Geloofsvrae: Die Kanon

Geloofsvrae: Die Kanon – Adrio König

Die kanon

Die begrip kanon (spreek uit kánon) beteken iets soos maatstaf. Die Bybel word die kanon genoem wanneer ons daarmee bedoel dat dit die finale gesag (maatstaf) vir ons leer en lewe is. Maar die Bybel het natuurlik nie van die begin af in die vorm bestaan waarin ons dit ken nie. Die boeke waaruit die Bybel vandag bestaan, het oor ‘n baie lang tydperk ontstaan en is nie noodwendig van die begin af as gesaghebbend beskou nie.

 

  1. Die Ou Testament

Die Jode het geleidelik bepaalde versamelings van boeke gemaak sodat hulle in die tyd van Jesus gepraat het van die Wet (die Thora, d.i. die eerste vyf boeke), die Profete, en die Geskrifte (laasgenoemde was aanvanklik die Psalms). Daar was egter nie gou eenstemmigheid oor presies watter boeke in die Profete en veral in die Geskrifte ingesluit moes word nie. Sommige het ‘n groter aantal boeke erken as ander. So het die Sadduseers net die Wet erken, terwyl die meeste ander groepe die Septuaginta (die Griekse vertaling van die OT) aanvaar het waarin selfs ‘n hele aantal boeke opgeneem is wat later as die Apokriewe boeke bekend sou staan (o.a. die Psalms van Salomo, die Wysheid van Salomo, Baruch, Judith, die Makkabeërboeke en die Wysheid van Jesus Sirag). Oor ander boeke was daar heelwat verskil (Hooglied, Prediker en Ester).

Die Jode het waarskynlik eers na die val van Jerusalem by Jamnia (98 n.C.) besluit op die presiese omvang van hul Heilige Skrifte. Hulle het om verskillende redes besluit om die korter Ou Testament (die sg Masoretiese teks) te aanvaar en nie die Septuaginta nie, o.a. omdat dit ‘n baie vry vertaling van die Ou Testament was en die Christene dit ruimskoots kon gebruik om aan te toon dat Christus die vervulling van profesieë in die Ou Testament was en ook om die Christelike sending te fundeer.

Anders as die Jode het die vroeë Christene die ruimer versameling (die Septuaginta wat die apokriewe boeke insluit) as hul `Heilige Skrifte’ erken. Die Katolieke doen dit vandag nog, maar die Kerkhervormers het teruggekeer na die korter Joodse Ou Testament wat die Protestante vandag nog het. Dit beteken dat die vroeë Christene in die NT aanhalings uit die Apokriewe boeke gemaak het wat ons nie meer in ons OT het nie (1Kor 2:9; Jak 4:5; Jud 14) – en hulle het hierdie aanhalings op dieselfde manier gedoen as waarop hulle uit die boeke in ons OT aanhaal. Dit is ‘n belangrike saak wat by die gesag van die Skrif weer ons aandag sal vra.

  1. Die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament het oor ‘n baie korter tyd as die OT ontstaan. Die meeste van die boeke is ongeveer teen die middel van die eerste eeu oor ‘n tydperk van omtrent 20 jaar geskryf. Daar is taamlik gou begin om versamelings te maak en teen die middel van die tweede eeu het die vier evangelies alreeds as ‘n versameling bestaan. Die kerk is gedwing tot ‘n duideliker beslissing omdat Marcion in hierdie tyd op ‘n erg gereduseerde kanon besluit het wat net sou bestaan uit die geskrifte van Lukas en sekere briewe van Paulus. Die beginsel wat taamlik algemeen aanvaar is, is dat die geskrifte van die apostels en hul direkte volgelinge as kanoniek (gesaghebbend) erken sou word. Vir ‘n tyd lank was daar nog onsekerheid oor o.a. Hebreërs, Judas, 2 Petrus, Openbaring, Barnabas, 1 Klemens en die Herder van Hermas. In die jaar 367 het Atanasius in een van sy Paasbriewe ‘n lys ingesluit van die 27 boeke wat uiteindelik as kanon erken is.

  1. Presies die regte boeke in die Bybel?

Die uiters moeilike vraag in dié verband is altyd hoe ons weet dat dit nou juis net hierdie boeke is wat as gesaghebbend erken moet word. Hoort hulle almal regtig in die Bybel? Wat van byvoorbeeld Jakobus wat deur Luther ‘n strooibrief genoem is? En is daar nie ander boeke wat ingesluit moes gewees het nie? Ons weet byvoorbeeld van nog ‘n brief van Paulus aan die Korintiërs, en een aan die Laodisense (Kol 4:16). Sê nou dié word môre opgegrawe?

Die tradisionele beroep op die voorsienigheid van God lui dat Hy gesorg het dat hierdie, en net hierdie, boeke in die Bybel opgeneem is omdat hulle, en net hulle, deur die Gees geïnspireer is en van die begin af bedoel en beplan is om die Bybel te vorm. Dit is ‘n baie gerusstellende argument, maar dit maak ‘n baie insidentele gebruik van die voorsienigheid van God. Dat God in die lewe van die kerk voorsien, erken alle Christene. Maar ons weet ook dat ondanks sy wonderlike voorsiening die kerk baie foute maak. Daarom is ‘n deel van sy voorsiening soms juis om te verhoed dat die foute wat ons maak, te vernietigend uitwerk. Om nou ten opsigte van een enkele saak, die samestelling van die Bybel, te aanvaar dat Hy die kerk onfeilbaar gelei het, is onoortuigend, hoe gerusstellend dit ookal sou wees.

Dit is beter om te aanvaar dat die Gees die kerk gelei het om die evangelie te verstaan en dus ook om geleidelik dié boeke te aanvaar waarin hulle die evangelie die suiwerste gehoor het. Daar was inderdaad ook sekere maatstawwe wat die vroeë kerk gebruik het om tussen boeke te onderskei. Die een was dat dit deur ‘n apostel of die direkte volgeling van ‘n apostel geskryf moes wees. Die tweede was dat dit moet ooreenstem met die geskrifte wat klaar erkenning geniet het. En die derde was dat die inhoud relevant vir die hele kerk moes wees, en nie net op ‘n lokale situasie betrekking moes hê nie.

Of dit uiteindelik presies hierdie 27 boeke moes wees, en of ‘n paar dalk weggelaat kon gewees het en ‘n paar ander bygevoeg, maak nie regtig veel verskil nie. Watter wesenlike faset van die evangelie sou ons byvoorbeeld moes ontbeer as die brief van Judas nie in die Bybel was nie? Die evangelie het duidelike rigtingwysers soos die woorde en dade van Jesus en sy kruis en opstanding wat in elk geval die hart van die evangelie sou bly, met of sonder ‘n paar ekstra boeke.

Ook wat die Ou Testament betref, sou ‘n mens kon sê dat dit nie noodwendig om presies net hierdie boeke gaan nie. Die feit dat die kerk vir meer as duisend jaar die ruimer Ou Testament gebruik het wat die apokriewe boeke insluit, en dat hulle hierin die apostels en skrywers van die Nuwe Testament gevolg het, sê tog seker dat dit nie soveel verskil maak presies watter boeke in- of uitgesluit is nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König