Geloofsvrae: Die leë graf

Geloofsvrae: Die leë graf – Adrio König

Die leë graf

Mense wat die leë graf ontken, ontken nie noodwendig die opstanding van Christus nie. Hulle kan nog altyd aanvaar dat Hy in ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het wat nie die voortsetting van sy gestorwe liggaam is nie, maar ‘n nuwe skepping van God.

Daar is ‘n paar redes waarom mense huiwer oor die gedagte dat Jesus se graf na sy opstanding regtig leeg was.

Allereers is daar groot verskille tussen die verhale oor die leë graf (Mat 28:1-10; Mark 16:1-8; Luk 24: 1-12; Joh 20:1-18). Die verskille is so groot dat dit waarskynlik nie moontlik is om hulle in harmonie te bring en een samehangende verhaal daaruit op te stel nie. Dit is egter bekend dat die Evangelies oor ander sake ook verskil, maar die verskille is dikwels juis getuienis ten gunste van die historisiteit van die verhale.

‘n Sterker argument is dat Jesus se opstanding nie beteken het dat Hy maar net weer lewendig geword het nie. Hy het deur die dood heengegaan, Hy het die dood oorwin, Hy het in ‘n ander, nuwe, verheerlikte lewe opgestaan wat nie noodwendig ‘n kontinuering van sy ou lewe is nie. Die vergelyking wat Paulus tref tussen die gestorwe liggaam van Christus en sy opstandingsliggaam, is eintlik ‘n skerp kontras, so skerp dat hy selfs kan sê `die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie’, en `’n natuurlike liggaam word gesaai, en ‘n geestelike liggaam word opgewek’ (1Kor 15:50, vgl verse 42-49). Dit kan dus beskou word as ‘n vermenging van twee kontrasterende sfere om te dink die `natuurlike’ liggaam kan aan die heerlikheid deel kry, dus dat Jesus in sy fisiese liggaam opgestaan het.

Dit is nie ‘n slegte argument nie, maar dis te `Grieks’ en te min `Joods.’ Dit gaan te sterk van die veronderstelling uit dat die persoon losgemaak kan word van die liggaam. Immers almal sal saamstem dat dit dieselfde persoon is wat opgewek word. God het nie ‘n ander, nuwe persoon geskep en Hom toe ook Jesus genoem nie. Die OT dink te sterk aan die hele mens as begrippe soos liggaam of siel ter sprake is. Dit is in terme van die OT se mensbeeld nie moontlik om te aanvaar dat ‘n mens opgestaan het as sy of haar liggaam nog in die graf is nie. Net die `Grieke’ kan só dink.

As Paulus die opstandingsliggaam bespreek, is hy nie besig om ‘n `onderdeel’ van die mens te bespreek, maar niks oor die ander dele te sê nie. Soos in Rom 12:2 verwys die liggaam na die hele mens vanuit ‘n bepaalde perspektief. As dit nie waar was nie, kon hy nie gesê het die hele evangelie is op die spel as die liggaam nie opgewek is nie. Dan sou dit wel jammer gewees het as ‘n mens sonder een van jou `dele,’ jou liggaam, die heerlikheid moes ingaan, maar dan was die belangrikste `deel,’ die siel, tog in elk geval gered en die belangrikste deel van die evangelie tog behou (dis nou as ‘n mens die evangelie `Grieks’ wil verstaan). Maar in terme van die OT se mensbeskouing het Jesus nie opgestaan as sy liggaam nog in die graf was nie. Daarom is dit teologies onaanvaarbaar om die leë graf te ontken.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König