘n deel van die mens (die siel) nie. Daarom is redding, heiliging, verheerliking, die vernuwing van die aarde alles deel van die heilsweg. Dit beteken dat alles wat verder in hierdie en die volgende twee hoofstukke bespreek word, saam die heilsweg is of direk met die heilsweg verband hou.

Dit beteken ‘n paar dinge. Allereers is die heilsweg die manier waarop God sy skeppingsdoel bereik, en in daardie sin eskatologie. God het ons geskape om in verbondsgemeenskap met Hom en met mekaar te leef. Ons het deur ons sonde die verbond verbreek. Christus het hierdie vrede vir ons kom herstel, en nou wil Hy ons aktief daarby betrek deur hierdie vrede deur die Gees in ons lewe in te dra, en uiteindelik God se doel ook met ons te bereik by die wederkoms van Christus. So bereik Hy op verskillende maniere sy einddoel. Daarom word hierdie tyd tussen sy hemelvaart en sy wederkoms dikwels in die NT die laaste dae of die einde of die eindtyd genoem.

Dit beteken ook dat die heilsweg baie omvattender is as die redding van die enkeling. Dit gaan om meer as om `siele vir die Lam’ – hoe lofwaardig dié motief ookal is. Dit gaan om mense, met hul wêreld, om die samelewing. Daarom het Jesus mense genees, en nie net hul sondes vergewe nie. Daarom is alles vir Paulus op die spel as die opstanding van die liggaam ontken word. Daarom was die profete altyd in die samelewing geïnteresseerd, nie net in enkelinge se lewens nie.

Die verskil tussen heilsweg en heilsorde is ook belangrik. Daar is ‘n eeuelange verskil oor die vraag wat die regte volgorde is: eers weergeboorte en dan bekering, of eers bekering en dan weergeboorte? Aan die een kant was daar altyd die lofwaardige argument dat God die inisiatief neem. Hy moet dus eerste handel anders kan ons, wat dood is in ons sonde, nooit gered word nie. Dit klink dus byna vanselfsprekend dat God ons eers uit ons sondedood moet lewendig maak (weergeboorte) voordat ons daarop kan reageer (bekering).

Maar is die argument daarmee besleg? Wat van die teenargument: dit is ons skuld as ons verlore gaan en daarom is dit ons verantwoordelikheid om ons te bekeer? Dit moet dus by ons begin.

‘n Mens kan lank oor die verskil redeneer, tot jy die vraag ‘n bietjie uitbrei, en dan skielik besef ‘n verkeerde vraag kan nooit ‘n goeie antwoord kry nie. Dit is ‘n verkeerde vraag om te vra wat eerste kom: weergeboorte of bekering. Ons het in verband met die heilsweg  met ‘n hele aantal begrippe te doen wat onmoontlik elkeen na ‘n afsonderlike ervaring kan verwys wat in ‘n bepaalde volgorde moet gebeur: bekering, geloof, redding, vereniging met Christus, weergeboorte, regverdiging, belydenis van sonde, vergifnis, verlossing, aanneming tot kinders, en noem maar op!

Wat beteken hierdie begrippe dan? Dit is nie verskillende ervaringe nie, maar verskillende beskrywinge van een en dieselfde saak: die manier waarop ons deel in die heil. Om te deel in die heil is so ‘n ryk, veelkantige saak, dat dit inderdaad van verskillende kante af bekyk moet word, en dit is presies wat die reeks woorde doen. Dis soos ‘n eier wat van bo af rond lyk, en van die kant af ovaalvormig.

Regverdiging beteken God verklaar dat Hy met ons tevrede is op grond van iets wat Jesus vir ons in ons plek gedoen het. Geloof beteken ons moet op Jesus vertrou as die Een wat dit in ons plek vir ons gedoen het. Streng genome sou ons dus kon sê ons moet eers glo voor God ons regverdig. Immers Hy regverdig ons deur die geloof.

Andersyds is dit tog ook ‘n sterk argument dat God ons eers uit ons sondedood moet lewendig maak (weergeboorte) voor ons ons kan bekeer. Dus eers God en dan eers ons. Maar as ons op sulke teenstrydighede afkom, moet ons tog besef ons maak iewers ‘n fout.

Wat ons wel kan sê, is dat dit logies eers om God en dan om ons gaan. Om in die heil te deel, is om in ‘n verbondsverhouding met God te staan. Die verbond is van so ‘n aard dat God die inisiatief neem en dat ons daarop moet reageer. Maar ons kan hierdie ryk, geskakeerde verhouding nie opdeel in klein onafhanklike onderdele en dié dan in ‘n volgorde plaas nie. Verhoudings tussen persone werk nie so nie. Dit is wederkerige verhoudinge.

Wat wel uit die aantal begrippe duidelik word, is dat hulle in twee groepe verdeel kan word, een groep wat meer van God se kant af na die heilsweg kyk, en die ander groep meer van ons kant. Regverdiging, vereniging met Christus, weergeboorte, vergifnis, verlossing handel meer oor wat God in ons lewe doen. Elke begrip belig ‘n ander faset van die ryk en opmvattende werk wat God in ons doen om ons weer in die regte verhouding met Hom te kry. Andersyds verwys begrippe soos geloof, belydenis van sonde, bekering weer meer na ons verantwoordelikheid. Ook van ons kant is daar ‘n omvattende verandering wat nie net deur een begrip verduidelik kan word nie.

Dit moet verder ook nie misverstaan word asof elke groep begrippe nét oor een van die bondgenote handel nie. Daar is deurgaans ‘n interaksie van God én mens. Selfs as Jesus oor weergeboorte praat (wat ons graag God se werk noem), eindig Hy met ‘n oproep aan Nikodemus (Joh 3:3ev tot 15ev).

Hierdie begrippe leer ons geweldig baie oor die aard van ons verhouding met God en met mekaar. Daarom is dit oor en oor die moeite werd om kortliks op ‘n aantal van hulle in te gaan. Dit sal ons doen sowel in terme van ons persoonlike verhouding met God as in terme van die verbondsgemeenskap en die samelewing.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer:  Prof Adrio König